Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met krieketheld Vernon Philander
‘Maak pad vir jonges beter’

Die grootste sportwarboel op die planeet wat handel dryf as Krieket SA het bygedra tot sy uittrede, sê Suid-Afrika se boul-legende Vernon Philander.

Nuweland, Vernon Philander se tuisveld, is na aan sy hart. Ná die tweede toets teen die Engelse het hy en sy vrou, Mandy, met hul seuntjie, Hayden, vir oulaas rondom gestap.

“As speler kom jy by die punt waar jy genoeg gehad het. Krieket SA (KSA) se vorige bestuur het net na hulself begin kyk, die spelers was die laastes waaroor hulle geworry het. Té veel dinge het die afgelope tyd skeefgeloop, ek moes besluit wat is vir my die beste pad vorentoe. Toe maak ek ’n kraak.

“Ek is ook al 35, met ’n goeie loopbaan agter my. Maar ek sou dit wel oorweeg het om langer te speel as dit nie was vir die chaos in ons krieketadministrasie nie.”

Spelers soek ’n bestuur wat hul belange op die hart dra, benadruk Philander. “Dit geld vir enige sport, die laaste ding wat behoort te gebeur is dat die spelers negatief beïnvloed word.

“Gelukkig is daar is nou weer geloofwaardigheid in Krieket SA. Hopelik sien ons ’n ommeswaai in die administrasie en op die speelveld.

“Ons moet nou koppe bymekaar sit en besluit in watter rigting ons gaan. Hopelik kan ons vorentoe die pad vir die jonger manne beter maak.”

‘Gelukkig is daar is nou weer geloofwaardigheid.’

Sy ou spanmaats nou aan die stuur, Mark Boucher (hoofafrigter), Graeme Smith (direkteur van krieket) en met Jacques Kallis as kolfkonsultant, het die geloofwaardigheid en jare se toetservaring agter hulle, sê hy. “Dít kan niemand bevraagteken nie. Nou hang dit af van hul bestuurstyl, want as speler benader jy die game heel anders as ’n afrigter. Ons sal nou sien hoe hulle aan bestuurskant aanpas.”

Philander was in 2015 KSA se grootste slagoffer van politieke inmengery toe die Proteas in die middernagtelike ure voor die halfeindstryd in die Wêreldbeker-kriekettoernooi deur ’n SMS van KSA aangesê is om ’n ekstra gekleurde speler in die span te sit.

Haroon Lorgat, destydse krieketbaas, het die afrigter Russell Domingo voor ’n ultimatum gestel: kies Vernon Philander bo Kyle Abbott of Farhaan Behardien bo Rilee Rossouw.

Dit het sy loopbaan ’n groot knou gegee, praat Philander nou vir die eerste keer openlik daaroor. Hy – met sy wêreldgehalte boulwerk, wat sy plek in die nasionale krieketspan deur en deur verdien het – het skielik ’n kwota-etiket gekry.

Vernon blaf saam met die heel grotes

Vernon Philander se loopbaansyfers vergelyk goed met dié van die grootste name in die geskiedenis van toets­krieket. Hy tree uit met die agtste beste boulgemiddelde onder boulers wat 200 of meer toetspaaltjies laat kantel het. Die ander Suid-Afrikaner onder die groot honde is die legendariese Allan Donald. (Sien foto's hier onder.)


20.94 Malcolm Marshall, Windies
20.97 Joel Garner, Windies
20.99 Curtley Ambrose, Windies
21.57 Fred Trueman, Engeland
21.64 Glenn McGrath, Australië
22.25 Allan Donald, SA
22.72 M. Muralitharan, Sri Lanka
Vernon Philander, SA
22.32 Vernon Philander, SA

“Joeg, vir my om nou terug te kyk daarna . . .” sê Philander met ’n sug. “Ek het blatant openlik vir die afrigter gesê die beste speler moet speel. Hy het vir my gesê: Jy is die beste ou vir die dag, jy speel.

“Hulle was duidelik nie openlik en eerlik met my en Kyle nie. Daar het beslis baie goeters agter toe deure gebeur.

“As ek in Durban kom, gaan drink ek en Kyle ’n biertjie. Daar is geen hard feelings tussen ons twee nie. Maar die punt is: Krieket SA moet hul goed uitsorteer. Wat daar gebeur het, het albei van ons ’n bietjie van ’n knock gegee.”

Philander het in 2015 sy laaste wedstryd in eendagkrieket gespeel. Presies, beaam hy.

Onder Ottis Gibson se afrigterskap het dinge vir die Proteas al hoe rampspoediger geword. “Die administrateurs het te betrokke geraak by die spel en die spelers. Dit was ook vir hulle makliker om Ottis te teiken, hy’s ’n buitelander, hulle kon hom voorsê: Doen dit, doen dat.”

‘Dis wat ek vir my seuntjie wil leer: respek.'

’n Speler hoop altyd om sy loopbaan op ’n hoogtepunt af te sluit, gee hy ’n laggie. Maar toe verloor die Proteas nou vir die eerste keer in meer as ’n eeu twee tuisreekse. “Ons is ’n jong span en mens moet dit maar aanvaar. Ek is oor niks spyt nie. Al die onthoue . . . soos my toetsdebuut. Die oomblik toe jy daai groen Protea-pet ontvang het, bly vir altyd by jou.

“Elke keer as jy op die veld uitstap vir jou land, vlieg daar skoenlappers in jou maag rond. Ek sal dit mis. Mens kan die gevoel amper nie beskryf nie, die opgewondenheid elke keer as jy die bal vat, elke keer as jy gaan kolf, jou adrenalien wat pomp, die skare wat jou ekstra motiveer om te presteer. Tjag, dis waarvoor elke sportman leef.”

En die Pro word nie verniet ook die koning van Nuweland genoem nie, die liefde vir sy tuisskare is wedersyds. “Nuweland is vol krieketliefhebbers, jy kom nie daar en hulle klap net vir Suid-Afrika nie, hulle klap vir goeie krieket. En daar, as die crowd begin aanvoel hier’s ’n ding aan die kom, jump hulle agter jou in en maak geraas en die momentum bou op. Jy weet dis daar. Ek gáán dit baie mis,” borrel sy geesdrif sy gewone besadigdheid weg.

Philander het sy krieketpad in ’n klubspan onder Tygerberg oopbaklei, g’n Bishops of King Edwards nie, vir Philander was dit 7de Laan, Ravens­mead, se teerpad, met ’n koeldrankkis vir paaltjies en die Duncan Fearnley-kolf wat ’n omie in die pad af vir hulle gegee het oor hy “sien die mannetjies speel smiddae so”.

“Dit was baie genotsaam, daai middae. Hoe sou ek toe ooit kon dink ek gaan professioneel speel?

“Ek het dit die harde way gehad. Sommige dae sit ek en dink: jis, ek is bly ek moes daai pad so stap. Want jy waardeer wat jy het. Soos die Engelse sê: I take nothing for granted. Daar’s seker vele jong spelers wat van skole soos Rondebosch of Bishops kom, met veel meer talent as wat ek het. En dan sien jy waar hulle opeindig, en jy dink dankie tog ek kon vasbyt.”

’n Outjie van die Flats leer ander vaardighede, Ravensmead High se skoolgrond is ’n ander leerskool. “Jy leer oorleef. Jy vind ’n way. Menige kere sou my lift na ’n wedstryd toe minute voor die tyd platval, dan moet ek vinnig planmaak vir ’n uncle of iemand om te kom help. En ás dinge nie uitwerk nie, traai jy iets anders, jy hou nie op nie, tot dit werk.”

Dis vir hom nou die lekkerste ding om vir die volgende geslag Ravens­mead-laaities ’n klip uit die pad te rol, sê Philander. Die Vernon Philander-stigting is aan die woel in die plaaslike laer- en hoërskool.

“Ons probeer vir hulle ander roetes gee as dié na bendes, dwelms en alkohol. Ek ken die hartseerstories van kinders wat op laerskool al vasgevang is in dwelms. Dis moeilik vir ’n kind om weg te kom as jou hele familie dwelms gebruik. Jy help die outjie wegkom daarvan, en dan gly hy maar weer terug. Ek sê maar vir myself ek kan nie die hele wêreld help nie, maar darem een of twee, en dis klaar iets.”

Daar onder Tygerberg, in die klub, het Vernon se slypwerk begin om die bal elke keer op ’n tiekie te kan neersit, vir 100 balle in ’n ry. “Ure se oefen.”

Om teen Philander te kolf, is soos om teen ’n boulmasjien te kolf, sê ’n slagoffer. Dieselfde bal oor en oor en oor.

“As jy nie spoed het nie, moet jy maar akkuraat wees,” lag hy. “Jy hou hulle maar so verveeld as moontlik, gee hulle so min opsies moontlik om lopies aan te teken. Vir my was dit altyd om die topvier of -vyf uit te kry, dit los jou met ’n tevredenheid.”

Ricky Ponting het erken die moeilikste bouler teen wie hy ooit gespeel het, is Philander op ’n groen kolfblad waar die bal swaai.

“Kompetisie is hoekom jy sport doen,” kom dit macho, droog van die Vern.

Waarin anders is hy só akkuraat? “Ek hoop maar in respek vir ander,” kolf hy liggies terug.

Die woord respek hoor jy baie by hom.

Dis hoe sy ma, Bonny, ’n enkelouer, hom grootgemaak het, en ekstra-kwadraat sy oupa Mitchell. “Met Oupa in die ronde was jy maar altyd bang om saam met die rowwe outjies rond te hang.”

Die kombuistafel was die middelpunt van sy grootword. Die handevat-en-bid, die veilig voel tussen jou mense. Dankbaar vir wat jy het, waardeer wat jy het.

“Dis wat ek vir my seuntjie, Hayden, wil leer: As jy alles om jou respekteer, sal die lewe jou respekteer,” sê hy en sy stem raak growwerig.

Dis dalk dié “respekte” wat Philander nie ’n spiertjie laat trek het vroeër die maand toe Jos Buttler van Engeland hom op Nuweland ’n “f*cking knobhead” genoem het nie.

“Ek het geweet daar is ’n mikrofoon agter my. Hy was dom genoeg om dit nié te weet nie.”

Wat in die Kaap begin het, is in die laaste toets afgehandel toe Philander vir Buttler (sonder mikrofone naby) toegesnou het: “Your game is not good enough, you shouldn’t even be here.”

Hoekom Philander nóú wil loop, terwyl die Proteas hom op hul nodigste het?

“Ek hoor daai vraag baie. Maar ek ís 35,” herhaal hy. En ja, almal sê ook vir hom dit lyk nog nie asof sy talente aan die kwyn is nie, lag hy.

“Daar’s nou ’n jong boulaanval en dit was lekker om saam met ouens soos Dane Paterson en Beuran-hulle te werk. Ek sal graag my hande nog op hulle wil hou en hulle bietjie help motiveer.

“In die suksesspanne soos Australië, Engeland en Indië bly die oudspelers betrokke. Jy leer uit die ou manne se voorbeeld en ervaring. Suid-Afrika verloor ons oudspelers aan ander lande waar hulle afrigting doen, die geld is baie beter.

“Ons moet nou besluit wat is ons bereid om te betaal om oudspelers in die land te hou en seker te maak dat ons krieket weer vorentoe gaan. Ons het nou ’n groter nood daarvoor as ooit tevore.”

En sal hý bly as hulle bereid is om te betaal? Hy bars uit van die lag. “Ek’s op pad Somerset toe.”

Hy het eers sewe jaar ná sy eendagdebuut sy toetsdebuut gemaak. “Ek was seker te groen, hulle het my nooit eintlik gesê hoekom ek uitgelaat was nie. ’n Moeilike pilletjie om te sluk. Maar ek het aan my game gaan werk, en vandag is ek dankbaar, want ek kon my spel ontwikkel. Jy leer jouself soveel beter ken. Baie jong ouens is deesdae oorhaastig om internasionale krieket te begin speel.”

Philander hou nie daarvan as mense hom aan sy skrikwekkend indrukwekkende krieketstatistieke herinner nie. Soos dat hy loshande onder die toptien-boulers in die wêreld is . . .

“Dit gaan nie daaroor nie. Verstaan jy? Ek het kolwers uitgekry. Ek en Morné (Morkel) en Dale (Steyn) het goeie tye gehad, goeies. Ons het baie kolwers slapelose nagte gegee.”

Hy gee ’n lekker “genotsame” laggie.

“Dis genoeg.”

Meer oor:  Vernon Philander  |  Hanlie Retief  |  Krieket
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.