Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: Die boodskap wat een foto die wêreld instuur

Gedagtig daaraan dat die Kongo (DRK) se bevrydingsheld Patrice Lumumba op 17 Januarie 1961 vermoor is, het ek Donderdag Congo, My Country van die rak gehaal. In dié boek vra Lumumba: “Het elkeen van ons, ongeag ons status in die lewe, dan nie die reg om ons menswaardigheid te beskerm en van ander te verwag om respek teenoor ons te betoon nie?”

Maar so dikwels, wanneer jy kla oor ander se gebrek aan bedagsaamheid, word jy beskuldig dat jy te sensitief is, skryf hy in die konteks van die Kongolese se verhouding ná onafhanklikwording met die eertydse Belgiese koloniale heersers.

“Dit is nie ’n kwessie van sensitiwiteit nie,” beklemtoon hy dan, “maar van wedersydse respek.”

Die belangrikheid hiervan word aangedui deur die Schweizer-Reneke-fotodrama. In die nadraai hiervan, het die geskorste juffrou, Elana Barkhuizen, haar waardigheid en reputasie verdedig.

“Ek is ’n goeie juffrou,” het sy Dinsdag verklaar. “My werk is nie politiek nie, maar klasgee ( . . .) vir kinders, bloot omdat hul kinders is ( . . .), ongeag ras of agtergrond.”

’n Mens móét met haar simpatiseer – en ek doen dit wel. Niemand verdien om verneder te word soos wat sy moes verduur nie.

Soos wat dit klink, was sy gewoon op die verkeerde tyd op die verkeerde plek – met ’n selfoonkamera in ’n kollega se klaskamer. Dit is toe sy ’n foto van ’n handvol swart kinders (by ’n tafeltjie in ’n hoek) en ’n groter groepie wit kinders (in die middel van die klaskamer) geneem het.

’n Mens wonder dan of die wit kinders ook baie bang is wanneer hulle in gr. R kom en nie die swart kinders ken of Tswana kan praat nie?

Barkhuizen vertel sy sien jaarliks “kinders wat voor my sit . . . almal bang en onseker oor dieselfde dinge”. Oor dieselfde dinge? Het juffrou op Netwerk24 gelees hoe ’n swart ouer vertel “dat die swart kinders baie bang is wanneer hulle in gr. R kom en nie die wit kinders ken of Afrikaans kan praat nie”?

’n Mens wonder dan of die wit kinders ook baie bang is wanneer hulle in gr. R kom en nie die swart kinders ken of Tswana kan praat nie?

Of word die wit kinders in hul kinderlike onskuld gerusgestel deur die aanvaarde verwagting of praktyk dat swart altyd in sulke omstandighede assimileer – eerder as dat wit en swart opreg integreer: “My seun het binne vier dae Afrikaans begin praat,” sê die swart ouer trots, maar daar is geen aanduiding van hoeveel wit kinders binne vier dae Tswana begin praat het nie.

Waarop hierdie agtergrondmusiek dui, terwyl Barkhuizen ten regte veg om haar naam skoon te kry, is die noodsaaklikheid van ’n deeglike nié-regeringsondersoek – nie net na die spesifieke voorval nie, maar wel na die werklike, indien versteekte, stand van rasse(mags)verhoudinge by skole soos dié een op Schweizer-Reneke.

In sy Netwerk24-artikel “Schweizer-Reneke, apartheid en rassisme” skryf Flip Buys van Solidariteit: “Die enigste oplossing vir rasseverdelings is goeie regering en wedersydse erkenning en respek tussen mense en gemeenskappe.”

Wat die Schweizer-Reneke-geval betref, behoort dit ook goeie skoolbestuur, onder meer deur diversiteitsopleiding vir personeel, in te sluit.

Want dalk sou die goeie juffrou Elana Barkhuizen haarself dan eers afgevra het: “Watter boodskap sal die foto na buite stuur?”

Nou sit ons met wat Lumumba in sy boek ’n krisis van vertroue genoem het.

* Heindrich Wyngaard is ’n televisieaanbieder op die kanaal kykNET & kie.

Meer oor:  Schweizer-Reneke  |  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.