Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: As ons nie saam kan swem nie, verdrink ons . . .

Dit is die blaasinstrumente en die liedereboek tussen die oorblyfsels van historiese wonings wat my die meeste getref het van Brian Engel se Wuppertal-brandfoto’s op Facebook dié week: vernietig, verskroei, veras.

Maar dit was terselfdertyd opbeurend om te sien hoe mense saamgespan het in gebed en in skenkings vir die slagoffers, veral dié wat dakloos gelaat is deur ’n tragedie wat moontlik deur brandstigting veroorsaak is.

Moes dit egter ’n brand kos om die land se oë op die afskeep-aandag van mense in gehuggies soos Wuppertal te rig – en veral op hoe talle belangrike kultuurbates agteruitgaan weens ’n tekort aan finansiering?

Ons gedeelde erfenis het die afgelope dae ook op ander wyses ter sprake gekom.

Die sotlike plan van die eThekwini-munisipaliteit om ’n Jacob Zuma-album met struggleliedjies op te neem, kan as niks anders nie as ’n verkiesingstruuk beskou word om vir die ANC steun in die provinsie te verseker.

Maar hoeveel van hierdie waardes en beginsels was teenwoordig in die optrede aan albei kante van die Clifton-strandkonflik?

Wat baat dit dat Zuma een van min is wat nog gereeld die liedjies sing nadat hy in elk geval die struggle versaak het met sy staatskapingsingesteldheid toe hy aan die bewind was?

Wie gee om dat dié liedjies sal uitsterf, terwyl mense in landelike gebiede van KwaZulu-Natal sterf van honger en siekte?

En dan sê Ramaphosa in sy Nuwejaarsboodskap dat ons met die eeufeesvieringe van Nelson Mandela en Albertina Sisulu se geboortedae verlede jaar “ons opnuut verbind het tot die waardes en beginsels wat hulle verpersoonlik en voor geveg het – gelykheid, waardigheid en integriteit”.

Maar hoeveel van hierdie waardes en beginsels was teenwoordig in die optrede aan albei kante van die Clifton-strandkonflik?

Of het dit eerder ons bereidwilligheid gewys om die waarheid te verdraai vir beheer oor die “bestuurderlose motor”, soos Time se hoofredakteur, Edward Felsenthal, na sosiale media verwys?

Nie een van die groepe wat daarvan deel was, kan hoop om deur die seewater skoongewas te word nie. Dit geld sowel die ANC, EFF, BLF as die sogenaamde Black People’s National Crisis Committee (van waar, Gehasi, wil ek oor laasgenoemde vra) – en beslis ook die rassiste wat onder die dekmantel van diereregte ander mense se kultuurgebruike as “barbaars” afmaak.

Hoe goed sal dit nie wees nie as die gebeure ons tot nadenke stem oor die nalatenskap van dit wat sleg was van die verlede – of dit nou die invloed van sendelingskap was of aparte strande vir verskillende rasgroepe – en hoe ons vandag die negatiwiteit in positiwiteit kan omskep.

Die jaarlikse Tweede Nuwejaar-karnaval in Kaapstad (as ’n mens nie meer “klopse” durf sê nie) illustreer tog iets hiervan: Uit die lyding van slawerny het dit ontstaan om tot een van die onmisbare aktiwiteite op die nasionale kultuurkalender te groei. Nogtans bly dit ’n pynlike herinnering, om prof. Sean Jacobs, ’n boorling van die Kaapse Vlakte en nou professor in politiek in Amerika, se woorde te gebruik, “van wat deur gedwonge verskuiwings tot niet gemaak is”.

In die gees van die Amerikaanse burgerregteleier dr. Martin Luther King jr. dan: As ons nie ons kultuurbates saam in stand kan hou nie, “gelykheid, waardigheid en integriteit” uitleef nie – en nie leer om saam te swem nie, sal ons saam verdrink.

  • Hierdie rubriek is geskryf op ’n besoekende skrywersverblyf by die Jakes Gerwel-huis in Somerset-Oos.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.