Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heimwee help bou aan nuwe samelewing

Verlede week plaas ek spontaan ’n foto van myself en ’n kollega op Facebook. My seun lees dit en laat hom soos volg uit: “Een van die beste uncles ever!”

By die lees daarvan skiet my oë vol trane. My kollega is ’n wit Afrikaanssprekende persoon saam met wie ek sedert 1995 werk – eers by die Hugenote Kollege en later by Maties.

My dogter vertel gereeld van haar “uncle” wat haar van kleins af met ’n tere troetelnaam koester. Hierdie “uncle”, eweneens ’n kollega by Maties, is Xhosasprekend.

Hulle is verteenwoordigend van meer sulke vriendskappe.

Só kort voor Jeugdag en Vadersdag, wat vanjaar saamval, gryp my volwasse kinders se vertellinge my aan die hart. Hul opregte en spontane toegeneentheid teenoor hierdie vriende en hul gesinne maak ’n mens se oë natterig. Hulle sê mos as ’n mens se oë onverklaarbaar vol trane skiet wanneer jy iets moois ervaar, moet jy weet dis heimwee na die hemel.

Daai klein stukkie mooi wat jy ervaar, laat jou verlang na die moontlikheid van ’n wêreld wat anders is.

Daai klein stukkie mooi wat jy ervaar, laat jou verlang na die moontlikheid van ’n wêreld wat anders is – die wêreld waarvan Martin Luther King Jr. in sy onvergeetlike “I have a dream”-toespraak droom: “I have a dream . . . that one day right down in Alabama little black boys and little black girls will be able to join hands with little white boys and little white girls as sisters and brothers . . .”

Hy droom van daardie dag “when all of God’s children, black and white, Jews and non-Jews, Protestants and Catholics, will be able to join hands and sing . . . Free at last! ”

Die heimwee na die hemel word deur klein tekens van ’n nuwe, verenigde wêreld sonder rassisme, klassisme, seksisme, homofobie en ander vorme van diskriminasie, vervreemding en onreg gevoed. Hierdie heimwee maak energie en entoesiasme los om vir ’n nuwe samelewing te werk.

Mense soos hierdie “uncles” is mense wat die publieke deug van aandag skenk beoefen. Hulle stel oor jare heen eg belang in kinders.

Hulle maak tyd, vra uit, vermaan, bemoedig, gee raad. Hulle vertroetel selfs en koester kinders en jong mense. En hulle doen dit oor taal-, kultuur- en kleurgrense heen. Hulle demonstreer ’n nuwe normaal, die eintlike normaal, die Bybelse, hemelse normaal.

Hul klein druppels water vorm die oseane. Hul klein korrels sand bou die vastelande. Oseane en vastelande van aandag skenk oor alle grense heen. Ons is aan ons kinders en kleinkinders niks minder verskuldig as om koesterende en “die beste uncles en anties ever” oor allerlei grense heen te wees nie.

Vadersdag en Jeugdag is ’n wekroep, want polarisasie in verskeie vorme en jong mense wat ouerloos en ongeborge voel, neem immers wêreldwyd toe.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Rassisme  |  Hoop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.