Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heimwee oor Oom Skakel

Ek glo nie aan spoke nie, maar dalk dwaal hy met sy grys borselkop, skerp ogies, bakore en kort gestalte op ’n huppelstappie (hy was altyd haastig) snags in Nasionale Pers se ou tydskriftegebou in Keeromstraat, Kaapstad, rond.

Skakel Kriek, sekerlik die suksesvolste oudredakteur in die 100-jarige bestaan van Landbouweekblad. Ek het “Oom Skakel” onthou toe Landbouweekblad se eeufees vandeesweek gevier is. Ja, redaksielede het hom “oom” genoem! Vandag ongehoord. (Dr. Bart Zaaiman, eertydse redakteur van Die Volksblad, is ook “oom” genoem.)

Johan van Wyk

Die joernalistiek was Skakel Kriek se lewe. Selfs ná sy aftrede het hy tot diep in die 80 nog Persoonlik, die eertydse geliefde rubriek oor mense se lief en leed, by Die Burger behartig.

Hy was ’n gebore Vrystater en het die bynaam “Skakel” gekry omdat sy broer as “Ketting” bekend was.

Sy joernalistieke loopbaan het by Die Volksblad in Bloemfontein begin – die oudste Afrikaanse koerant, waar Landbouweekblad op 21 Mei 1919 gestig is.

Hy kon ’n storie soos n bloedhond uitruik. Die resultaat was byna altyd ’n scoop wat sy belangrikste mededinger week ná week koudgesit het. Dit het Landbouweekblad se sirkulasie binne ’n paar jaar verdriedubbel.

Redaksielede, gewapen met Rolleiflex-kameras en tikmasjiene, is dag ná dag oor die lengte en breedte van Suid-Afrika, die ou Suidwes en selfs Rhodesië agter stories aan gestuur. Ekself het Suidwes vyf weke lank van onder tot bo in ’n Volkswagen-kewer deurkruis. Wat deur die dag ingesamel is, is saans in hotelkamers in berigte en artikels omskep. Soggens by die poskantoor is die stories in perstelegramme en foto’s per landlyn versend. Die nuus moes warm uit die oond wees. Sy woorde wanneer hy my op die pad gesit het agter ’n nuusstorie aan was altyd: “Onthou, Johnie, ou nuus, ís ou nuus! Niemand lees dit nie.”

Hy was ook een van die eerste redakteurs wat mooi meisies (by ’n ewe mooi plaasdier) op die voorblad ingespan het. As sy effens been gewys het, des te beter. Maar darem altyd in goeie smaak sodat ’n boer nie sy Landbouweekblad hoef weg te gesteek het wanneer die predikant huisbesoek doen nie.

“Die arme boere kry swaar genoeg, gee hulle iets vir die oog en moenie die humor vergeet nie!” was sy leuse. Dis steeds myne.

Hy was ook die skepper van die sogenaamde “suksesstorie”, oor uitblinkerboere en hoe hulle geld maak. Hy wou niks weet van armoede, sprinkane, droogte en versukkeling nie. Wanneer ’n onderwerp voorgestel is, wou hy weet: “Is dit betalend, kan ’n boer daaruit geld maak ?”

Kyk hoe verlang ek nou terug!

Meer oor:  Skakel Kriek  |  Johan Van Wyk  |  Rubriek  |  Menings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.