Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hanlie Retief vra Eskom se nuwe baas waarom hy dié moeilike werk wil doen
‘Kom ons maak dié ding werk!’

Met die gaan-sit-slag strek André de Ruyter sy lang bene in die blouswart-pak en ewe blouswart kouse voor hom uit, gee ’n glimlag wat herinner aan Barbie se Ken en gooi sy eerste woorde in die onderhoud:

“Jy wil seker weet: Hoekom, André, wil jy hierdie moeilike werk doen?”

André de Ruyter, Eskom se nuwe uitvoerende hoof, in sy hoekkantoor by Megawattpark met die plafonhoë vensters en snippermandjies vol verlore regrukplanne van sy voorgangers. Foto: Deon Raath

In dáárdie draaistoel in die hoek van die vertrek met sy plafonhoë glasvensters het immers in tien jaar 11 uitvoerende hoofde gesit.

Dan herhaal De Ruyter presies dit wat Glenn Fullerton (finanshoof by Nampak, De Ruyter se vorige werkplek) vroeër aan my vertel het:

“Toe ek by André hoor hy gaan Eskom toe, het hy gesê hy kan nie in Suid-Afrika aanbly as hy nie bereid is om die probleme te help oplos nie.”

Ja, knik De Ruyter. “Toe die koppesneller, oftewel head hunter, my genader het om te hoor of ek sou belang stel in die pos, het ek gedink as ek nee sê, wat sê dit van my? Kan ek dan eerlik hier bly en saam kla oor hoe sleg dit gaan? Want dan moet ek eerder my tasse pak vir Australië.”

Hy is in elk geval te lief vir Suid-Afrika, sê dié oud-Bronkhorstspruiter wat sy matriek aan die Hoërskool Menlopark behaal het – en daarna ’n Tukkies-BA, ’n Unisa-LLB en ’n MBA aan die Nyenrode-Universiteit in Rotterdam.

“Ek het al in drie ander lande gebly, maar dis my plek dié, waar ek tuis is.”

Ek het al in drie ander lande gebly, maar dis my plek dié, waar ek tuis is.

Suid-Afrikaners hét hierdie kla-neiging, om ons amper te verlekker in mislukking, glimlag hy effens. “As die Bokke verloor, is ons vinnig om te sê ja, ek het jou gesê! Ek is darem nie só vrolik dat ek onrealisties raak nie, maar mens moet kyk waar jy ’n bydrae kan maak, al is dit net om die ligte af te skakel as jy ’n vertrek verlaat.”

De Ruyter staan in die bedryf bekend as iemand wat nie nonsens vat nie. “Regtig?” vra hy verbaas. “Ek beskou myself nie as hardvogtig nie.”

Fullerton stem nie heeltemal saam nie. “André laat nie toe dat ander mense se probleme syne word nie, hy bied weerstand. Hy het altyd T-hemde by Nampak uitgedeel. As kollegas by hom opdaag met begrotings wat nie juis goed lyk nie, sal hy vir hulle T-hemde gee met die woorde: ‘Jammer om van jou k*k te hoor.’ So nee, hy vat nie nonsens nie.”

Of dit genoeg sal wees om die politieke inmenging wat sy 11 voorgangers die hasepad laat kies het, te deurstaan?

De Ruyter se mentor, Pat Davies, die afgetrede hoof van Sasol, sê De Ruyter het in sy loopbaan oor kontinente en nasionaliteite geleer hoe om belangegroepe te balanseer.

“As ek net een ding van André kan sê: Ek het in my loopbaan baie te doen gekry met wêreldleiers, en André vergelyk met die bestes. Hy is ’n wêreldklas-sakeleier. En ’n goeie man.”

Davies onthou hoe De Ruyter as ’n ambisieuse jong man met ’n vars MBA onder sy arm daar aangekom het. “Toe al was hy ’n strategiese denker. Hy sou ’n situasie heel anders sien as sy kollegas, ek inkluis. Dit was altyd verfrissend om hom in die rondte te hê, want hy is nie ’n people pleaser nie.”

De Ruyter se eie antwoord oor politieke inmenging is soos ’n strategiese Federer-handrughou: “My vertrekpunt is rasionele, datagedrewe voorstelle, waarvoor ek sover nog geen weerstand gekry het nie. As iemand met ’n ander voorstel kom, moet hy dit óók rasioneel en datagedrewe kan motiveer. Dan is ek gemaklik, want dit lei tot ’n volhoubare Eskom.”

Pres. Cyril Ramaphosa het ná die ANC-lekgotla laasweek die wet neergelê van geen politieke inmenging in staatsondernemings nie, behalwe om strategiese redes.

Strategiese redes? “Dinge soos die sekerheid van kragvoorsiening en die toekoms van ons elektrisiteitsbedryf.”

De Ruyter weet die regering het in die beskuldigdebank gestaan by vakbonde en die EFF oor hy wit is.

“Een van my gunstelinggesegdes oor transformasie is dié van Deng Xiaoping (voormalige Chinese leier), wat gesê het hy gee nie om of die kat wit of swart is nie, die kat moet kan muise vang. Dis in ’n ander konteks, maar in Suid-Afrika het dié stelling nogal waarde. Ons het ’n hele paar groot rotte wat ons hier moet vang.”

Jy kry die gevoel dis ’n man wat presies weet hoe om die spel te speel. Berekend, antwoorde deeglik verpak. Min dinge kry hom op hol, erken hy. Emosies bly op hok. Tot jy hom diep in die onderhoud vra wat was vir hom sover opwindend, lékker, by Eskom.

“Dit ís opwindend, die omvang van hierdie uitdaging gee my energie. Soos ’n probleem by een van die kragstasies, (hy gee ’n laggie) vieruur in die oggend – jy werk met ’n span wat toegewyd is, wat wíl saamwerk.

“Ons neem beurtkrag allesbehalwe ligtelik op. Ek is persoonlik betrokke by elke beurtkrag.”

Soos die beurtkrag waaroor die direksievoorsitter Jabu Mabuza op sy swaard geval het nadat die president ’n beurtkraglose feestyd belowe het?

“Ja, gepraat van politieke inmenging: As jy al die feite op die tafel sit en sê as ons dit (beurtkrag) nie doen nie, is die stelsel in gevaar, dan is dit die korrekte, rasionele besluit.”

De Ruyter stem nie saam met Tito Mboweni, die minister van finansies, dat Eskom moet privatiseer nie. “Vroeg in my loopbaan was ek betrokke by die privatisering van die nasionale padnetwerk. Dis ’n risiko om ’n sogenaamde natuurlike monopolie te privatiseer. Eskom se transmissie-afdeling is een. Privatiseer jy dit, dra jy aanspreeklikheid oor na ’n privaat maatskappy. Dit skep risiko.

“Privaat kapitaal het egter wel ’n rol te speel in kragopwekking. Ons benodig veel meer privaat beleggings om ons uitgediende kragstasies te vervang, nie noodwendig net met hernubare energie nie, maar met alle bronne wat sin maak.”

Sy “mandjie ervaring” het De Ruyter voorberei op seker die moeilikste jop in Suid-Afrika. In sy eerste jare by Sasol het hy steenkool wêreldwyd aan kragvoorsieners verkoop. Later was hy verantwoordelik vir Secunda, ’n groot steenkoolverbruiker.

“Ek was dus aan die verkoopkant én verbruikerskant van wat werk in ’n kragstasie en wat nie.” Sasol het hom die wêreld vol gestuur om sukkelprojekte reg te ruk. In Duitsland kon hy en sy span ’n maatskappy wat Sasol nie eens verkoop kon kry nie, regruk tot Sasol se tweede mees winsgewende onderneming.

Sy Sasol-jaar in China het ’n groot impak op hom as mens gehad. “Mense is mense, ongeag watter taal jy praat. Op ’n basiese vlak reageer mense goed as jy hulle menswaardig hanteer.”

Sy vrou, Corné, dogter en tweelingseuns wat vanjaar in matriek is, het saamgetrek, die wêreld oor. Hy wil nie eens sy kinders se name noem nie, versigtig dat sy hoë profiel hulle beïnvloed. Maar vertel darem sy dogter is besig met haar meestersgraad in ekonomie op Maties. “So, ek kry hope gratis advies,” glimlag hy. Hulle debatteer graag oor gedragsekonomie, die veld waarvoor Daniel Kahneman ’n Nobelprys ontvang het. “Met gedragsekonomie kan ons die kultuur van wanbetaling van elektrisiteit regruk.”

Baie van Eskom se ou waardestelsel het mettertyd langs die pad bly lê, en dis iets wat hy nou wil takel, “want op ’n manier gaan ons ’n etiese kontrak met mekaar aan”.

Davies vertel hoe hy en De Ruyter ure lank gesels het oor etiek in die werkplek. “Dis goed om te sien hoe André hierdie kant van hom in sy latere loopbaan ontwikkel het.”

Etiek in Eskom? Dieselfde plek wat volgens die bedryfshoof, Jan Oberholzer, gekaap is? Met sabotasies wat lei tot beurtkrag?

“Ek wil nie die storielyn van wydverspreide sabotasie aanmoedig nie. Kom ons maak eerder seker ons kry die regte mense met die regte vaardighede op die regte plekke.

“Hier ís nog mense wat deel is van die kaperscenario. Ons het begin met ingrypings soos lewenstyloudits.”

Desember het hy deur hope Eskom-verslae en -dokumente gewaad. In die sitkamer, met sy gesin om hom (“dan is ek darem so half by hulle”) het hy die monster wat op hom wag, leer ken.

“Ons is ’n redelik hegte gesin, ons praat oor goed en ons praat met mekaar. En soos baie middeljarige mans waardeer jou tienerkinders nie altyd jou dad jokes nie.”

Maar in raadskamers, vertel Fullerton, moet jy soms koes vir De Ruyter se vlymskerp Engelse woordspelings. “Hy is ’n meester daarmee, so skerp en so baie, dit word naderhand byna ’n straf! Ná sy aanstelling by Eskom het hy gesê hy gaan nou al sy energie daarin stort . . .”

Vra De Ruyter oor die enkele keerpunte in sy lewe, noem hy heel eerste die nywerheidsongelukke by Sasol.

“Dit was altyd vir my persoonlik baie . . . dit het my geraak. ’n Skielike rukwind het een keer ’n groot hyskraan se arm opgelig en omgeswaai tot op ’n kleedkamer waar 27 mense sekondes vroeër verklee het. Op die ou end het een persoon ongelukkig gesterf.”

Vir die eerste keer is hy net André.

“Dit laat ’n baie groot indruk op ’n mens. Ek het myself nou by Eskom, sonder om enigiemand se toestemming te vra, aangestel as die hoofveiligheidsbeampte.”

En dan is die minute verby.

Ek druk ’n laaste vraag in: Wat maak vir André de Ruyter bang, hier op Dag 12 by Eskom?

“Dat ons nie gaan slaag nie. Die impak daarvan. My werk is dus om te verseker dat ons wél slaag, ons het nie ’n keuse nie.”

Gaan hy sy vyf jaar in dié stoel uithou?

Die vraag onthuts hom, duidelik was dit nooit eens ’n kwessie nie. “Ek beplan nie om weg te hardloop nie, maar ek gaan hardloop. Vóór.”

Vrydagaand in 'n telefoongesprek vertel hy van sy ontmoeting vroeër die dag met die president en hoofsekretaris van die National Union of Mineworkers.

“Hulle het gesê hulle het my aanstelling teengestaan want ek is te wit en ek het nie die regte ervaring nie. En toe sê hulle: Maar nou is jy hier en nou gaan ons jou ondersteun.

“Ek het die laaste twee weke met seker meer as 3 000 mense gepraat in toesprake, gehore, forums, en almal sê vir my: Kom ons maak dié ding werk! Daar’s regtig hierdie gevoel.

“Natuurlik is daar opposisie en ouens met belange wat gaan skade ly in die proses, maar die onderliggende sentiment is . . . joeg, baie positief.

“Die ou, goeie Eskom is nog daar, die vasberade manne soos Thomas Conradie, wat na die Lethabo-kragstasie omsien, en Morris Maribane van Duvha, wat my gister met soveel trots en geesdrif en kennis deur die kragstasie begelei het. Dit gee my baie hoop.”

Meer oor:  André De Ruyter  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.