Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief praat met Gamoep se nood-Krismisvader
Burre – Gamoep se Kersvader

Gamoep se Krismisvader sit langs my.

Sy naam is Burre Burger.

Sy slee – ’n knalrooi, geborgde FJ Cruiser – gly gediesel oor die grondpad.

Die Knersvlakte is regs.

Boesmanland is links.

Burre Burger op pad om sy 600ste vrag noodvoer in Gamoep te gaan aflaai. Foto’s: Edrea du toit

“O Boesmanland, vat my hand, lei my oor die rand se kant,” dreun ­Worsie Visser se liedjie uit hierdie fris Vredendaller.

Ons is op pad om Vrag 600 – ’n trok met 34 ton lusernbale van Orkney af – in Gamoep te gaan aflewer.

Agter hom lê ’n jaar so lank soos hierdie grondpad. ’n Jaar waarin “hierdie gewone outjie” se lewe amper verby was en toe vir altyd verander het.

Ons ry verby ’n dooie springbok, vel oor ’n hopie bene.

In hierdie dorre wêreld sukkel mens en dier nog altyd ’n lewe uit.

“Die oumense vertel met die sondvloed het die Boesmanland net ’n doutjie gekry. Net muggiepis.”

Maar hierdie droogte is die ergste in ’n eeu.

Die boere wag vir ons op Wolfkraal, Carel en Talita Louw se plaas. Talita is die moederhen van Gamoep.

Sy het ’n kiosk ingerig met koek en koffie sodat die boere en vroue kan kuier terwyl hulle op die noodvoer wag.

Gamoep voel dalk na Google Maps se pin op die Moedverloorvlakte, maar moenie vir dié gawe, taai Boesmanlanders sê hulle kom van Springbok nie – hulle voel sterk oor hul plek.

Gamoep se boere is dankbaar vir die vrag lusern wat al die pad van Orkney af kom.

Plase met name soos Bosluis, Tkhabees, Koffiemeul, Wolfkraal, Kleinbegin en Nuwerus is geslagte reeds in families, maar vanjaar se droogte het ’n paar geslagte geknak.

“ ’n Vrou bel gister en sê as haar man langer as tien minute in die stoor bly, gaan kyk sy . . . ”

Want die banke sê nee vir nog lenings, die koöperasierekeninge is toe.

En trotse boere vra nie hulp nie.

“ ’n Oos-Kaapse boer vertel my hy het een oggend handevol sand begin eet dat hy kan dood. Hy het al 1 000 angoras verloor.”

Gister was so warm die kinders se melktande het suur geword in hul bekkies, grap hy, sy oë op klein Brigitte wat slaap in die karstoeltjie. Op haar Droogtehulp-hempie frummel die letters net landbou kan die land bou.

Die wolke begin vanoggend nogal hoopvol saampak en Burre wens teen die hoop: Miskien laai ons vandag lusern in die reën.

Sy kop bly woel met die droogte.

“As jy met ’n bakkie in die veld ry, hardloop die skape soos werfhonde nader. Hulle eet letterlik uit die boere se hande.”

’n Oos-Kaapse boer vertel my hy het een oggend handevol sand begin eet dat hy kan dood. Hy het al 1 000 angoras verloor.”

Ons stop by Henk Burden se plaas waar hamermeule lusernbale en mieliereste maal. Alles word voer – skenkings pasta, hawermoutpap en witbroodmeel.

Henk kom skud blad en wys ’n kaktus wat wit blom voor die huis.

“As dié kaktus blom, sê die oumense dit gaan reën in die Boesmanland.”

Ja, en die skilpaaie het ook vanoggend begin speel, voorspel Burre verder.

Die Burdens het in Februarie 2016 die laaste strokie reën op Platbakkies gekry.

Soos ons ry, kom die selfoonsein sporadies deur en piep Burre se foon met boodskappe van boere.

Ná ’n Facebook-videogreep ’n ruk gelede het hy 12 000 WhatsApps gekry én R7,6 miljoen in sy Droogtehulp-fondsrekening.

“ ’n Ou bel en vra hoeveel geld het ons nodig. ‘So R100 000,’ skat ek sommer.

“Vyf minute later was die R100 000 inbetaal. Ek bel hom en sê: ‘As ek geweet het jy’s só ryk, het ek jou ’n miljoen gevra,’ ” lag hy.

Hy het al R21,2 miljoen se mielies en R13,2 miljoen se diesel uit die fonds gekoop.

Die afgelope drie dae is R536 000 geskenk.

Noodvoer van Orkney af.

Op Kliprand met sy ou Firestone-bord, drankwinkel, koöperasie en skoolklok, het nét Arrie Cloete DStv.

Hy is skaapboer, skoolopsigter, skoolhoof en Meneer vir graad vier tot sewe.

As die dorpsmense by Arrie kom rugby kyk, betaal hulle R5 en R2 om toilet toe te gaan – die toiletgeld beland in Burre se Droogtefonds.

Drie dae van die week staan Burre af vir die droogte. Dis sy gelofte aan die Here. “My vrou, Bianka, is Duits, en waar ander manne se moeilikheid met hul vrouens ophou, begin myne. Maar Bianka weet van my skaduwee (depressie) en sy weet van my gelofte.”

Dan is ons by Wolfkraal se indraai.

Op ’n ou strepieslaken wat sy kon afstaan, verwelkom Talita vir Burre met groot letters: Vrag 600 Baie Geluk!

Burre wys die hoendervel tussen knie en kakiebroek. Hy gee ’n droë sluk. “ ’n Mens kan nie dink jy moet selfmoord probeer pleeg om 600 vragte voer aan te ry nie . . . ”

Die boere se bakkies en sleepwaens konvooi agter die trok malsgroen lusern.

Voor die uitdeel begin, vat ons hande in ’n kring. “Milde reën, Here, asseblief, net uit genade,” bid Bertus Roux, boer van Bosluis en Tkhabees.

Water. Dis wat dié San-woord beteken: water in volstruisdoppe begrawe vir anderdag se dors, deur eeue se droogtes. Stil fluister die woord vanmiddag op hierdie plaas.

Oom Gert Beukes, derde geslag op Bitterputs, staan nader vir ’n geselsie.

As skaap eers geloop sit het, dan staan hy nie weer daar op nie, vertel hy. Só het 100 vrektes op Bitterputs afgeloop.

“Dit maak seer.”

Drie woorde en dis ’n baie lang sin.

Thea van Niekerk van die plaas Nuwedam het geleer om teen meer as die droogte te baklei. Sy het in Februarie borskanker gekry.

Thea van Niekerk van die plaas Nuwedam by Kamieskroon trotseer meer as ’n droogte.

In Februarie, in haar 40ste jaar en met die droogte op sy lekkerste soos die Boesmanlanders sê, het Thea ’n dubbele mastektomie gehad.

“ ’n Sleg ding so in die middel van die droog. Maar nou het ek geleer om die fight tussen my ore te wen,” kyk sy my intens aan van onder haar breërandhoed.

Dawid Brandt, ’n transportryer van Kakamas, staan tevrede en kyk hoe hulle sy trok aflaai. Hy het reeds 25 vragte voerskenkings aangery.

“Dis nie bietjie se ry nie, ek deurkruis die land vir die droogte, en die boere se trotse dankbaarheid kom vang my elke keer en dan pink ek so ou traantjie.”

Onder die peperbome sluk ons worsbroodjies met koue Creme Sodas af.

Pion de Vries se rifrug lê by sy voete. Sy plaas Koppieskraal het vyf jaar terug reën gehad.

Jy’s nog gelukkig, sê ’n ander boer. Sý plaas het sewe jaar laas reën gesien.

Pion se gewese skoonpa het nou al drie keer R200 000 getrek vir voer en hy is amper 80. “Wat bly oor vir aftree? Maar ek weet, kom die reën nou, sal hy verder boer, al lê daar nóg twee droogtes voor. ’n Boer is ’n boer.”

Ná ete kry die bakkies een vir een koers plase toe.

Sukses ná ellende: ’n Jaar gelede het Burre Burger (32) probeer om sy eie lewe te neem. Maar toe oorleef dié oudrugbyspeler van Vredendal dit, hy staan op uit sy ellende en begin noodvoer aanry vir droogtegeteisterde boere oor die land heen. Sy organisasie, Droogtehulp, het reeds meer as R30 miljoen ingesamel. Dié projek is een van die grootste suksesverhale van 2017. (www.droogtehulp.co.za)

Ons ry na die plaas Kleinbegin waar oom Floris Kotzé in ’n Jurgens-woonwa tussen sy skape bly. Burre was ’n maand terug daar, hy wil gaan kyk hoe dinge daar gaan.

“Dis erg. Berei julle voor.

“Oom Floris het 60 van sy 100 lammers verloor. Toe ek daar was het ’n lammetjie onder die woonwa gelê en vrek.”

Oom Floris en sy neef Daniël is die laaste geslag van die ou trekboere.

“Laaste van die takhare,” glimlag oom Floris. Hulle het nog met ’n wa en tent grootgeword. “Ons ou wa se geraamte staan by Kalkstasie.”

Agthonderd skape het oom Floris in sy goeie jare gehad. Dorpers en meatmasters.

Maar nou het die droogte oom Floris hier op 80 laat vasval.

“Ek het nie eens meer ’n adres nie.”

Tussen die krudoringbossies lê ’n dooie skaap.

In ’n kampie, ? ent weg, word nog een verbrand.

Die reuk hang dik in die lug.

“Party dae voel jy sleg. Af. Dan kom ek by my skaap en sê vandag gaan julle dit nie maak nie. Maar dan kom ek ­môre by dieselfde skaap en dan is ek seker ’n bietjie beter en dink nee wat, hierdie skaap gaan nog lank hou.”

Maar wat.

“Hierdie wêreld is soos ’n mens se ma, nie rêrig vir jou mooi nie, maar ook nou nie lelik nie.”

Vroue het nooit smaak in hom gekry nie. So was dit en so is dit, sê oom Floris. Net sy broer se seuntjie het in sy hart kom klim en soos sy eie geword.

“Sondae ná kerk, dan kom staan die outjie teen my bene en steek sy handjies uit vir optel.

“Altyd erg oor my gebly tot sy dood in ’n motorongeluk. Sy vrou en twee kindertjies is nou my mense. As ek so uitbrekie kry, hol ek maar daarheen.”

Hierdie Kersfees weer.

Brigitte is besig om haar melkbottel met ’n lammetjie te deel. Dieselfde lam wat Burre laas maand onder die woonwa sien lê en vrek het.

“En kyk nou net! Oom Floris was te trots om te vra vir voer. As sy buurvrou ons nie laat weet het van die nood hier nie, was hierdie lam nie nou hier nie.”

Ons groet en die stof walm om ons bene.

Hierdie is nou ’n geskenk wat net wag om oopgemaak te word, wys ­Burre na die wolke wat saampak oor die Maskamberge in die vaal verte.

Ja nee, hulle staan nou reg vir reën, sê oom Floris. “Daar was nog nooit ’n droogte wat nie gebreek is nie.”

Meer oor:  Droogte  |  Boesmanland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.