Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: Kom ook die armes tegemoet in NGV-insette

Die afgelope Vrydag se malligheid met Swart Vrydag-uitverkopings het my laat wonder hoekom dié verskynsel nie ook verleng word na byvoorbeeld “afslag”- toegang vir arm mense tot mediese fondse nie.

’n Malle idee, nè? Maar die naderende feestyd is ook ’n tyd vir droom, is dit nie?

Boonop is die swak gesondheidsorg waarmee die arm mens daagliks vir lief moet neem by openbare gesondheidsorgfasiliteite, hetsy hospitale of klinieke, tog oorbekend. Jy slaap, soms vir ure, op die sitplekke of vloer van die noodgevalle-afdeling. Noodgevalle! Jy moet jou eie beddegoed saamneem, jou familie moet jou kom voed en bad. Die personeel loop verby asof hulle gehoorprobleme het.

Die voorvalle is legio; die verhale grusaam.

En daarom het ’n mens begrip vir die angs in die stemme van diegene wat teen die karre skop oor die voorgenome Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) waardeur die regering gehalte-gesondheidsorg vir álle landsburgers wil verseker.

O, nee, gil hulle verontwaardig. Hoe op dees aarde kan so ’n omvattende plan werk as dit gaan soos wat dit gaan by die bestaande staatsbestuurde gesondheidsorgfasiliteite? Wanneer infrastruktuur in duie stort, wanneer dit só vuil en die personeel só lui is (die goeies uitgesluit); en wanneer siekes asof reeds dood behandel word?

My wens is dat private gesondheidsorgverskaffers se insette insluit dat hulle bereid is om hand en hulpbronne by te sit vir ’n saamwerkplan om die verbetering van staatshospitale en -klinieke te verseker.

En dan, gemaak besorgd, vra die NGV-teenstanders waarom verseker die staat nie eerder éérs ’n verbetering van bestaande gesondheidsdienste nie? Waarom nie dít nie, waarom nie dát nie?

Maar wat hulle eintlik meer bekommer is dat hulle ná die inwerkingstelling van die NGV private gesondheidsorgfasiliteite met die arm massa sal moet deel.

Dié arm massa het nie tans lidmaatskap van mediese fondse nie – en dit is in hoofsaak ’n swart massa, luidens die nuutste syfers oor ongelykheidstendense van Statistieke Suid-Afrika (SSA), wat byna vanselfsprekend moet wees as jy ook die land se (swart) werkloosheidsyfer en (skeefgetrekte) inkomstevlakke onder die verskillende bevolkingsgroepe in berekening bring.

Slegs 10,1% van die swart bevolking het in die SSA-opname aangedui dat hulle toegang tot mediese fondse het teenoor 72,4% van die wit bevolking, omtrent 20,2% bruin huishoudings en 48,9% van Indiër- en Asiese gesinne. Dit beteken agt uit tien swart huishoudings maak van openbare gesondheidsorg gebruik – en net een uit tien wit huishoudings.

Die voordele wat mediese fondse hul lede (ten duurste) bied, is die armes dus nie beskore nie. Hulle bevind hulle aan die ontvangkant van ongesteldheids-apartheid wanneer dié gewraakte vraag met hul aankoms by apteke en dokter-spreekkamers gestel word: “Mediese fonds of privaat/kontant?”

Dié vraag bepaal dikwels waar jy sit of staan in die spreekkamer of tou, of jy die beste of mees bekostigbare medisyne kry en ook hoeveel tyd die dokter aan jou bestee – selfs in staatsklinieke of hospitale, want dalk moet dokter nou-nou wegkom om vir ekstra inkomste te gaan locum by ’n private praktyk.

Die afgelope Vrydag was die laaste dag dat die publiek kommentaar oor die NGV-wetsontwerp kon indien.

My wens is dat private gesondheidsorgverskaffers se insette insluit dat hulle bereid is om hand en hulpbronne by te sit vir ’n saamwerkplan om die verbetering van staatshospitale en -klinieke te verseker.

Hierdie is immers die enigste tyd van die jaar “wat ons lewe asof daar ’n môre is”, soos Ronelda S. Kamfer in haar gedig “krismis-stamps” skryf.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.