Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Kom leer oor die liefde by oupa (80) en sy blaar (29)
Hanlie Retief gesels met Wilson en Terzel Williams
Hy lyk asof Vader Tyd van Wilson Williams vergeet het. Sy oë glinster vol plannetjies en sy hand op haar boud is vlekkeloos glad.

Hy lyk asof Vader Tyd van Wilson Williams vergeet het. Sy oë glinster vol plannetjies en sy hand op haar boud is vlekkeloos glad.

Hy wou Terzel se warm lyf teen syne voel, vertel Wilson Williams. Nou is sy al vyf jaar syne. Foto: Edrea du Toit

Hy gee haar boud ’n knypie.

“Moet nou nie stout is nie,” sê Terzel, en hulle bars uit van die lag.

Wilson: “Nie ‘stout is’ nie. ‘Wees’. Jy praat asof ek nie stout kan wéés nie.”

Terzel: “Hy korrigeer altyd my Afrikaans, hy was ’n skoolhoof.”

Sy lê op sy skoot, oë gesluier van die lekker, gul godin in ’n huisie in Somerset-Wes met haar vol boesem teen sy gladgestrykte check-hempie toegeknoop tot by die gorrel.

Terzel: “Ek het op ons troue vir hom gesing. I got a crush on you, sweetie pie . . . mmm, mmm,” sing sy en daar spring ’n klankie uit Wilson se keel.

“Ek was 51 toe sy gebore is. Dat onse paaie moes kruis . . .” skud hy sy kop in ongeloof, grys krulle in sy nek.

Terzel: “Hy’s vies, Jacob Zuma wen hom met ’n jaar, Zuma is 52 jaar ouer as sy jongste vrou.”

Dié Lolita is so oud soos sy drie kleinkinders, maar hy is haar Hugh Hefner en sy is sy bunny.

“Wilson hou daarvan om hom te groom, mooi skoene te dra, hy’s nes Hugh ’n groot-groot charmer en net so standvastig soos Hugh vir sy bunnies was.”

Ek sê maar net vir hom God het hom geseën met baie... goeie hande.

In die maand van liefde het dié twee tortelduiwe hul rare liefde met die wêreld gedeel en ’n klompie Britse ponde daaruit gemaak.

“Law student (29) marries pensioner (80) and claims their love is ‘raw and beautiful’, ” het die Daily Mail, The Mirror en The Sun dit uitbasuin.

Wilson: “Ons was gister met Duitsland deurmekaar gewees.”

Die Williamse “Instadramatise” hul verhaal in hul Age Gap Diaries, gee verhoudingsadvies op Facebook en is besig om ’n boek te skryf.

Almal wil weet: Hoe kry hierdie ou bok dit reg om so ’n jong blaar te kou? En te hou? Dis al vyf jaar, drie daarvan getroud.

Die twee kyk geheimsinnig vir mekaar.

“My vroutjie Nellie is nou 15 jaar oorlede. Nooit in my wewenaarjare oë gehad vir ’n ander vrou nie, maar my vrinne het te vertelle gehad baie vroue is agter my lyf aan.”

Terzel: “Hoe sê ons buurvrou? Jy is ’n catch.”

“In die voorportaal sien ek hierdie jong dametjie met die rooi rok. Sy het so léwendig gelyk. En rooi is my kleur . . .”

Wilson: “Een aand in Augustus 2016 voel ek lus vir ’n dans. Ek het my mandjietjie southappies gepak en gegaan. Op my eie.”

Terzel: “Distrikspos het ’n langarmdans georganise vir hul 90ste verjaardag. As joernalis moes ek daar foto’s neem.”

Wilson: “In die voorportaal sien ek hierdie jong dametjie met die rooi rok. Sy het so léwendig gelyk. En rooi is my kleur . . .”

Terzel: “Jinne, sê ek vir my redakteur, wie dra nog leerhandskoene in 2016? Toe’s dit hý. Hy’s op sy eie, ek is op my eie en ek sê vir hom lyk my ons is twee lonely hearts hier by die dans.

“Later sit ek alleen by my tafel met my rooiwyntjie, rooi rok, rooi lippe en rooi blom in my hare.”

Wilson: “En ék sit alleen en skraap moed bymekaar, stap reguit na haar en stap haar lewe in.”

Terzel: “Ons het dadelik ’n connec­tion gehad. Kon nie ophou praat nie. Ek vra hom watter kant toe het hy in 1994 gestem, hoe was dit om ’n skoolhoof in die 1980’s te wees . . .”

Wilson: “Later traai ek my geluk en vat aan haar knie.”

“Ek het vir haar gesê ek is 63 en nie 76 nie, ek moes my kanse verbeter.”

Terzel: “Dan stoot ek sy hand diplomatically weg.”

Wilson: “Ek wou net naby haar lyf wees . . .”

Terzel: “En ons dans op ‘Lady in Red’ . . .

“Maar daar was toe hierdie wit leuentjie . . . vertel hulle bietjie, Wilson . . .”

Terzel sê hy laat haar veilig voel, en Wilson sê hy is die lewende bewys dat ou bokke jong blare kan kou. Hulle het op 12 Oktober 2017 in die hof getrou, en die inseënpartytjie was op 17 November 2018 in die Strand.

Wilson: “Ek het vir haar gesê ek is 63 en nie 76 nie, ek moes my kanse verbeter.”

Terzel: “En ek sluk dit, hoor! As hy sy regte ouderdom gesê het, sou ek waarskynlik nice gebly het, maar nie gedink het aan ’n verhouding nie.”

Terzel verkies nog altyd ouer mans, haar oudste kêrel voor Wilson was in sy 50’s. “Ouer mans is al deur die motions. Jy hoef nie aan te sit vir hulle nie, as jou beenhare ongeskeer is, worry hulle nie, hulle het alles gesien en gedoen.”

Toe die dansery teen middernag te lawaaierig raak, het die twee Clarence-rylaan opgery om in die maanlig by ’n uitkykpunt te gaan opsit.

Tot vieruur die oggend het die twee die kar warm gesels.

Terzel: “Hy het die eerste stukkie agter my aangery, toe stop die polisie my en vra: Weet jy daar is ’n man wat jou volg? Jaaaa, ons gaan bietjie vir die see kyk. Die cop kyk my rylisensie, kyk agtertoe na Wilson en sê: Só ’n ou man? Ek sê: So what! Niks met jou uit te waai nie!”

Tot vieruur die oggend het die twee die kar warm gesels.

Wilson: “Sonder om vaak te raak.”

Naderhand gaan staan hulle buite en Wilson begin bibber en Terzel vou haar jas om hom “en deel haar vroulike warmte met my en toe soen ons”.

Terzel: “Hy sê dis lanklaas wat hy ’n vrou se warm lyf teen hom gevoel het, en dis toe bietjie sad vir my, maar wát ’n pick-up line!”

Net voor dagbreek sluip sy by haar ouerhuis in, bang haar pa skel haar uit oor sy so laat tuiskom. No worries Pa, ek het saam met ’n oupa gekuier, hy is 20 jaar ouer as jy . . .

Die volgende middag koop Wilson vir haar ’n lekker fish parcel by Trawlers. “Nie ’n bun en chips nie, hy treat my soos my ma en oupa my laas só getreat het.”

Hulle sit nog so lekker en eet, toe kyk Terzel vir Wilson en sê: “Wat maak ek nou hier by jou? Want ek dink in my binneste: Jy is darem rêrig oud.”

“En oe ek besef dié ding gaan nie uitwerk nie, ek wil nie die creepy ou man wees nie. Ek klim uit die kar en sê: Please release me, let me go . . .”

Wilson: “En oe ek besef dié ding gaan nie uitwerk nie, ek wil nie die creepy ou man wees nie. Ek klim uit die kar en sê: Please release me, let me go . . .”

Terzel: “More like releasing me into the wild, antwoord ek, want dis hoe ek gevoel het.”

Hulle was skaars uit mekaar, toe SMS sy hom. Dankie vir die fish parcel . . . En die SMS’e hou nie op nie.

“SMS, hy het met ’n old-school Nokia gerol en ek leer hom nog steeds Whats-App!”

Wilson: “Toe ek in 1993 as skoolhoof afgetree het, was daar nog nie computers nie.”

Terzel: “En ek was toe twee jaar oud, net om dinge in perspektief te plaas!” vou sy bo-oor hom, so lag sy.

Die volgende oggend lees sy ’n boek wat sy op die bargain-tafel by Bikini Beach se boekwinkel gekry het: Why Him? Why Her? ’n Persoonlikheidstoets wys sy’s die ontdekkerstipe. “En hoekom nie dié oupa bietjie explore nie . . .

“Die eerste keer by sy huis speel hy Roberta Flack se ‘Tonight, I Celebrate My Love for You’, ” sing sy en nestel haar kop teen hom terwyl hy “mmm” van lekkerte.

Maar die vroulike intuïsie is ’n ander ding.

Terzel: “Jy steek iets vir my weg, sê ek so twee weke later, jy sê jy’t het ’n dogter van 50, was jy 13 toe sy gebore is?”

Wilson: “En ek trap rond hoor, bieg: Ek moet jou iets vertel, Terzel . . .”

“Toe sê ek ag, is orraait, want wat kan ek doen, ek laaik die ou.”

Terzel: “My hart was in my skoene. Genade, is jy getróúd? Toe hy nee sê, was ek só verlig, want niks kon erger as dáái gewees het nie, want dan was dit koebaai tussen ons.”

Terzel: “Ek sê ek is eintlik 76, is dit vir jou ’n probleem?”

Terzel: “Ek dink so vir ’n sekonde dis ’n bietjie oud. Doen die sommetjies gou in my kop.

“Toe sê ek ag, is orraait, want wat kan ek doen, ek laaik die ou.”

Almal wil weet hoe is hul liefdeslewe. “Ons intieme lewe?” knipoog sy.

Wilson: “Geen probleem!”

Terzel: “Voor mens ’n kar koop vat jy hom mos op ’n test drive, nè. Nou dis wat ek gedoen het. Ek hou van die ouer modelle, pre-owned, wat ’n spe­cial kind of loving nodig het, bietjie warm­ing up en ekstra oil en shifts, maar wanneer hy ry, vat hy jou na plekke!

“I really, really love it when he’s on cruise control . . .”

Wil dié veteraan-stoetbul nie maar sy lakengeheime met die jong bulle deel nie, por ons hom.

Wilson: “Die geheim is jy moet gesond wees. Ek drink elke dag vitamien E. Dis al.”

Terzel: “Nee, nee, kom nou, jy kan nie net dít sê nie! Kan ek maar sê wat ek elke keer vir jóú sê?

“Ek sê maar net vir hom God het hom geseën met baie . . . goeie hande!”

“My hande weet net hoe,” koor Wil­son knikkend.

Drie maande ná die toetsrit vra sy hom om te trou.

“Ek het gedink, jinne dit sal nogal nice wees om saam met dié man te wees vir so lank ek kan. Hy het dadelik ja gesê.”

Ouers-vra was ’n gespanne besigheid in die Sunset Bay Spur.

Terzel: “Senuagtig sê ek vir my pa en ma: Dis Wilson, hy is my . . . en ek kan nie sê boyfriend nie, want hy is nie ’n boy nie.

“Wat doen jy vir ’n lewe? vra my pa. Toe Wilson sê hy’s afgetree, sê Dêddie hy kan dit sien, ja, maar wat hét jy gedoen? Skoolhoof. . . en toe sê my pa nee, dis dan reg so, ons hou dit in die familie.”

Hanlie Retief

Wilson: “Haar ouers is altwee onderwysers en haar oupa was ’n skoolhoof. Maar ek sit toe met ’n tameletjie, ek gaat nou skoonkind wees, maar ek is meer as 20 jaar ouer as hulle. Wat noem ek hulle? Nou roep ek hulle maar Pa Terence en Ma Zelda en dis oukei.”

Wilson se twee dogters, Beryl (56) en Wilna (52), is bly “ ’n dametjie” kyk na hul pa en hulle kan lekker met haar gesels. Die hele familie is opgewonde oor hul nuwe “celeb”-status. Maar daar is dié met vuil internetvingers wat sê Terzel is net agter sy geld aan.

Hoeveel is Pappa werd? vra hulle. Ruil jy sy diapers om? Hy’t vir jou geval, maar kan hy opstaan?

“Dit maak seer. Mense kan só oppervlakkig wees. Dis ook nou nie asof hy so ryk is nie,” wys sy om haar, en dis allesbehalwe die Playboy-mansion, net ’n nederige liefdesnessie met ’n wit huiskat, foto’s van kleinkinders op die uitstalkas se kantlappies en Lennon se versterkdruppels op die kombuistafel.

Wilson stoot sy bors uit. “Ons het vir mekaar gesê: Ons wýs hulle ons kan dit doen!”

Hy pof hom op en vertel hoe ’n man hulle sien handjies vashou het en toe vir Terzel gevra het wie’s saam met jou, jou pa of jou oupa?

“Ek sê vir myself: Luister, dis nie jou besigheid nie.”

Terzel: “Hy laaik dit niks as mans met my flirt nie.”

Wilson: “Ons is gelukkig. Ons is lief vir mekaar en daardie liefde bring vir ons geluk. So, ou bokke kan jong blare kou.”

Hulle spot mekaar heeltyd oor sy oumensdinge.

Terzel: “Hy en technology! Hy het al twee jaar ’n smartphone, maar vra gister hoe Google mens daarop. En oh my word hy kou so hard! En vat so lank!” lag sy en gee hom ’n drukkie.

’n Liefdesverhaal van die hoogste orde, noem Darren “Whackhead” Simp­son op Kfm dit. Hierdie sweetie pies is eintlik ’n realiteitsreeks.

Terzel: “Ons wil graag vir mense wys ons voel nie die 51-jaar-gaping nie. Ons siele is een. Toe ons anderdag Boer soek ’n vrou kyk, sê ek nogal vir hom: Sê nou kykNET bel óns? Jinne!”

Wilson: “Almal sê ’n 51-jaar-verskil is ’n wêreldstorie. Ek het dit nie so ingesien nie.”

Sy’s nou vierde jaar regte en droom om eendag ’n regter te wees.

Wilson: “Sy moet blom en haar drome bereik.”

Parmantig post Terzel op Instagram ’n spesiale “Valentynsdag Shexyness” met Wilson sag gekussing: “As ’n man ’n boude-ou is, is hy vir altyd ’n boude-ou, maak nie saak hoe oud hy is nie, hy wil net cuddle en weer soos ’n seuntjie voel.”

Wilson pruil: “Jy vang ook enige ding aan.”

Sy knipoog vir hom.

Terzel: “As hy by my lê, dan sê ek vir hom: ‘Ag Mamma se klein babatjie’, dan moet jy daai gesiggie sien. Dan sê ek jy’t nou daai gesiggie wat jy seker vir jou mammie gegee het, ‘Mammie ek wil ’n blankie hê’. Maak nie saak hoe oud hulle is nie, mans bly maar mommy’s boys . . .”

En die twee skater vir die hele wêreld.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.