Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief gesels met Zozibini Tunzi

Zozibini kon die beesmis mooi glad en gelyk oor die hut se vloer smeer. En dan klouter sy op haar gogo se skoot en kyk watse boek ouma nou al weer lees. “Sy wou net altyd lees, lees, lees, hierdie kleinkind, so ’n netjiese, flukse dogtertjie op my skoot,” onthou die stokou Cynthia Nadapu, haar krom hand vasgedruk teen haar hart.

Mej. Heelal, Zozibini Tunzi, het op Maandag 10 Februarie haar laerskool, Canaan Academy, in Dutywa in die Oos-Kaap besoek. Die gr. R’e het haar grootoog in die vierkant ingewag. Foto: Deon Raath

Heelaand sit die gogo met haar hand teen haar hart, terwyl die ander hand die stampmielies fyntjies mond toe bring. Af en toe dut sy, want die borde kos het eers diep ná tien opgedaag toe die stringe jubelsange en toesprake verby is.

Ons sit in ’n grasdaksaaltjie tussen die heuwels, heeltemal te klein vir al die mense, en die atmosfeer is elektries, Zozi is dán in trane, dán lag sy, en dán moet ma Philiswa weer help om die trane af te vee.

Sy sit penregop, ken gelig, grasieus, ’n Afrika-koningin. Buite motreën dit, iewers hoor jy beeste in die veld, en it takes a village to raise a child en hierdie village is vanaand hier vir hul blink kind.

Gogo Cynthia leun oor na my en sê: “Toe Zozi sewe raak, het ek vir haar haar heel eerste boek gegee, Madiba se Long Walk to Freedom, want die kind het honderd vrae daaroor gehad.”

Madiba se pad het op ’n buurdorp, Mvezo, begin.

Zozibini Tunzi se eie lang pad het van daardie boek af geloop tot in New York en die Heelal-kroon op haar kop.

Ek sal vir die res van my lewe dankbaar wees hiervoor.

“En nou is niks nooit meer dieselfde nie, en dis maar net die begin vir haar dié,” sê haar tante Unathi Kawuleza langs my. “Ek het gewonder of die titel en New York haar sou verander, maar nie eens biétjie nie, Zozi is nog Zozi, so natuurlik soos haar hare. En daar’s nog iets waarin sy die reigning queen is: 30 Seconds!”

Heelaand herhaal almal Zozibini se vlagskipwoorde tydens haar Mej. Heelal-veldtog. Dit word ’n mantra: “Niks is so belangrik as om jou plek in die samelewing te vind en dit dan vas te messel nie.”

Dié woorde, wat ’n mens seker as pageant popcorn kan afmaak, het op hierdie reënaand in Dutywa werklik geword toe vyf vroue een vir een met hul stories opstaan om vir Zozibini te sê: Dís wat ons met jou woorde doen, dis hoe ons vir ons ’n toekoms vasmessel.

Babalwa Mbuku het – toe sy agterkom dat meisies uit arm huise dáárdie tyd van die maand nie skool toe gaan nie, want hulle kan nie sanitêre doekies bekostig nie – ’n fabriek begin wat sanitêre doekies vervaardig.

Thembakazi Sikhundla kon met ’n meestersgraad nie werk kry nie. Toe bewerk sy ’n stukkie oop grond, begin ’n boerdery, koop met dié inkomste markiestente en stoele en verhuur dit uit vir dorpsgesellighede. Uit dié inkomste het sy klere uit die buiteland begin aankoop en op sosiale media verkoop. Sy het nou ’n klereboetiek in die besigste straat in Oos-Londen.

Een vir een staan hulle op. Laaste, Pumla Gobela, Zozibini se buurvrou en die eienaar van Chef Mbuk’s Catering Services. Ons hoor hoe Pumla se lewe uitmekaar geval het toe sy op 16 verkrag is deur haar onderwyser en ’n aborsie moes kry. Haar verhaal kry selfs die klipgesig- Trump-ondersteunende Amerikaanse lyfwag aangedaan.

Zozibini se tuisdorp, Dutywa, het ’n dinee ter ere van haar gegee. Op Zozibini se bord was stampmielies, spesiaal, want sy mis dit baie in New York. Hier vee Phili­swa Nadapu ’n paar trane uit haar dogter se oë. Foto: Deon Raath

Sisi Pumla was haar senior op skool, vertel Zozibini die volgende oggend. “Sy was pragtig en vol lewe. Nog steeds. Ons het saam ’n leeskompetisie gewen. Ek het nie eens geweet wat met haar gebeur het nie, en dit maak dit nóg erger, want jy sien partykeer net die glimlag en weet nie van die vrag pyn wat iemand ronddra nie.

“Ek preek op Instagram en sosiale media oor die bemagtiging van vroue, en dis woorde uit my hart, maar ek weet nooit of dit iemand raak nie. En daar kom vyf vroue en sê vir my: Ons leef jou woorde. Ek sal vir die res van my lewe dankbaar wees hiervoor.”

As kind was sy “verskriklik skaam”, vertel Zozibini, en die vrag wat sý van haarself moes afgooi, was ’n gebrek aan selfvertroue. “Ek is nou selfversekerd, maar partykeer verloor ek dit weer en dan wonder ek: Doen ek genoeg? En eintlik: Is ek genoeg?”

Sy gee ’n laggie vir haar eie woorde, en dit voel half onwerklik dat hierdie beeldskone vrou met die Mej. Heelal-satynserp vol blinkers om haar skraal skouer dít sê.

Ons sit in ’n klein vertrek en die New Yorkse organiseerder van die kompetisie sit in die deur en luister haarfyn na elke woord, die fotograaf kliek-kliek-kliek, die polisiebegeleiding wat haar na die Mthatha-lughawe moet begelei, wag buite saam met die kougomkouende lyfwagte.

“Jy weet,” sê Zozi verder, “jy voel jy is nie die titel werd nie, wanneer die imposter syndrome wil oorneem, wanneer mense se opmerkings tog vatplek kry in jou onderbewussyn.

“Elke oggend as ek wakker word, sê ek vir myself: Jy is Mej. Heelal en jy verdien dit, jy het hard gewerk hiervoor.”

Kiertsregop sit sy.

Vroeër, terwyl sy tussen honderde leerlinge selfies geneem het in die reën, kaalarm, het ’n kameraman wat haar al van haar Mej. SA-dae af volg, gesê: “Haar 16 uur lange dae maak my moeg. Ek weet nie hoe bly sy so geduldig en steeds so werklik, so eg, nie. Sy is die real deal.”

Zozibini was nog altyd ’n girl wat oor alles gepanic het, lag Khaya, haar beste vriendin. “Só pligsgetrou, maar sy het haar skooltrui, haar goed, heeltyd oral vergeet!”

Oral op Zozibini se toer deur die Oos-Kaap loop die kinders haar jillend storm. Die snaaksste, vertel sy, was toe sy op die vlot in Tsolo om ’n draai kom en ’n klomp meisies skreeuend uit hul huise storm om haar te sien – in hul pajamas en onesies.

By Canaan Academy, haar ou laerskool, waai sy opgewonde vir die leerlinge wat aangehardloop kom, hul uniforms rooi spikkels teen die groen heuwels. “Ek het nét so ’n rooi uniform gedra,” lag sy uitgelate.

In die skoolsaal, tussen haar ou maats, raak dit ’n reünie. Die skoolhoof vra weer tafels, wát is twee maal twee, Zozibini? Mooi, jy kry ’n lapsakdoek, jy slaag. Die groep van 2 000 sing saam die Engelse weergawe van “Ek is nie ’n stapsoldaatjie nie”, en Zozi salueer vrolik met die “Ja, meneer!”.

Die hoogtepunt, “maar daar was baie!”, was ouma Cynthia wat van Oos-Londen gekom het vir die dinee. “Sy is al oud en moeg, maar dit sou my hart gebreek het as ek moes terug New York toe sonder om haar te sien.

“Sy het met ‘kombuisgeld’ haar kinders grootgekry. En toe haar werk as kombuisbediende nie genoeg ingebring het nie, het sy klere leer maak om te verkoop en só haar kinders deur universiteit gekry.

“Dis hoekom ek sê, hierdie titel is nie myne nie, dis ons almal s’n.”

Die swartbewustheid-aktivis Steve Biko se boeke het Zozibini se lewe help vorm. “Hy is al lankal dood, maar sy boeke bly ongelooflik. Om sy eie woorde te kan lees.

“Ek het geïsoleerd grootgeword, die eerste keer toe ek die Oos-Kaap verlaat het, was toe ek in Kaapstad gaan studeer het. Maar ek was so beïnvloed deur die mense wat ek in boeke ‘ontmoet’ het, ek het geweet ek wil eendag self sulke wonderlike dinge doen.

“En dis hoekom ek uiteindelik ingeskryf het vir Mej. Suid-Afrika. Baie Suid-Afrikaners het ná 1994 hard gewerk om te probeer om finansiële gemoedsrus vir hul families te skep. Dis wat ek nou vir die geslagte ná my wil doen.”

Sy het die dag voor die inskrywings gesluit het, haar vorm ingestuur. En daar het haar jare se spelkompetisies, openbare redevoering, Miss Canaan Academy (“al het ek niks ritme nie”) byeengekom.

“My ma het geglo dalk kry ek al hierdie goed eendag nodig, dat dit uiteindelik die moeite werd sou wees.”

Margaret Kyambaade, haar laerskoolhoof, onthou hoe Zozi tydens leeslesse raakgesien het watter kinders sukkel met lees, en dan’t sy boeke geleen om hulle ná skool te help.

Die een ding wat Zozi wil regkry as Mej. Heelal, “is om mense te laat besef dis oukei om hulself te wees, dat jy nie in ’n gietvorm hoef te klim om soos ander mense te word nie of toelaat dat die gemeenskap voorskryf hoe jy moet wees om suksesvol te wees nie. Wat is sukses in elk geval? Daar’s soveel voorgee in die wêreld, maar as ons eg is, is ons op ons gelukkigste.”

Haar natuurlike hare het die kroon onder haar Mej. Heelal-kroon geword. “Ek het niks teen braids en pruike nie, ’n vrou kan met haar liggaam doen nét wat sy wil. Ek wou net bietjie wegkom van die ure lange getrek en gevlegtery, en nou is ek mal oor my natuurlike hare, ek het nog nooit mooier gevoel nie.”

Maar dit was nogal ’n uitdaging, sê sy, die negatiewe reaksie op haar voorkoms, al was dit die minderheid.

Ja, daar’s gesê sy het die Mej. Heelal-titel “afgegradeer”. “Ek verstaan dit, ek lyk seker anders as die samelewing se definisie van skoonheid. Dis dalk hoekom so baie mense negatief gereageer het, dis immers jare se programmering.

“Toe ek vanoggend tussen die gr. R’e by die skool gestaan het . . . hulle is so klein, alles lê nog voor. Dis vir hulle, dié,” vat sy aan die serp. “As hulle na my kyk, moet hulle hulself in my raaksien. En dan moet hulle weet daar is hoop.

“Vreemd, ek is die laaste paar dae hier meer emosioneel as in die hele twee maande as Mej. Heelal.”

En dan sê die Mej. Heelal-hanteerder dis nou oor en uit, hulle moet verf op Zozibini se lippe kry en seker maak die “huil is uit haar oë”, dis nou tyd vir TV-kameras.

Zozi wikkel haar lyf liggies, lig haar ken, en dis three-two-one rolling, en sy is koningin van die heelal.

Meer oor:  Zozibini Tunzi  |  Mej. Heelal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.