Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Yulandi Kroukamp
‘Ek wil sê ek vergewe jou, Pa’

En toe ruik sy haar pa.

’n Paar weke terug het Yulandi, die oudste dogter van die “monster” van die gruwelhuis in Springs, weer die huis waarin hulle wreed mishandel is, besoek.

Yulandi Kroukamp staan bekend as die oudste dogter van die monster van die gruwelhuis in Springs, maar dis lankal nie meer sy nie. “Ek het ’n tweede kans gekry. Ek kon die tuinhekkie agter my ouerhuis, die gruwelhuis van Springs, finaal agter my toetrek.”

“Die huis het skielik vir my kleiner gevoel. Ek het rondgestap deur die vertrekke vol herinneringe en gevoelens . . . en die soet reuk van my pa gekry.”

Yulandi Kroukamp en haar vier broers en susters is op 28 Mei 2014 deur die polisie gered. Die kinders was erg verwaarloos. Hulle het nie skoolgegaan nie en mag die erf nooit verlaat het nie. Ingeperk. Die pa het 35 kameras geïnstalleer om hulle heeltyd dop te hou. Net die rotte het vry daar rondgehardloop.

Sy het geen foto’s van haarself voor sy uit die huis verwyder is nie. Die eerstes daarná, soos haar ID-foto, is vir haar moeilik om na te kyk.

“Ek is nie meer daardie meisie nie. Sy lyk verwaarloos en mishandel. Nie geliefd nie. Ek sien pyn en vrees in haar oë.”

Nadat hulle “welsynkinders” geword het – Yulandi was toe 16, haar boetie 11, en die kleintjies onderskeidelik 3, 2 en 1 – het hulle tussen pleeghuise rondgedobber. Die drie jongstes is nou in ’n kinderhuis en Yulandi en haar broer in stabiele, gelukkige pleegsorghuise.

Ek het reggekom deur ’n verhouding met die Here te bou.

Haar pleegma, Mariëtte Kroukamp, vertel sy’t vir Yulandi die eerste keer by ’n welsyngeleentheid gesien pas nadat die kinders uit die huis verwyder is. “Yulandi was tingerig, onskuldig, onseker, ek het nie gedink sy’s ouer as 12 nie. Haar boeties en sussies het aan haar vasgeklou. Sy is vandag nog steeds die rots, sy hou hulle bymekaar.”

Mariëtte het nog nooit vir Yulandi haarself sien bejammer nie. “Ongeag alles wat sy moes deurgaan, kon sy dit regkry om ’n verstandige, liewe meisie te bly. Ander meisies wil selfmoord pleeg oor hul kêrels hulle los, hierdie kind het besluit sy wil lewe en niks gaan haar meer keer nie.”

Yulandi was in matriek die duxleerling in ’n spesiale hoërskool waarin sy haar akademiese agterstand kon inhaal. Verlede jaar het sy Doxa Deo se Metamorpho-kursus gedoen. Sy het dié diensjaar só geniet dat sy nou ’n lewensafrigter by Doxa Deo is en motiveringspraatjies gee.

“Ek het my tweede kans met altwee hande gegryp, getraai om die beste te maak van elke situasie.

“Ek kon nou die tuinhekkie agter my ouerhuis, die gruwelhuis van Springs, finaal agter my toetrek. Dit het my vier jaar lank gevat, toe kon ek die monster, my pa, vergewe. Hy bly my pa.

“Ses jaar, dis lank, ek weet, ek het gesukkel, maar toe kon ek my ma ook vergewe. Sy bly my ma.”

Haar afgelope besoek aan die “gruwelhuis” was vir Yulandi ’n katarsis. Dit was vir haar moeilik om in sekere vertrekke te gaan, soos waar haar pa haar in die gesig geskop en toe natgegooi en met elektriese drade geskok het. Sy het baie gedink hy gaan haar doodmaak, maar daardie dag het sy dit geglo, sê sy sag.

Maar, ironies, was haar grootste emosie terwyl sy deur die huis gestap het, verlange.

“Ek mis my boeties en sussies. En ek mis ook my pa. Hoe ek en hy saam tamatiekonfyt gekook het. Ja, tannie, ek was baie lief vir hom.”

Die dag met sy vonnisoplegging het Yulandi twee banke agter hom gesit. “Ek wou na hom toe hardloop en vir hom ’n drukkie gee. Ek wou hê hy moet my raaksien.”

Sy het die woorde gruwelhuis en monster gehaat.

Ses jaar later weet sy dis waar.

“Maar hy het tog vir ons gesorg, en ons tog in sekere opsigte beskerm.”

Die gruwelhuis. Foto: Denzil Maregele

Vandat sy kan onthou, is sy mishandel. Vir haar en haar boetie was dit normaal, dit was straf. “Ons het niks anders geken nie. My ma (Mariëtte) het my gevra hoekom ek nooit weggehardloop het nie, soos toe ek 16 geword het en my pa sy eie reëls verbreek en ons Spur toe gevat het. Maar jy dink nie eens aan weghol nie, jy glo Pa hou ons veilig teen die monsters daarbuite.”

En toe doen haar boetie dit, hý hardloop weg. Toe hy oor die heining spring om by die bure te probeer wegkruip vir sy woedende pa, kon Yulandi hom gekeer het. Om een of ander rede het sy hom laat gaan. “Tot nou toe weet ek nie mooi hoekom nie.

“Ek was later baie kwaad vir hom, want die volgende oggend was die welsyn daar en ons wêreld was uitmekaargeruk.”

Eers baie later het sy besef hoe erg haar pa hulle verniel het, dat hulle daardie letsels vir altyd sal saamdra.

“Dit was crazy. Daar. Ek was bang vir die gaspistool, maar die héél bangste vir die prodder (skokstok). Die elektrisiteit verlam jou. Maar ek het in elk geval nooit krag gehad om te keer of te baklei nie, dit was altyd oorgee en aanvaar.

“Hy het my en my boetie ’n paar keer in die bad probeer verdrink. Eenkeer, omdat ons die stofsuiersak nie leeggemaak het nie, het hy marteltegnieke gaan google.

“Toe sit hy nat handdoeke oor ons gesigte en gooi water bo-oor sodat ons amper versmoor. Ek moes eers kyk hoe hy dit met my boetie doen, sy gesig was persblou, en toe is dit my beurt. Partykeer moes ons ’n hele aand in ’n bad vol koue water sit. Jy verloor naderhand alle gevoel.”

Maar oor die ergste praat Yulandi byna nie.

In haar 16de jaar het haar pa haar begin molesteer. Sy moes haar klere uittrek en langs hom gaan lê. “Dit was die eerste keer toe ek besef het iets verskrikliks is verkeerd in ons huis. ’n Vrees het oor my gekom . . . hier gaan hy nou álles van my af wegvat.”

Yulandi se ID-foto
Yulandi se ID-foto, kort nadat sy uit die huis verwyder is. Sy het geen vroeër foto’s van haarself nie.

Dit het daarná ’n hele paar keer gebeur. “Die einddoel was seker dat hy by my wou slaap, maar ek kon elke keer betyds keer.”

In die hofsaak het hy vir Yulandi daarvan beskuldig dat sy promisku aangetrek en hom probeer verlei het.

“Dit het my hartseer gemaak en die leuen in my kom vestig dat dit eintlik mý skuld was.”

Elke keer as sy met ’n ou begin uitgaan, het sy hom gelos sodra dinge begin ernstig raak. “Ek kon intimiteit glad nie ervaar as iets moois, van die Here af, nie. Ek was oortuig dat ek nooit ’n normale huwelik sou hê nie.”

’n Berader het Yulandi nou gehelp om haar pa se molestering finaal te verwerk. “Ek voel nie meer vuil en skaam daaroor nie. Die Here het daai prentjie nou vir my kom regmaak.”

Haar pleegouers is besig om te reël dat sy hom in die tronk kan besoek. “Ek wil sê ek vergewe jou, Pa.”

Nie een keer het haar ma die kinders teen hul pa probeer beskerm nie. “Al die kere wat ek geslaan was, was omdat ek haar verantwoordelikhede moes nakom. Ek moes na die kinders kyk, huis skoonmaak en op die ou end het my pa die seksuele goed ook by my kom soek.

“Ek was vrek bang dat ek eendag dieselfde soort ma as sy sou wees.”

Sy moes haar boeties en sussies net ná hul geboortes voltyds begin versorg. “Ek het TV-programme vir jong mammas gekyk om te sien hoe mens dinge doen soos winde uitvryf,” vertel sy in haar skik. En wil nou nog huil oor hoe haar een sussie as baba siek geword en byna dood was. “Haar lyfie was slap, ek was angsbevange.”

Yulandi gaan kuier gereeld vir hulle in die kinderhuis, maar sy mis al die mylpale, kla sy half moederlik, “die eerste tandjie wat wissel, die eerste skooldag, en ek wou hulle leer lees”.

Hoe sy dit kon regkry om op te staan, pleinweg oukei te wees ná soveel swaarkry, sy wonder self daaroor.

“Ek het reggekom deur ’n verhouding met die Here te bou. Baie mense het gehelp. Maar op die ou end was dit tog my keuse.

“Ek doen dit vir my broers en susters. Elke besluit wat ek neem, is vir hulle. Ek moet seker maak ek sal eendag kan help dat hulle kan studeer, oukei is. As die oudste is ek die voorbeeld. Ek wil vir hulle wys jy hoef nie te gaan lê as iets met jou gebeur het nie.”

Sy wil mense eintlik skud wat so gemaklik kan raak in ’n ongemaklike omgewing. “Maak tog net ’n besluit, kry ’n plan, begin iewers. Ek het nie.

“Nou eers weet ek, doen die eerste stap, sê: Ek wil beter hê as dié.”

Yulandi se planne is onbeperk. Sy wil die wêreld sien, leer van mense en kulture, ou geboue. “Ek was so lank net in my ouers se huis, ek is so nuuskierig, ek wil, ek wil . . .”

Sy raak skoon uitasem. Dan word haar stem dringender.

“Ek wil weet hoe voel dit om my eie kind te hê, maar ek gaan ook kinders aanneem. Ek wil eendag daardie huis gee vir ander kinders soos ek.

“Ek gaan dit nie ’n kinderhuis noem nie, maar ’n huis vir kinders. Ek gaan vir hulle ’n ma wees.”

* LEES OOK: Die Huis van gruwels, soos vertel aan Susan Cilliers. 

Meer oor:  Springs  |  Kindermishandeling  |  Huis Van Gruwels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.