Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met werkers van staal
Dis nou klaar: Bid al wat oorbly

Die einde van Saldanha Staal, deur die oë van ’n staalwerker:

‘Ek het besluit om te praat, want hier oorkant jou sit nie net ek nie, maar 1 500 mense wat direk deur Saldanha Staal se sluiting geraak word.

“Met my eie hande het ek destyds dié terrein skoongemaak sodat Saldanha Staal hier gebou kon word en werk verskaf vir ons kinders. Nou wil hulle dié plek gaan staan en weggooi?” Paulina Mila, ’n gemeenskapswerker op Saldanha, sê dit breek haar hart. Foto: Edrea du Toit

“So, ek waag dit maar, want iemand moet vertel van die ramp wat ons getref het, hoe die Weskus gaan bloei, hoe Saldanha ’n spookdorp gaan word.”

Hy beduie met sy groot growwe hande, sy blou oorpak is ná die skof plek-plek pienk van die ystererts-stof. Alles hier by Saldanha Staal is pienk nadat jy aangery gekom het deur die vaal landskap van die Weskus-somer.

Die onderhoud is op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie, want staalwerkers kan in die moeilikheid kom as hulle met die media praat. “Ons het ’n klousule geteken, en ArcelorMittal was nog net altyd goed vir ons, so ek het gisteraand wakker gelê hieroor, maar kom ons praat.”

Trane kom in sy oë. “Dis ons almal se storie.”

ArcelorMittal verdra ook nie die media naby die aanleg nie. Toe ons buite die hek stilhou en nader stap, is ons deur sekerheidsmense ferm versoek “gaan liewer weg voordat daar moeilikheid kom”.

Maar al doen jy jou werk so goed as jy kan, dit hou nie die aanleg oop nie.

Deur die heining kon ons die aanleg se vlam hoog sien brand. Af en toe gaan ’n sirene gedemp af. Die plek voel verlate, asof die begrafnis klaar beplan is, asof die woorde op 'n bord, Please help us segregate waste correctly, na meer as net skroot verwys.

“Maandag het die grootbaas, Kobus Verster, afgevlieg om vir ons te kom sê dis verby vir Saldanha Staal. Toe ek so om my kyk op die vergadering, het ek net verdwaasde gesigte gesien. Myne seker ook. Dis asof ’n mens dit nie kan glo nie, asof dit nie wil insink nie.

“Dinsdag sê die vakbond-ou vir ons: ‘Mense, die plek maak toe, hóór vir my, daar is nie meer hoop nie.’ Kwit, ’n mens het mos maar altyd hoop tot op die laaste.

“Ek stap vanoggend deur die aanleg en probeer myself indink: oor twee, drie maande is hierdie plek ’n dop. Nou moet jy weet, my verbintenis met dié plek is al langer as 20 jaar, dit was my eerste werk, my enigste werk, my bloed en sweet lê hier.”

Anders as die SAL-mense wat nou die vliegtuie op die grond hou oor hul verhogings nie groot genoeg is nie, het hierdie klomp staalwerkers alles in hul vermoë gedoen om Saldanha Staal te laat werk, verwys hy na die Numsa-staking.

“Jy werk so hard as jy kan, jy probeer jou bes, sorg dat die staal wat jy maak van uitvoergehalte is. Maar ons het nie beheer oor die ertspryse wat verdubbel nie. As hulle nog vir ons gesê het sort jul prosedures uit, maak ’n plan om die aanleg beter te bedryf, sou ons nog kon probeer aangaan. Maar al doen jy jou werk so goed as jy kan, dit maak g? verskil nie, dit hou nie die aanleg oop nie.

“Die regering kan vir die SAL miljarde in ’n put afgooi, hoekom nie ook vir die Weskus wat wél sy kant bring nie?

“Einde Februarie kry ons ons laaste pay checks. Dan is dit klaar. Bid is al wat gaan help.

“Ons wat afgelê word, is die 900 direkte werksgeleenthede, maar dan is daar nog minstens 600 mense wat direk of indirek hierdeur geraak gaan word. Dié 1 500 is ons, die middelklasmense, Saldanha se koopkrag, dis die ou wat sy kar laat diens by sy garage, sy kruideniersware gaan koop by Pick n Pay – koopkrag wat oornag uit die gemeenskap gaan verdwyn.

“Ons gaan die volle impak eers oor ’n paar maande sien. Mense gaan probeer planmaak om voort te gaan met hul ondernemings, maar einde volgende jaar sal jy terugkyk en sê dis die somtotaal van die gemors wat hier gebeur het. Dis ’n ramp. Die Weskus gaan bloei. Niks goeds gaan hieruit kom nie.

“Mense het al klaar navraag gedoen om hul lewensversekering te kanselleer, want dikwels werk die man en sy vrou of pa en seun albei by Saldanha Staal. Hoe betaal jy jou huis met geen inkomste nie?

“Die skeidingspakkette is twee weke vir elke jaar diens, so die ouens wat net ’n jaar of twee hier werk, gaan amper niks kry nie. Kan jy jou indink wat gebeur met die arme mense soos skoonmakers? Jy verdien R3 000 ’n maand, jy is klaar op die broodlyn, maar nou het jy niks. Wat bly oor behalwe misdaad? Dis die harde werklikheid.

“Saldanha Staal was die wêreld se hartklop. Maar dit is nie ’n dorpie waar jy jou werk verloor en uitstap en sommer net gaan aansoek doen vir ander werk nie. Die Weskus is klein.”

Dit sukkel maar met slaap. “Ek en my vrou lê in die bed en wonder wat ons moet kanselleer. DStv, dadelik. Brandstof vir Kersfees by ouma op die plaas, is neusie verby. Kan my vrou haar annuïteit behou? Wat betaal ek af met die pensioen? Ek het meer as 20 jaar oor om te werk, so as ek nou my pensioen uitgee, is Sassa eendag ons voorland. Dis die harde werklikheid.

“Ek moet nou iewers ’n CV gaan uitpluk, iets waaraan ek nooit in my lewe gedink het nie. Iemand op die dorp sê sy sal CV’s verniet doen vir Saldanha Staal se mense. Die hele gemeenskap besef hier kom moeilikheid.

“Die vakbondverteenwoordiger maan ons: Praat net met iemand wat gekwalifiseerd is, wat weet van beleggings, nie tannie Annie se seun wat met een of ander scheme na jou toe kom nie. Want die uitbuiters gaan nou op ons dorpie toesak.”

Dalende staalpryse en stygende erts­koste was ’n dodelike kombinasie vir Saldanha Staal. Nadat ’n groot slikdam by ’n ertsmyn in Januarie in Brasilië gebars het, het ertspryse van $60 ’n ton opgeskiet tot $120. Dit het verliese óók die hoogte laat inskiet.

Eskom se kragrekening is in die somermaande R100 miljoen per maand. Dit styg in die drie wintermaande tot R150 miljoen per maand.

“Wintertariewe, al kos dit hulle nie ’n sent meer om krag op te wek nie. Hulle maak R150 miljoen ekstra in die winter. Daar is by Eskom gepleit: As julle nie jul tariewe verlaag nie, gaan Saldanha Staal vou. Al besparing wat hulle aangebied het, was onbenullig. Transnet het aangebied om nie sy tariewe te verhoog nie, maar dis steeds goedkoper om ’n vrag steenkool op ’n boot van Richardsbaai af Saldanha toe te vervoer. Nou hoe werk dít?

“Die ou Sishen het gesubsidieerde ystererts aan ons gelewer. Toe moet ons ewe skielik begin markprys betaal en dis waar die probleme begin het, want ons moet met dié hoë insetkoste kompeterend bly. Die feit dat ons dit so lank kon regkry, wys jou die gesindheid van ons mense. Ons is nie kwaad vir ArcelorMittal nie, ons is net verskriklik hartseer. Dis tog strategies belangrik om 'n eie staalbedryf in die land te hê.”

As die krag- en vervoertariewe betyds verlaag kon word, was die prentjie vandag anders. “Dis vir my ’n raaisel dat die regering nie vroeër gehelp het nie. Hulle het presies geweet wat hier aangaan, die omvang van ons krisis. Minister Ebrahim Patel sê nou verkoop eerder die aanleg, maar ’n maand gelede was hy om ’n onderhandelingstafel waar hy ’n verskil kon gemaak het.”

Staalwerkers het spesifieke vaardighede wat nie elders in aanvraag is nie. “Ek kan staal maak en dis vir my vrek interessant,” sê hy en energie kruip terug in sy lyf.

“Mense ken staal as ’n harde ding. In die aanleg, by die oonde is dit vloeibaar, rooi, vuurwarm, soos lawa uit ’n vuurspuwende berg. By die oonde berei die ouens die chemiese analise reg voor vir die spesifieke bestelling, dan gaan dit na die gietery en dan word dit solied en gerol in ’n spesifieke dikte. Hierdie plek is my lewe.”

Hy het hier aangekom as ’n plattelandse outjie wat Saterdagaande op Worsie Visser se musiek gesokkie het. Soos al die ander, het hy in ’n klein kamertjie geloseer, en as sy ma hom vra wat hy geëet het, wou hy nie elke keer sê 2 minute noodles nie.

“As jy saam werk op ’n skof, is jy ook saam af, so baie van die ouens raak jou vriende. Af-naweke het ons deurgeskiet Kaap toe, na Ratanga Junction. Of die kuierplekke hier, soos die Watergat wat nou seker van Eben Etzebeth se lys geskrap is. Lékker tye, hegte gemeenskap hier aan die Weskus waar mense nie heinings voor hul huise het nie.

“Die Weskus is ’n rustige plek, jy kan jou kinders grootmaak, ons het goeie skole, ’n ou wil nie graag wegtrek nie.

“Van my kollegas wil probeer werk kry op die oliebore. Dit beteken ’n maand weg, twee weke tuis, iets waaraan die gesinne gewoond sal moet raak.

“Een of twee gaan probeer vir Nieu-Seeland of Australië. Want onthou, dis nie net ons nie, daar is hope ander sulke afleggingsprosesse landwyd. Dit woel nogal met ’n ou se kop, hierdie gevoel van ons is oorbodig, ons vaardighede is oorbodig.

“Saans loop ek in die gang af, verby my kinders wat in hul kamers slaap, en dan raak ek yskoud.

“Wat gaan van ons word?”

Hongerte nou weer op pad na Weskus

Die begin van Saldanha Staal, soos beleef deur die Saldanhabaaier Paulina Mila:

Net ná die demokrasie was Paulina Mila deel van ’n brigade ma’s wat ná die sluiting van drie visfabrieke, toe Saldanha “amper, ámper verander het in ’n spookdorp,” gaan baklei het om vir hul kinders werk aan die Weskus te skep.

Toe daar sprake was van ’n staal-aanleg in die omgewing, het “ons anties hand en tand genegotiate” om dit op Saldanha gevestig te kry.

“Ons is met vier buste hier weg om onse deuntjie te gaan sing by die parlement: We want steel! We want steel! Dit was baie jollie op daai buste, dit het gevoel ons ry Jerusalem toe. Ons was vuurwarm om hierdie projek hier te kry. Nie een het gekla hulle wil gaan eet by Kentucky nie, almal was tevrede met bruinbrood en Kool-Aid.

“Ons het onse plakkate gehad en voor die parlement getoi-toi, determined vir hierdie einste project wat vandag nou net so weggegooi word. Hierdie government wat sê hulle skep werke vir ons kinders, maak nou hierdie groot geleentheid, wat ons sélf gaan soek het, toe.

“Winnie Mandela en Peter Mokaba het destyds ingevlieg hiernatoe, toe het ons weer ge-we-want-steel met hulle hier, in die chopper gery tot op die site en later in ’n lekker restaurant gaan sit en negotiate. Toe kry ons vir Saldanha Staal hier.”

Paulina-hulle het die stuk veld waarop die aanleg gebou is, skoongemaak. Hulle het saam met studente van die Universiteit van Stellenbosch “die flora en fauna netjies uitgehaal en die diere oorgedra na die koppie toe. Dit was ons joppie as vrouens. Hier was skilpaaie, bokkies, de laaste ding, tot ’n slangvanger het kom help.”

Sy het ’n opleidingsentrum help oprig waar plaaslike mense opgelei is om by die aanleg te werk. “My kop was diep in die konstruksiefase.”

En nou is dit haar hartseerste plek, sê sy by die uitkyktoring, haar oë op die aanleg terwyl die Kreefwind, die Novemberwind, speel met haar rokpante.

“Hierdie plek het die hongerte kom wegvat op Saldanha, ons het oorleef deur hierdie plek. Nou kom die hongerte weer.”

Meer oor:  Paulina Mila  |  Kobus Verster  |  Saldanha Staal  |  Werkloosheid  |  Staalwerkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.