Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Werner Wessels
Mooie Demi se geheime wapen
Die skoonheidskoningin en haar geheime wapen. Demi-Leigh Nel-Peters, wat laas naweek gekroon is as Mej. Heelal, is reeds op 17 raakgesien deur haar stilis, Werner Wessels. Hy het toe voorspel sy gaan ’n Mej. Suid-Afrika word.
Die Mej. Suid-Afrika-stilis Werner Wessels het op vier al na skoonheidskompetisies gekyk, maar altyd sy ore toegedruk op die wen-oomblik as die mense begin skree.
Al raad vir die stres is ’n laatnag-borrelbad, want in die twee weke voor die kroningsaand is Werner Wessels se hande afgekap – dan vlieg sy meisies solo en gaan haal die kroon.
Demi-Leigh se groot oomblik – en saam met Werner nadat sy gewen het.Foto: reuters

Midas van die Mooistes.

Maar hy’s nie ’n wonderwerker nie, keer Werner. Al wat hy doen, is om dit wat ’n meisie reeds het, te poets en vir die wêreld te verpak.

Werner en sy ma, die sitkamerbank en beauty pageants het deur die jare ’n instelling geword. Toe die internet kom, het hy geesdriftig deel geword van geselsgroepe wat kompetisies in die fynste detail ontleed.

Op 16 het hy en Melinda Bam (Mej. SA 2011) in die kunsklas gekliek en saam begin rokke teken en titels droom. “Ek het vir haar gesê: Jy gaan eendag Mej. SA word, so ek gaan by jou stick.”

In sy finale jaar by die London International School of Fashion in Gauteng, het Melinda ingeskryf vir Mej. SA. “Nie een van ons twee het geweet wat ons doen nie, maar sy het selfvertroue gehad asof sy wél weet. Toe figure ons dit maar saam uit, gaan doen shopping en dan sit ek die pakkies vir haar bymekaar en sê, kom ons doen dit met ’n rooi lip of so ietsie.”

Met die kompetisie het sy hom saans gebel en dan gee hy raad. “Probeer dit, moenie dít sê nie, hier’s iets wat ek gesien het uit jare se oorsese pageants kyk.”

Die aand toe Melinda wen, was Rolene Strauss in die topvyf. Nadat hy opgehou huil het van blydskap, het Werner oorgemarsjeer Rolene toe en vir haar gesê: Oor twee jaar is jy Mej. SA; bel my, ek gaan jou help.”

En net daar het sy droom begin lipstiek kry. “Jy moet deel wees van hierdie bedryf om te besef: ’n wêreldtitel gebeur nie vir jou elke dag nie. Daar is afrigters met ’n leeftyd in die bedryf wat nooit ’n internasionale wenner kry nie. Maar twéé – dis genade, en ek is so dankbaar daarvoor.”

Sun International gee Mej. SA die keuse aan watter internasionale kompetisie sy wil deelneem.

“Mej. Wêreld is soos Rolene: klassiek en stylvol. Sy is ons Kate Middleton. Rolene was altyd: Néé, die halslyn is te laag, die rok té kort.”

Demi en Melinda? Sy giggel trek hees oor die Atlantiese Oseaan. “Hulle is die teenoorgestelde! Ek sien Melinda altyd van ’n myl af aankom, daar’s altyd iets wat blink.

“Demi is so tussen Rolene en Melinda, nie so out there soos Melinda nie, nie so klassiek soos Rolene nie. Dis hoekom Demi en Melinda werk vir die sexier Mej. Heelal.”

Toe Demi-Leigh 17 was, het Werner haar op ’n mode-fotosessie raakgesien en voorspel sy gaan Mej. SA word.

“Jy sien daardie gesig, en weet . . . hierdie meisie gaan ongelooflik wees. Maar nie almal wat só mooi is, het dit om Mej. SA te word nie. En beslis nie almal het dit om voor miljoene mense perfek op te tree en ’n Mej. Heelal te word nie.”

Wat het haar die wêreld se 91 mooistes laat wen?

“Haar hart, 100%. Wat Rolene, Me­linda en Demi so spesiaal maak, is dat hulle omgee vir ander en nie ’n idee het watter impak hulle maak nie. Die aand voor Rolene se kroning het ek met haar geraas oor sy nog laatnag op was. Toe hoor ek sy het eers Mej. Australië en Mej. Botswana se hare vir hulle gekrul.

“Toe Demi se kamermaat erg begin stres, het Demi ’n middag lank met haar op die bed gesit en handvashou.

“Demi wil altyd weet: Hoe gaan dit met jou, Werrie? Is jy rustig? Nee, Demi, ek lê drie-uur in die nag in die hotelbad met ? seepskuim-baard, want ek stres so ek kry nie geslaap nie!”

In die voorbereiding vir die vraesessies leer hulle nie papegaai-antwoorde nie, hulle bespreek breedweg onderwerpe en hy help hulle om hulself beter uit te druk.

In Demi se laaste spreekbeurt het sy gesê ’n Mej. Heelal is iemand wat haar vrese oorkom het. Vir haar was dit persoonlik, want sy was onlangs in ’n kaping met drie rewolwers teen haar kop.

“Ons het baie gepraat oor ons vrese, en ek dink dis hoekom sy die vraag so mooi kon beantwoord.

“Hierdie is vir my bietjie soos ’n kunswerk. Ek sit alles in my kop bymekaar, daar is nie ’n formule nie, net intuïsie. En dan stal ek dit vir die wêreld uit en sê: Beoordeel dit.

“Dis my verskriklike vrees: Gaan dit goed genoeg wees? Gaan mense steeds lief vir my wees agterna?”

Sy ouers verstaan sy loopbaan glad nie, lag hy, en hy moes al baie hoor: Is dit nie nou tyd vir ’n regte werk nie? “Maar nou’t dit handomkeer verander.”

Nou sit Werner op Times Square en raak sommer tjankerig van dankbaarheid.

“My ouers is pure liefde, en dis hoekom ek so ’n hengse positiewe mens is. Ek het ’n tipiese Afrikaanse mamma, op haar gelukkigste met haar kuikens onder haar dak. Dis vir haar erg met hierdie kind so die wêreld vol. Sy weet nie of ek genoeg eet en of mense met my lelik is nie.

“My pa . . . As ek hartseer is, bel ek nie my ma nie, want dan maak sy nie ? oog toe nie, so ek bel my pa vir ’n bietjie kalmte.”

En vir ’n man wat in prentjies leef, is één prentjie van die afgelope week ingebrand in sy geheue.

Demi se wen-oomblik.

“Daai mondjie wat nie kon toegaan nie! Sy is so altyd in beheer, maar vir daardie oomblik was sy weer ’n klein meisietjie.

“Ek het nou al baie kronings gekyk, maar dáái oop mondjie is verreweg my gunsteling. Ek kyk dit oor en oor op YouTube vir die ekstase en vreugde op haar gesig.”

En dit was Werner Wessels se mooiste, mooiste oomblik.

  *Jacques Pauw gesels Sondagaand agtuur in ’n Halfuur met Hanlie(Via, DStv 147) oor Leipoldt se bredies, ’n geheimsinnige sak vol dokumente en sy opspraakwekkende boek The President’s Keepers.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.