Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: Bruin mense moet deelneem aan die gesprek

Verlede Saterdag by ’n Woordfees-gesprek oor bruin en swart belewenisse van die Afrikaanse leef- en denkwêreld vra die oud-onderwysman Dennis Malgas waarom daar voortgegaan word met die gebruik van sogenaamde “ekstras” in die Afrikaanse media.

Dit was immers sy hoop dat die Afrikaanse media genormaliseer sou word nadat die destydse “ekstra”- (of bruin) uitgawes van Rapport en Die Burger beëindig is. Nou sien hy egter dieselfde aanslag in die bruin vrouetydskrif Kuier en in die bruin poniekoerant Son en Son op Sondag.

Geen van die paneellede – Mercy Kannemeyer (M-student in drama en dramaturg), Jeremy Veary (skrywer en speurhoof), Astrid de Vos (Dagbreek Trust) en Hein Gerwel (US-dosent en trustee van die Jakes Gerwel-stigting) – was mediaverteenwoordigers nie.

Ek, die gespreksleier, as’t ware ’n produk van die “Ekstras”, het derhalwe ingetree met ’n (bevooroordeelde?) reaksie op Malgas se betoog.

My vertrekpunt was die wyse waarop die “Ekstras” stem gegee het aan ’n stemlose gemeenskap deur op maatskaplike kwessies te fokus, presteerders uit te lig, en rolspelers bekend te stel.

Skeptici sal straks hierdie rubriek lees en my daarvan beskuldig, soos die Khoi-rymkletser Jethro (Boetman) Louw die afgelope week op Facebook gedoen het, dat ek as ’n hedendaagse bevoorregte natuurlik “die baas” sal napraat.

Self was ek gekant teen die sluiting van dié platforms van bruin uitnemendheid, het ek gesê, want dit sou noodwendig beteken dat baie van wat voorheen die (bruin) koerantblaaie gehaal het, nou sou moes meeding met hoofstroom-, stedelike, “wit” nuus.

Die uiteinde was ’n afskaling van nuus wat vir die “Ekstra”-leser, in besonder die plattelander, belangrik was – of dit nou ’n profiel oor die plaaslike posduifkoning was of ’n berig oor die prysuitdeling van die Wellington-krisantevereniging.

Maar dit sou verskriklik oneerlik wees (agterbaks, moedswillig) indien jy nie ook daarop wys hoedat dinge in die Afrikaanse hoofstroommedia tog verander het nie, hetsy wat die nuusdekking en meningsblaaie van koerante en Netwerk24 betref, of op RSG, LitNet, en bepaald ook op kykNET en kykNET & kie.

Skeptici sal straks hierdie rubriek lees en my daarvan beskuldig, soos die Khoi-rymkletser Jethro (Boetman) Louw die afgelope week op Facebook gedoen het, dat ek as ’n hedendaagse bevoorregte natuurlik “die baas” sal napraat. Om stil te bly oor die geleenthede wat mense soos ek vandag in die Afrikaanse mediawêreld geniet, sou egter skynheilig wees.

Dit is in sekere opsigte vandag onsself wat ons mense – en onsself – die geleenthede om gehoor te word, ontneem.

Hoe besluit jy byvoorbeeld watter uitnodigings na openbare gesprekke jy aanvaar? Waarom meen jy dit is aanvaarbaar om te onttrek omdat die titel van ’n gesprek jou ongemaklik laat, maar sien nie die nodigheid om jou standpunt te verduidelik nie?

En hoe bied jy ’n gesprek oor die stand van die Afrikaanse media aan en slegs twee bejaarde, manlike Afrikaner-mediapersoonlikhede vorm die paneel? Gewis het hulle alle reg om deel te neem en ek het nog altyd veel respek vir hulle gehad, maar wat is die beeld wat in so ’n geval uitgestuur word?

Die Woordfees-gesprek, genaamd “Hot noot”, ’n Jakes Gerwel-skepping vir ’n anderste, selfs linkse stem in Afrikaans, het vooraf die wenkbroue laat lig. Maar uiteindelik het dit tot hierdie insig deur die skrywer Hans Pienaar aanleiding gegee in sy artikel daaroor vir LitNet: “Afrikaans moet nou ’n era van die opkoms van nuwe vorme, nuwe velde betree, gelei deur die tone van die hot noot.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.