Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Usain Bolt
Alles, altyd, vir da fahns!

Saterdag, 10:00. Table Bay Hotel, V&A Waterfront, Kaapstad. Afwagting. Die kameras, ’n klein kudde, is gefokus op die stoel waarop Usain Bolt gaan sit. Joernaliste bondel saam by die deur waar hy gaan inkom. Bottels G.H. Mumm-sjampanje staan uitgestal in perspeksbokse. Een van die lyfwagte praat in sy mou, sy oë op ons.

Dis Usain Bolt se eerste besoek aan Suid-Afrika, maar nie sy laaste nie, sê hy. Foto: Edrea du toit

Die mediakonferensie gaan begin.

En dan kom die superster koelweg met sy entourage die trappe opgemarsjeer. Hy gee so ’n halwe knik en ’n “bonjour” en die kameras flits.

Hy lyk skraler as wat jy verwag het, sien jy toe hy verbystap, in ’n grys broek en spierwit hemp, en sy blits­bene dan onder die tafel invou.

“Usain, dink jy jy kan ’n resiesperd wen op ’n kort afstand?” vra ’n Franse joernalis en almal bars uit van die lag.

“Ek sal dalk die eerste 25 m by ’n perd kan hou, maar daarna weet ek nie,” glimlag hy spierwit.

Die Bolt is hoof-vermaakbeampte van Mumm, en dit is wat ons vandag moet verwag: vermaak! So, oppas! roep hy uitgelate en gooi sy handelsmerk-bliksemstraal onder kameraflitse en dit is ’n gejuig en almal eet uit die Jamaikaan se hand.

“Jul energie is goed, die Mzansi-
­vibe
doen dit vir my,” streel Bolt verder. By ’n deurnagpartytjie gisteraand in ’n klub in die Bo-Kaap, vertel hy, het hy ’n klomp nuwe danse geleer soos die gevaarlike vosho.

Dan staan ’n meisie nader met ’n swaard en ’n bottel sjampanje. Die eer kom Usain toe vir die “ikoniese Mumm-sabrage”.

Pressure!” sê Usain, mik-mik met die swaard en dan doen hy dit heeltemal verkeerd. Die bottel ontplof in sy hand, jy sien net glasskerwe spat.

Daar’t die wêreld se vinnigste man ook ’n bottel bubbly die heel vinnigste leeggemaak, sê my kollega Leon Bonthuys van Son.

Laasnag net twee uur slaap. Vanaand lê voor. En tussenin die Met-perdewedren. Dis harde werk om Bolt op te pas.

Almal bars uit van die lag en Bolt lyk skoon verleë. Sal ons weer probeer, sê hy, gooi sy bliksemstraal, vee die sjampanje met ’n servet van sy hande, vat ’n volgende bottel, konsentreer ’n oomblik en sabrage hom seepglad. Almal klap hande.

Dan is die fotonemery uiteindelik verby. Vyf van ons tou agter hom aan vir die een-tot-een-onderhoude.

Vroue gooi hulle voor hom neer, hoor ek die een sê. Onthou julle daai selfie wat die Brasiliaanse girl geneem het terwyl hy in haar arms geslaap het ná ’n bedmarathon?

Dis ’n geskinder en ’n gegiggel agter Usain aan wat met lang treë deur die hotelfoyer seil. Ons word verby die rooi fluweeltou begelei tot in die volgende hysbak. Strictly nét hotelgaste.

’n Sesde ou spring saam met ons in die hysbak. En wie’s jy? vra die kort, kwaai mediabeampte. Vat jy ’n kans? Waar’s jou akkreditasie? Die ou um nog, toe’t die lyfwag hom in ’n hysbak terug grondverdieping toe.

In die gang voor Usain se kamer moet ons mooi netjies in ’n ry gaan staan en tjoepstil ons beurt afwag. Elkeen kry vyf minute saam met Usain. Dis hoe lank dit hom vat om 30 keer 100 meter te hardloop. Die spanning laai op. Almal kyk verwoed na hul uitgewerkte vrae. Wat’s die WiFi-kode? vra nr. 3 in die ry, hierdie goue oomblik moet sosiale media toe.

Twee blokke van lyfwagte staan voor Usain se deur en hulle kyk vir ons, en ons kyk vir húlle. Fris arms gevou. 140 kg, antwoord die een toe ek hom vra hoeveel hy weeg. Die ander vleisblok? 119 kg en ook ’n sesvoetvier. Maar lightweight, huh, sê Rambo vir Rocky.

Hierdie dude daarbinne, sê Rambo, hy kan páártie. Jissou. Kyk hoe rooi is sy oë. Laasnag net twee uur slaap ingekry. En vanaand lê voor. En tussenin nog die Met-perdewedren ook. Dis harde werk om Bolt op te pas.

Dan wink die PR. My beurt. Sjoe. Wat vra ’n mens in vyf minute? Dit voel soos in ’n wegspringblok. Ready . . . go!

Usain vat eers ’n vinnige sluk sjampanje. Kyk my so bietjie ordentlik-verveeld aan. Nóg ’n onderhoud. Dalk help die Mumm.

“Tannie Ans is baaaie gaaf, maar ­baaaaie streng,” grinnik hy toe ek hom vra oor Wayde van Niekerk se Vrystaatse gryskop-afrigter wat vir Wayde in Jamaika, op Usain se uitnodiging, gaan voorberei het vir die Rio-Spele.

“Tannie Ans is ’n harde afrigter. Sy is vreeslik gaaf met my, maar sy druk vir Wayde dat hy hop. Ek kyk altyd so vir hulle en dan lag ek my slap!”

Dis dáái ding van afrigters, grinnik hy vrolik. “My afrigter is nou weer baie gaaf met Wayde, hy maak lekker mooipraatjies met hom, maar met mý? Streng! Nes tannie Ans!”

En as hý Wayde se afrigter was, sou hy hom toegelaat het om ’n rugbywedstryd te speel – wetende ’n besering kan sy loopbaan opdons?

Liggies trap, wys sy gesig vir ’n oomblik voordat hy antwoord.

“A . . . dit was vir liefdadigheid, so, dis moeilik om te sê moenie dit doen nie. Maar ek het gehoor die wedstryd was nie ’n kontak-ding nie, so ek weet nie wat gebeur het nie.”

Hy leun vorentoe, skielik buite die formaat van sy formule-antwoorde.

“Ek het een ding in die lewe geleer: Alles gebeur met ’n doel. Jy moet net mooi uitpluis wát jy daaruit moet leer. Mense dink seker dit was ’n simpel besluit van Wayde, maar dalk het dit ’n positiewe invloed later in sy loopbaan.”

En dis nou nogal weird om te sê, grinnik hierdie superster, maar Wayde se besering het op ’n goeie tyd gekom. “Dis nie ’n groot atletiekjaar nie, hy het tyd om te herstel voordat hy terugkeer baan toe.”

Maar in ’n wêreld waar millisekondes goeie atlete van supersterre onderskei – is Wayde goed genoeg om so ’n besering te kan oorkom?

“Hy is ver beter as die ander, geen kwessie daaroor nie. So, ja, ek dink so.”

Jy wou nog altyd hê Wayde moet jou opvolg?

“Ek het vir hom gesê: Luister, dude, jy gáán! As jy so aangaan, word jy een van die greats. En, hahaha, hy druk mos heeltyd daai ding om ’n naelloper te word! Maar néé, Wayde en 100 m, néé,” lag hy wyd.

“Ons sal maar sien wat gebeur,” skud hy kop met ’n kyk wat sê droom-maar-lekker-Wayde.

Wat het met hóm gebeur wat sy lewe vir altyd verander het?

Met my? Sy stem is tussen sjokolade en sigaarrook. “Die keer toe ek te vroeg weggespring het. Ek het nooit gedink dit sal met my gebeur nie. Nóóit. Maar wragtig, in 2011, in een van die maklikste naellope, het ek voor die skoot weggespring. Ek is net bly dit het eerder in die Wêreldkampioenskap-byeenkoms gebeur as op die Olimpiese Spele. Ek kyk nou só daarna: Dis ’n les, Usain, maar moenie dat dit óóit weer gebeur nie! En ek het daarvan seker gemaak.”

Hoekom is dit so lekker om so belaglik vinnig te wees? Hoekom het dit vir hom tot aan die einde so lékker gebly?

Just the fans, man, kom sy antwoord verbaas. The fans give me the energy.

“Da fahns,” spreek hy dit uit.

“Dis die ongelooflikste gevoel om in die stadion op die baan uit te stap en daai energie te voel. Da fahns sien jou en almal gaan whoaaaa! Die energie is briljant!”

Laasjaar, by die Wêreldkampioenskap-byeenkoms in Londen, het Bolt vooraf gesê hy wil op ’n hoogtepunt uittree ná hierdie ongelooflike, uitbundige tien jaar wat hom die beroemdste atleet nog gemaak het.

Maar toe, met die 100 m, moes almal met afgryse toekyk hoe Usain, altyd stadig uit die blokke, dié keer nog stadiger, sy loopbaan eindig met ’n bronsmedalje. Met die omstrede doper Justin Gatlin boonop in die eerste plek.

Usain het verdwaas gelyk, asof hy dit self nie kon glo nie. Hy het hom onttrek aan die 200 m en beseer geraak in die 4x100 m. Dit was die einde.

Dit wás ’n skok?

“Nee, nie eintlik nie. My dokter het voor die tyd gesê jy-weet-wat, jy is nie op jou beste nie, jy gaan waarskynlik ’n besering opdoen.

“Maar ek het da fahns belowe! Ek wou uittree ná die Olimpiese Spele, maar toe sê my fahns nee, gee ons nog een jaar. En ek het, met ’n paar oppe en affe, maar ek kla nie, solank ek my beste gee, is dit goed genoeg vir my.”

Hy kyk my vas aan. “Dis altyd góéd genoeg vir my.”

En lag dit dan weg. “Die grote Mohammad Ali het ook ná ’n verloorslag uitgetree, en ek is een van sy grootste aanhangers!”

Nog net een vraag, waai die PR stywelip die vlaggie.

Wat maak dit als die moeite werd?

Hy dink nie eens nie, die antwoord lê oor sy gesig: “Die energie wat mense my gee. Selfs by my huis in Jamaika oh ma gawd die mense, jy is so great, Usain, jy het ons geïnspireer. Op Instagram, Facebook, oraloor sê mense ek het hulle geïnspireer om hard te werk, om great te wees.”

Uit enige ander mond sou dit klink soos grootpraat. Maar hierdie dude se oë blink soos ’n seuntjie s’n.

Dan word ek gemarsjeer uit die wentelbaan van Planeet Usain.

Netnou klim hy in die helikopter in sy mooi-moois vir die Met-perdewedren. Vanaand vosho hy weer Mzansi-styl en drink homself Mumm.

Die lewe is ’n eindelose tartanbaan vir gulsige treë.

Meer oor:  Kampioen  |  Atleet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.