Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Hy proe lekker, hy proe sexy!’
Hanlie Retief gesels met Yvonne Blaauw

In die middel van Wellington se besige Kerkstraat, met wors wat sis op die baba-Weber, staan Suid-Afrika se nuwe boereworskampioen en vier haar sege.

Die rook hang oor die middelmannetjie, die koors loop hoog, Shoprite se slaghuis-span maak kringetjie om haar. Karre toet en mense roep “Wors!” uit afgedraaide karvensters, gekruide worsgrappe vlieg in stringe rond en agterop bakkies skree werkers: “Gooi ’n stukkie!”

15 jaar al traai Yvonne Blaauw haar stukkie in Shoprite-Checkers se boereworskompetisie.

15 jaar. Rêrig.

Wat maak jy as jy Suid-Afrika se boereworskampioen is? Jy braai. Dis wat Yvonne Blaauw in die hoofstraat van haar dorp, Wellington, gedoen het. Saam was almal wat haar proe-proe deur haar worsresepte tot by die wenstreep gekry het. Yvonne is die slaghuisbestuurder van Wellington se Shoprite. Foto’s: Edrea du Toit

Elke keer kom sy nie eens verby die eerste ronde nie. Dan probeer sy maar weer.

Sy kan self nie vir seker sê hoekom nie, sy’t maar net aanhou traai.

“En dié keer – 2018 is my jaar, my skat – haal ek die top-30, toe die top-tien en toe . . . jinne.”

Die rooi #SA’sNo1-voorskoot is styf vasgebind om haar middel.

“Jy’t darem lekker gelyk op die tiewie gistraant!” kom groet ’n fris kêrel in ’n kakiebruin Korrektiewe Dienste-uniform en vou haar toe in ’n druk.

Yvonne: “Wee’ jy hoe óp was my nerves!”

Fris kêrel: “Ek kon gesien het! En die bakkie? Watse bakkie het jy gewen?”

Yvonne: “ ’n Toyota Hilux, man! Dóúble cab.”

Fris kêrel: “Kan ek hom die naweek leen?”

Disse two-point-eight! tjirp ’n karwag saam in die gejuig.

Eers is daar asem opgehou in die Blaauws se huis in Voorstraat, en toe braai hulle boerewors om fees te vier. Yvonne se man, Roland, is ’n handleidingsamesteller in Shoprite se IT-afdeling. “Xavier (11) kan nie ophou glimlag nie, en Delano (16) wou dit eers uit my mond hoor voor hy geglo het dié keer het ek rêrig gewen.”

Sy vryf met haar vingers oor haar gesig en bloos bloedrooi. “Ek en my man praat al lank oor ’n nuwe kar, maar die finances willie. My ou karretjie is nog die bubble shape Corolla, so ’n gele met ’n slow puncture. Elke oggend moet ek die wiel oppomp om werk toe te kan gaan. En nou dié . . .”

Ons maak ons dun op die middelmannetjie vir ’n kar wat aspris vetgee hier verby ons.

“Windgat!” gluur Andries Jasper, Yvonne se oom, die kar agterna.

Hy buk af en rol sy braai-drasak wat altyd saamgaan jagveld toe, nét daar op die teer oop, trek ’n braaitang uit en gee dit vir Yvonne aan, want die wors moet gedraai word en haar wange vlam en dis nie van die kole nie.

Eintlik, sê Andries, werk die tongtippietoets die beste met rou wors. Het jy geweet?

“Die oomblik as ek ’n stukkie rou wors proe, dan weet ek of dit kwaliteit-wors is. En dis nie omdat sy nou my broerskind is nie, maar ek moet vir u sê, Yvonne het ’n baie goed gebalanseerde wors. Die kombinasie van speserye, vleis en natuurlik die liefde waarmee sy dit maak, nè, daai’s mos nou die special ingredient.”

Nou wat het Yvonne vanjaar daai ekstra hupstoot gegee? Andries versit van been terwyl ’n fiets verby skuur. Hy trek sy oë skrefies, asof hy die wors proe.

“Ek dink hare het so ? effense suur­ smakie wat mens nie gewoonlik in anner wors kry nie. Ek kan nie vir u sê rêrigwaar wát dit is nie, maar daar’s iets secret wat sy ingooi, wat maak dat sy wen.”

Yvonne het grootgeword in Buffeljagsrivier. Haar pa was ’n tronkbewaarder. Ná haar matriekjaar is hy afgeboek met siekte en toe trek die gesin Wellington toe. Sy het ’n paar jaar in ’n slaghuis gewerk voor sy by Shoprite se slaghuis ingeval het.

20 jaar lank, ses dae per week, deur Wellington se bibberwinters en oond­warm somers, spring sy sesuur uit die kooi, klok sewe-uur in, maak die emmers vol ontsmettingsmiddel en was die vleisbakke. En dan begin die dag. Netjie op die kop, gumboots, wit voorskoot – die ritme van Yvonne Blaauw se dae.

“Sy’s nou 47 en sy was nog altyd met vleis doenig. Dis ’n passie. En dis seker die groot bestanddeel in ’n mens, nè.”

Dan kyk hy so onderlangs vir Yvonne en sê: “Wellington se oudste celeb-oempie moet darem seker ook ’n stukkie wors kry, of hoe?”

En net daar word die ketelbraai bo-op ’n winkeltrollie geprakseer mét die warm kole én die wors én die deksel, streep ons onder groot gelag agter die braairook aan Kerkstraat op tot by eerwaarde Andrew Murray wat al van 1923 af met klip-oë oor die einders tuur.

Terwyl ons stap, praat Yvonne eenstryk.

“Ek het gistraant nie ’n oog toegemaak nie. Four o’clock, toe lê ek al wakker. Dit sink noggie lekker in nie. Die eindronde was by die Cartel Rooftop in die Waterfront in Kaapstad. Wat my senuwees ook klaar gemaak het, ek was heel laaste om te braai. En ek wag, en almal se worse kap aan. Die ander finaliste het almal daar aangekom met die vibe: kyk ek wen vandag. Dit het my nog nervous-er gemaak.

“Toe ek my wors opsit, ses minute voor 12, presies, dag ek by myself: dit moet nou net klaarkom.

“Toe kry ons sertifikate, en daarna kondig hulle die wenners aan.

“En . . . jinne. Ek kry so ’n sinkende gevoel: derde plek is klaar weg, tweede plek is klaar weg . . . wat is die kans. Toe hulle my naam uitroep, dis amper soos . . . jy slaat toe. Oe, toe huil ek snot en trane, mens kon dit tot op die TV sien!

“En daarna, alles is net so vinnig. En die koerante wil almal praat met my, my nerves was klaar. Dis die eerste keer in my lewe dat so iets gebeur.”

Sy gaan staan botstil voor Pep Home se winkeldeur, vee haar kuif uit haar oë en giggel: “Daai sêdingetjie van aanhouer wen, my skat, nee, dit ís so. Kyk, as dit jou beurt is, is dit jou beurt, nee rêrig.”

By hul huis by Voorstraat 26A het haar man en twee seunskinders gesit en asem ophou.

En vandag roer haar ma, Elizabeth, nie van Bloekomlaan 10 se tuinhekkie nie. Almal wat verbystap, moet hoor van haar kind se oorwinning.

Die proefkonyne wat heeltyd haar worsresep moes proe, was nie haar familie nie, dit was Shoprite se slaghuismanne met hul wit plastiekvoorskote.

“Dis hoeka die staff wat aanhou glo het ek gaan wen, ook wanneer ek miskien my twyfels gehad het. Dis nou één ding, almal wat die wors geproe het, het gesê dis die wenwors,” raak sy bietjie trots.

Die hele Shoprite was op horings toe hulle hoor hul Yvonne het gewen. Vir ’n goeie halfuur was die slaghuisproduksie nul.

Terwyl ons mik om oor die besige kruising te stap, vra ek: Wat het haar dié keer laat wen?

“Kyk, jy haal miskien nou ’n gram-pie hiervan uit, en sit ’n grampie dáárvan by, en jou sout en koljander . . . oepsie, hier sê ek nou ampers wat ek ingesit het,” kraal sy haar geheime in.

En dís nou maar wors: boerewors soek koljander. Koljander so deur die bos. As jy byt in jou wors, en jy byt ’n koljanderkorrel raak, is Yvonne tevrede.

“Hy proe net lekker, hy proe sexy, man!” skater sy.

“Oe, jinne, wie kon nou dink dit sal met my gebeur. Amper sê ek . . . hier op my oudag. Nou nog as die mense my gelukwens, voel dit of ek net wil huil, daai gevoel gaan somehow nie weg nie.”

Ons gaan sit op die trappies onder die eerwaarde. Die wors is gaar. Maar nie nou vir haar ’n stukkie nie, nee dankie, huh-uh. Genoeg is genoeg.

“Gisteraand het my man ’n braaitjie gehou om dit te vier, wéér die wors. My broer het laat weet ons moet die nuus dophou, toe’s ons almal voor die tiewie, niemand beweeg nie, geen kanale word gechange nie, ons sit en kyk die nuus. En hier kom ek op!”

Sy skud van die giggels. “My broer se meisie sê met daai braaikeppie op, van die side af, lyk ek nes Patricia de Lille!”

Maar amper die beste van alles is daai Toyota Hilux “2.8, whatever”.

“Die familie kerm al jare ons moet kom kuier, maar my verskoning was altyd nee, die kar kan nie so ver ry nie. Gister het hulle klaar hul bestelling ingesit – die Double Cab moet Koue Bokkeveld toe én in George gaan draai.

“Hoe kan ek nou sê: dié bakkie kom net op die regte tyd. Die Here kon seker sien ek tel baie probleme op met my ou kar.”

Reg bo haar kop, op die kerk se kennisgewingbord, staan Augustusmaand se vers in swart hoofletters: Wat ek kon, het ek gedoen.

Net toe maak ’n span blou SAPD-
beamptes hul amptelike opwagting. Het julle toestemming om hier te braai? Nié? Dan moet julle vort. Ook die dominee het per boodskapper laat weet: dominee Andrew het klaar geëet, dankie!

Andries: “My jimmel, wil hulle nou vir die wors ’n kaartjie uitskryf?”

Hy vinger standbeeld toe: “Hy sit dan daar met sy oop boek. Ons wou net sy seëning gehad het oor die wors.”

Stadig stap ons terug. In die harwar het die wors so bietjie verbrand.

As Yvonne terugdink aan haar pad met vleis, kry sy so amperse hartseer glimlag. Want sy was meisiekind nog, en dit was ’n wérk, dit was géld.

Agter in ’n slaghuis het sy gesien hoe die karkasse ingedra word, bees, skaap, vark, en die bandsaag tjieeu deur die bene en ’n vleisreuk hang in die lug. Sy wou sommer die pad vat.

Maar toe begin dit lekker word. “En naderhand sing jou saag . . . Jy maak afdelinkies. Vat nou maar ’n lam: die boude is daar, die boudtjops, die loin­tjops, ribtjops, braaitjops, alles kom uit ’n lam. My gunsteling is ’n chump-tjoppie.”

Teen tot R139,99 ’n kilo, deesdae, sug sy, eet die Blaauws net een keer ’n maand ’n pakkie van vier chump-tjops, een vir elkeen.

Boerewors is darem goedkoper, koor ons saam. En dis #SA’sNo1.

As sy vanjaar weer uitgeval het, sou Yvonne seker maar volgende jaar weer probeer het. Dis hoe die lewe is.

Jy hou mos aan probeer. En dit maak van jou ’n kampioen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.