Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief se laaste gesprek met Pik Botha

‘Pik Botha maak ’n kamer nog net so vól soos die dae toe hy 80% van die (wit) bevolking se steun gehad het, maar nié staatspresident geword het nie. In sy stem is daar nog rook en drama, sy (dunner) kuif val nog oor die voorkop, sy woorde neem jou steeds op lang reise.”

Ina en Pik Botha. “Sy is so goed vir my, ons loop die pad saam.” Foto’s: Alet Pretorius

Dit was Pik Botha in Mei 2005, in ’n onderhoud wat ek destyds met hom gehad het.

Twee maande gelede, in ’n allerlaaste kuier, was sy stem aansienlik ouer, meer rook as drama. Alles het verlangsaam, maar steeds was daar reise in sy woorde.

Ons stap, soos met elke besoek, deur sy tuin en hy stel sy plante voor soos ou vriende. Elkeen het ’n storie, ’n wonderwerk. Die geelhout. Die manjifieke broodboom. Kýk, beveel hy, “hy gaan nog hier wees, lank nadat ek weg is die ewigheid in.”

Binne rangeer Pik homself eetkamertafel toe, waar hy ’n stuk papier spesiaal vir ons gesels gereed gehou het.

“Ek wil vir jou hierdie ietsie lees, my ding.”

Dis “ietsie” wat hy geskryf het vir die fotograaf Wessel Oosthuizen se boek. Hy lees dit dramaties voor, beklemtoon met gedrae Pik-stiltes.

Maar ek is vandag dankbaar ek het tog deur daai drif gekom, want dit het groter vrede in my gemoed gebring.

“Te midde van die gedagtes, dikwels diep in die nag waar ek hier sit en na kontak met die Opperwese verlang, is dit soos ’n telefoon wat lui en nie beantwoord word nie . . .

“En toe een nag, onthou ek ’n paar Latynse frases wat elke mens gerus kan saamdra: Pereunt et imputantur.

“Ai, my darling, ek wéns so jy wil dit gebruik. Haal dit aan vir Rapport-lesers! Hulle moet dit hoor! Dis ’n inskripsie op Romeinse sonwysers wat sê: Die ure wat ek afgemeet het, was nie tevergeefs nie, dis in berekening gebring.”

Sy vrou, Ina, dra vir ons eetgoed aan en hy kyk haar waarderend agterna. “Hierdie vrou is vir my goed, net goed.”

Vir my: “Eet gerus, ons is klaar geëet, jy is te maer.” Kyk vlugtig vir die fotograaf: “En jy . . . is ook nie vet nie . . .”

Ons skaterlag. Steeds die gladdebekpolitikus wat hom uit enige gat – selfs apartheid – kon grawe.

In sy geliefde tuin, elke plant ’n gewaardeerde ou vriend.

“Ja, vroue . . . ek het van julle gehou, ja, met agting en genot of plesier. Ek is ’n groot sondaar. Ek erken dit.”

Hy vat ’n sluk rooibostee. “Laat ek net kyk of ek darem ’n sigaret het . . .” skud hy ’n Paul Revere uit die pakkie.

Sy gedagtes dwaal na sy “groot vriend” Mogoeng Mogoeng, die hoofregter.

“Hy het hier kom kuier, en vir hom dasse uitgesoek. Hy het ’n besonder voortreflike vrou, ’n hoogs geleerde mens.

“Ek vra anderdag vir my groot vriend Stephan Joubert: Jy stem mos saam met my, jý die professor, dat die mens moet sterwe voor jy kan uitvind in watter formaat jy ná die dood voortbestaan.

“Dit is een van ons grootste probleme. Ons begrawe mense en net ná die begrafnis is daar gewoonlik ’n ontvangs waar daar taamlik geëet word, maar die een wat begrawe is, is totaal onbewus daarvan.

“Van Wyk Louw sê: Mooi is die lewe en die dood is mooi . . .”

Hy raak aangedaan. Vee ’n stukkie sigaretas van die eetkamertafel af, ingedagte, die are ’n pers padkaart op sy hande. Die stoel, die eetkamertafel onder die rokerige geel lig van die staanlamp, die groot asbak. Notas met gedagtes in langskrif met ’n swart pen, papiere, boeke, foto’s. Die universum van ’n politieke legende op 86.

In 2005, toe hy ná kanker vir die soveelste keer gedink hy sterf nou fináál, het ek hom gevra hoekom glo hy in God.

Maar hoe dan nié, was sy teenvraag terwyl hy oor sy geliefde tuin tuur. “Alles om my getuig daarvan . . . mooi is die lewe . . .”

Soveel keer was hy op die randjie – ’n skedelkraak ná ’n windpompbesering, ’n amper-verdrink in die Vaalrivier, ’n gekanselleerde plek op die Pan Am-vlug wat bo Lockerbie ontplof het, ’n noodlanding in ’n droë plaasdam ná ’n vliegrit uit Jamba – hy onthou dié episodes in grafiese detail: “Alles sis. Ons skop die deure oop, ons is buite. Die gruis kraak onder my sole. En onder daai geknakte vliegtuigvlerk lê ’n geroeste hoefyster wat ek later in perspeks laat set het.”

Elke keer is hy gespaar. “Ek weet nie hoekom nie.”

By die tafel trek die lamplig lang skadu’s oor sy gesig.

“Ons almal gaan gebuk onder een pertinente vraag: Wie is ek en wat is ek? En ons ontdek dit nooit, want ons stel onsself voor wat ons nié is nie. Nou nog, op 86-jarige ouderdom, soek ek na myself . . . Ek soek nog steeds! Ek het myself nog nie ontdek nie.”

’n Man voor ’n laaste deur.

Nog ’n “groot vriend” – Pik het báie “groot vriende” – was die astrofisikus Stephen Hawking. Die twee het baie gekorrespondeer voordat hy Hawking in 2008 in Kaapstad ontmoet het. “Hawking het gesê die punt van onomkeerbaarheid word verbygesteek nádat dit reeds onomkeerbaar geword het . . .

“My darling, besef jy as klimaatsverandering nie gestuit word nie, sal die jong mense wat nou onder 30 is net omtrent nog 30 jaar oorhê om te lewe, en dan is Homo sapiens wég. Dink bietjie daaraan.

“Ek was in my jonger dae ’n parmantige, taamlik aggressiewe politikus totdat ek uiteindelik ontdek het hoe min weet ek.

“Onder die geelhoutboom hier buite is tweeduisend klein boompies, lewende wesens. Ek het daar geen kennis van nie. Ek is onnosel! Wat het my dan genoop om hierdie belangrikheid aan myself te gaan toeken? Dis eers toe ek ontdek hoe onnosel ek is, en hoe min ek weet, dat ek verklein is in my eie denke, dat ek meer agting gekry het vir ander mense, al verskil hulle van my.

“Dis iets wat ekself deurgemaak het, dit was pynlik vir my. Maar ek is vandag dankbaar ek het tog deur daai drif gekom, want dit het groter vrede in my gemoed gebring.”

Destyds het ek hom gevra waarna hy wil luister terwyl hy doodgaan. Bruch se vioolkonsert, was sy antwoord. En Sibelius se Finlandia. Beethoven se Sewende. Chopin.

Met die groetslag stop hy my ’n spekboomsteggie in die hand, versigtig toegedraai in klam toiletpapier. Hy’t hom gaan uithaal op Robbeneiland, vertel hy.

“Dis ’n vonds, ’n unieke variant. Gaan plant hom dat hy kan groei, dat hy suurstof aan die wêreld kan gee.”

My spekboompie groei sterk, Pik.

* Lees ook Pik Botha se essay oor die sin van die lewe.

Meer oor:  Pik Botha  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.