Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Harry en Meghan versplinter die sprokie

Die sprokie het wel langer geduur as die koetsrit deur Windsor, maar is nou deur Harry se “abdikasie” as koninklike beëindig, skryf Arlene Prinsloo.

Daardie lieflike somersdag op 19 Mei 2018 in Windsor sal my altyd bybly. Die opbouende crescendo van gille en uitroepe namate die koets die pasgetroude Sussex-egpaar op die Long Walk tot reg voor my verby neem; en my gille van “Harry! Harry!’’ ’n Regte fan-girl-oomblik.

prins harry, meghan, troue, windsor
Prins William en Meghan op hul troudag op 19 Mei 2018 in Windsor. Foto: Getty Images

Vandag voel ek effens verraai deur Harry. Soveel soos wat die kameraflitse herinnerings aan sy geliefde ma, Diana, teruggebring het, soveel het ek hom ál sy misstappe deur die jare vergewe. Sy halsstarrigheid om dinge op sý manier te doen – à la Diana – het ek met die bewondering van ’n vurige koninklike-aanhanger verduur.

Die aankondiging Woensdagaand dat hy en Meghan terugstaan as senior koninklikes, was ondeurdag en oorhaastig.

Koninklike korrespondente – die einste wat op die Sussexe se webwerf, Sussexroyal.com, almal onder dieselfde rooi Londense bus gegooi word – en kommentators weet al lank iets broei.

Die Sussexe se toer na Suider-Afrika einde verlede jaar was vir talle die keerpunt. Alles, van die ongelooflike verwelkomings in die townships, die koestersessies op die strand, die blom agter die hare in die Bo-Kaap, was perfek vir die kameras, tot die aankondiging van albei se regsoptrede op die vooraand van die afsluiting van hul toer soos ’n stinkbom in ’n bus ontplof het.

Prins Harry en Meghan, hertogin van Sussex, in Johannesburg op die kort koninklike toer wat hulle na Suider-Afrika onderneem het. Foto: Getty Images

Vandeesweek se aankondiging was weer nie deur Buckingham-paleis nie, maar op hul webwerf – Sussexroyal.com – gedoen.

Nou weet ons hoekom hulle nie deur die amptelike kanale gewerk het nie – dit was die begin van hul planne om uit die koninklike koutjie te vlieg.

Koninklike raadgewers agter die paleis se mure kan dalk oorversigtig wees, hul hooftaak is immers nie verniet om eerstens die monargie en dan die prinsipale in dié grootskeepse doku-drama te beskerm nie.

Harry en Meghan se besluit om eerder beeldpoetsers en sosialemediaghoeroes te gebruik, stuur af op ’n ramp.

Met hul besluit om op twee vastelande te woon en te werk, is daar geen probleem nie. Harry is immers miljoene der miljoene pond sterk danksy erflatings deur sy ma en grootouma, en kan bekostig om self ’n rits lyfwagte aan te stel. As kleinseun van die koningin en seun van die volgende koning is sy veiligheid ’n hoofsaak, veral omdat Isis en die Taliban hom graag leed sal wil aandoen omdat hy aktiewe diensplig in Afganistan verrig het.

Frogmore Cottage, langs Windsorkasteel, waar Megha
Frogmore Cottage, langs Windsorkasteel, waar Meghan (37) en prins Harry (34) woon. Foto: Getty Images

En die Britse belastingbetalers gaan nie daarvoor te vinde wees om die sesstuks lyfwagte se beursies vol te maak wanneer die gesin van drie in Brittanje is nie, wat nog te sê van Kanada. Selfs die Kanadese premier, Justin Trudeau, is tjoepstil oor die Sussexe se keuse om in “Noord-Amerika” hul pot goud te gaan vind – nadat hy hulle op Twitter in Kanada verwelkom het toe hulle die Kersvervakansie daar deurgebring het.

Gun ek hom en sy Amerikaanse aktrise/feminis/weldoener- vrou dan nie die privaatheid waarna hulle so hartstogtelik smag nie? Gun ek hulle nie kans om onafhanklik van die monarg (die koningin) se ruim hand self geld te verdien nie?

Die koninklike geskiedenis het vele voorbeelde soos onder andere prins Edward, sy vrou, Sophie, en die vurige rooikop Fergie, wat almal liederlik hul vingers verbrand het toe hulle hul eie salarisse wou verdien. En moenie te vinnig van die koninklike muishond, Andrew, vergeet nie. Met “sy koninklike hoogheid” (SKH) en “prins” vooraan sy naam het hy bedenklike saketransaksies aangegaan om sy luukse lewenstyl te finansier. En kyk net waar het dít hom laat beland, en moenie vergeet van sy vriendskap met die veroordeelde seksoortreder Jeffrey Epstein, wat juis as ’n soort van sakekoppelaar vir Andrew opgetree het, nie.

harry instagram
Die skokkende plasing op Instagram.

Harry het sy geboortereg nou vir ’n spreekwoordelike lepel klatergoud verruil. Natuurlik sal hy as gasspreker, klimaatsaktivis, voorstaander van vroueregte en as TV-aanbieder saam met die grootse Oprah Winfrey suksesvol wees. Hy is immers naas die koningin die gewildste koninklike in Brittanje. Die vraag is egter of SKH binne die volgende paar dae nog voor sy naam gaan wees.

Toe Diana met haar egskeiding van Charles voortydig ’n verklaring uitgereik het om te bevestig dat sy haar voorregte en titel sal behou, was die paleis (lees die koningin) vinnig om haar te repudieer. Diana is sonder die titel “haar koninklike hoogheid” (HKH) begrawe, iets wat William glo gesê het hy sal regstel die dag wanneer hy die koning word.

Met die top-drie lede van die gesin wat nie van die voortydige verklaring geweet het nie en planne wat nou in die paleis vir Harry en Meghan se bedankingsdokument gemaak moet word, sal dit bes moontlik die maklikste wees om die twee bloot van hul koninklike titels te ontneem.

Self Edward VIII, wat die kroon prysgegee het vir sy Amerikaanse geskeide liefde, Wallis Simpson, was ná sy abdikasie steeds ’n SKH. Hoewel Wallis in naam die hertogin van Windsor was, was HKH haar nooit beskore nie.

En hoewel Harry en Meghan self hul media gaan bestuur – natuurlik op sosiale media – het die losprys op hul koppe vir steelfoto’s pas vervyfdubbel.

Charles gaan beslis nie sy jongste seun op straat laat sit nie, maar kan ook sy beursie stywer toeknyp vir sy hardkoppige jongste. Tans ontvang Harry miljoene ponde per jaar.

Die tweetjies sal wel, indien hulle in hul pas opgeknapte woning, Frogmore Cottage, wil aanbly, markverwante huur moet betaal.

Prinsesse Eugenie en Beatrice betaal huur. Zara en haar broer, Peter, bly op hul ma, prinses Anne, se landgoed. Nie een van dié kleinkinders kry ’n koninklike toelae soos Harry nie.

Arlene Prinsloo

Die Britse belastingbetalers gaan ook nie te vinde wees om ’n pennie vir óf dié woning óf hul lyfwagte te betaal nie.

In ’n wêreld van oorweldigende armoede en ellende was Harry en Meghan se gekerm oor die media en die kollig een te veel.

In die heerskappy van die toekomstige konings Charles III en William V is hulle buitendien net byspelers. Tog sou ’n skeut respek vir Harry se geliefde ouma, ’n toonbeeld van selfopoffering en diens, welkom gewees het.

* Prinsloo is ’n webredakteur van Netwerk24. Sy het oor sowel Harry as William se troues en ook oor hul ma, Diana, se dood verslag gedoen. 

Meer oor:  Megxit  |  Prins Harry  |  Meghan Markle  |  Meghan En Harry  |  Koninklikes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.