Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Harde kontant kan ook ’n vals noot koop

Op skool het ’n swak punt jou nie baie gehinder nie. Ook nie jou ouers nie, want jy het ewe nonchalant jou ma se handtekening nagemaak en hulle die vernedering gespaar.

Wanneer jy vandag een van jou ou self-getekende vraestelle sien, besef jy jou juffrou was eintlik baie gaaf.

Heinz Mödler

Om geloofwaardige namaaksels te maak, is nie maklik nie. Maar baie lonend as jy jou storie ken. Waarom duisende vir ’n Louis Vuitton-sak of ’n Rolex-horlosie betaal wanneer jy die presiese namaaksel vir ’n appel en ’n ei kan koop? Of duur medikasie koop as daar ’n goedkoper tweede keuse is?

Deesdae het farmaseutiese maatskappye net ’n aantal jare om hul koffers (groot) te vul met opbrengste verdien uit nuwe middels. Nadat hierdie patente tydperk verval het, staan generiese maatskappye nader om presies dieselfde pynpil vir ’n aks van die prys te vervaardig.

Hulle het mos die resep en kan dit bekostig, want hulle het nie vir die oorspronklike navorsing en kliniese proewe betaal nie.

Die begeerlikste item om te vervals, is egter geld. Wanneer jy jou eie geld in die motorhuis kan druk, het jy gearriveer. Nooit weer hoef jy namaaksels te koop nie, want jy het jou eie namaaksels om vir die ware Jakob te betaal.

Hul opdrag was om Britse ponde te vervals.

Maar om geld te vervals, is nie so maklik nie. Die papier wat gebruik word is uniek en bevat boonop ’n watermerk wat egtheid aan elke noot verleen. Dan is daar die kunswerk. Tradisioneel is die kuns op ’n noot baie ingewikkeld en die duisende lyntjies en kolletjies, baie daarvan slegs sigbaar onder ’n vergrootglas, stuit die meeste vervalsers in hul spore.

Die meeste vervalste note is maklik herkenbaar en vervalsers kan nie eens KFC-hoender daarmee koop sonder om in hegtenis geneem te word nie. Om banke te flous is amper onmoontlik. Maar tog moontlik.

Die beste vervalsers van ons tyd was tydens die Tweede Wêreldoorlog bedrywig. Die Duitsers se beursies het begin leegloop en om die oorlog ’n hupstoot te gee, het hulle geld vervals. ’n Groep Jode in Auschwitz wat voor die oorlog vervalsers, drukkers en kunstenaars was, is na Sachsenhausen naby Berlyn gedeporteer. Hul opdrag was om Britse ponde te vervals.

Vir hul moeite het die Duitsers ekstra porsies pap geskep en ’n tafeltennistafel vir ontspanning ingestoot. Die vervalsers se barakke is afgesper van die ander prisoniers sodat hulle in vrede kan werk.

Die vervalste ponde wat hulle gemaak het, was so getrou dat nie net Switserse banke nie, maar ook die Bank van Engeland dit as eg bestempel het.

Operasie Bernhard het ’n allemintige £135 miljoen tot £300 miljoen gelewer. Ná die oorlog moes die Britte nuwe note ontwerp, aangesien vervalste note die ekonomie besoedel het. Toe die oorlog einde se kant toe staan het die Duitsers kiste en kiste vervalste note in die Toplitz-meer gestort. Van hierdie kiste is later uitgeduik en die note op veilings verkoop.

Nou kan jy met egte geld gewaarborgde egte vervalste note koop.

  • Dr. Mödler is ’n medikus, kunstenaar en skrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.