Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hef aan lê voor vir Ramaphosa

Adj.pres. Cyril Ramaphosa het uiteindelik ’n duidelike onderskeid tussen hom en pres. Jacob Zuma getref deur die onlangse katastrofiese kabinetskommeling en die omstrede Gupta-gesin met mekaar in verband te bring.

Ramaphosa het in baie kringe onder skoot gekom oor sy stilswye oor Zuma se roekelose magsvergrype, maar hy het Sondag in Uitenhage op ’n gedenkdiens vir die SAKP-leier Chris Hani, wat 24 jaar gelede vermoor is, ’n oproep om ’n kommissie van ondersoek oor die bewerings van staatskaping gedoen – iets wat Zuma duidelik nie wil doen nie.

Ramaphosa het gedoen wat talle van sy ondersteuners al lank van hom verwag. Met dié stap tref hy ’n duidelike onderskeid tussen hom en die ander gunsteling om Zuma op te volg, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma.

Hy het nou sy stalletjie vir skoon regering uitgepak en kan op dié wyse druk op Dlamini-Zuma plaas om op te hou om die kwessie te ignoreer.

Ramaphosa kan ook nou voortgaan in die wete dat hy die ondersteuning het van duisende mense wat die afgelope weke oral in die land in protesaksies op Zuma se bedanking aandring.

Hy sal egter sy stryd na die binnekamers van die ANC moet neem om takke – wat in Desember in die nasionale verkiesingskonferensie gaan stem – te oortuig dat hy die beste kandidaat vir die ANC-leierskap is.

Hy kan egter verseker wees dat Dlamini-Zuma en haar eksman geen steen onaangeroer sal laat om te keer dat hy slaag nie.

Hopelik besef Ramaphosa nou dat die leierskap van die ANC (en daarna die land) nie sommer net so in sy skoot gaan val nie. Met sy uitlatings in Uitenhage het hy nou die geveg regstreeks na sy teenstanders geneem.

Gewone Suid-Afrikaners kan hom help deur seker te maak dat die ANC in 2019 by die stembus sukkel. Dit sal beteken dat groot getalle ANC-kiesers moet doen wat hulle verlede jaar in die plaaslike verkiesings gedoen het.

Suid-Afrikaners is duidelik sat vir korrupsie en wanbestuur.

Suid-Afrikaners is duidelik sat vir korrupsie en wanbestuur. Die vraag is egter of ANC-kiesers ook so voel en bereid is om teen hul party te stem.

Ramaphosa kan hom kwalik vir ’n stem téén die ANC beywer. Sy geveg is teen Zuma en Dlamini-Zuma, en die gevegsone is binne die ANC. Nie veel van Ramaphosa se slaggereedheid vir dié geveg is bekend nie.

Dis ook onbekend hoe goed sy organisasie is om ANC-kiesers op takvlak te bereik.

Onthou, in die provinsies waar hy goed moet vaar – Limpopo, KwaZulu-Natal, Noordwes en Mpumalanga – kom hy te staan teen die gedugte sogenaamde premierliga wat al jare lank namens Zuma organiseer. Dit is ’n goed gevestigde front wat hom ongetwyfeld vir Dlamini-Zuma sal beywer.

Ramaphosa se kanse is waarskynlik die beste in Gauteng. ANC-lede in die ekonomiese hartland is baie ontevrede met Zuma se leierskap en sal nie nóg ’n Zuma in Luthuli-huis wil sien nie.

Die probleem is egter dat Gauteng nie oor genoeg stemme beskik om op die nasionale verkiesingskonferensie ’n indruk te maak nie.

Kyk maar net hoe klaaglik het hulle in 2012 misluk om Kgalema Motlanthe teen Zuma verkies te kry. Hul pak slae het aan die skandelike gegrens.

Hopelik sal ons Ramaphosa se stem in die aanloop tot Desember meer gereeld en hard hoor.

Die atmosfeer in die land blyk ryp te wees vir ’n anderse leier, iemand wat korrupsie en alles wat daarmee saamgaan, verag en die belange van Suid-Afrikaners altyd voorop sal stel.

  • Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator. Hy kan by @bokj op Twitter gevolg word.
Meer oor:  Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.