Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heilige Week in ’n tyd van korona-krisis

Vandeesweek gedenk Christene Heilige Week in die konteks van die wêreldwye koronavirus-pandemie. Op Palmsondag, Heilige Maandag, Dinsdag en Woensdag, Witte Donderdag, Goeie Vrydag en Stille Saterdag onthou ons die lyding en sterwe, godverlatenheid en hel wat Christus ervaar het.

Die lyding en kruisiging van Christus dra die boodskap dat God met ’n lydende wêreld vereenselwig. Te midde van ons lyding op aarde ervaar ons hemelse solidariteit.

Die God wat ons in die gekruisigde Christus leer ken, is die lydende God, soos Jaap Durand God beskryf in sommige van sy publikasies.

Hierdie God is nie veraf, onbetrokke en apaties nie. God is betrokke by ons in ons lyding. God vereenselwig en betoon medelye met ons in ons siekte en sterfte, seerkry en swaarkry, stukkendheid en sukkel, lyding en leed, duisternis en donkerte, skok en skrik, en onsekerheid, angs en vrees.

In hierdie tyd van die koronavirus leef ons dus met die salige wete dat ons nie alleen is nie, maar is ons verseker van hemelse solidariteit. Ons weet dat God waarlik vir ons Immanuël is – God by ons teenwoordig, God met ons onderweg die onseker toekoms tegemoet, God nooit teen ons nie, maar God altyd vír ons.

In hierdie tyd van die korona-pandemie sien ons hoe mense verklarings probeer bied vir die vraag oor God en die lyding.

In een van sy mees aangrypende preke praat Allan Boesak oor die vierde wese wat saam met Daniël se drie vriende – Sadrag, Mesag en Abednego – in die vuuroond is (Daniël 3). Hy beklemtoon dat hulle nie weet of hulle bevryding uit die vuuroond sal ervaar nie, maar wat hulle wel weet, is dat hulle nie alleen is in die vuuroond nie. Dis vir hulle genoeg om te weet in die vuuroonde van die lewe is God met ons.

In hierdie tyd van die korona-pandemie sien ons hoe mense verklarings probeer bied vir die vraag oor God en die lyding.

Jy lees van eeue oue verwyte wat opnuut aan God se adres gerig word. Hoe kan ons ’n pandemie wat soveel lyding bring, laat rym met geloof in ’n God wat tegelyk almagtig en volmaak goed is? ’n God wat almagtig is, kán mos die pandemie keer, en ’n God wat volmaak goed is, wíl mos die pandemie keer.

Oor die eeue heen is sogenaamde teodisee, regverdigings van God, geformuleer as response op hierdie vraag. Die Nederlandse teoloog Hendrikus Berkhof het tereg gesê bykans al hierdie pogings kom staan uiteindelik te ver van die bed van siek en sterwende mense.

Dit is dalk nie intellektuele luiheid of intellektuele selfmoord, irrasionaliteit of wensdenkery om te bely dat deur Christus se wonde alle wonde uiteindelik genees sal word nie. Dat deur Christus se bloed alle bloedvergieting sal stop, dat deur Christus se lyding alle lyding uiteindelik sal verdwyn.

Dis dalk van die troosrykste realiteite dat ons die stryd teen die koronavirus met hemelse solidariteit aanpak.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Paasnaweek  |  Koronavirus  |  Pase  |  Koronakrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.