Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: Liefs kondome as ooievaars in seks-leerplan

Die komediant en akteur Soli Philander het gedurende die ontstaan van die Kaapse geselsradiostasie Cape Talk sy buiging as aanbieder gemaak met onder meer ’n storie oor twee seuns, ’n patio en ’n kondoom.

Philander het aangedui dat een seun bruin was en die ander wit. Wat die oorsprong van die storie was, kan ek nie nou onthou nie, maar dit het daarop neergekom dat aan die seuns vertel is dat daar ’n kondoom op ’n patio lê.

Volgens Philander se weergawe vra die wit seun toe: “Wat is ’n kondoom?” En die bruin seun vra glo: “Wat is ’n patio?”

Ek moet bieg dat ek een van die luisteraars was wat dit snaaks gevind het, maar ek haal die storie nou hier op omdat ek onthou dat ’n klompie luisteraars ook hul misnoeë daaroor te kenne gegee het.

Wat hulle gepla het, was nie die ietwatse stereotipering wat deur die storie gedemonstreer is nie – dat bruin kinders vroeër as hul wit tydgenote “ryp” sou wees; dit was eerder die verwysing na ’n kondoom op gesinsradio wat hulle omge-êllie gelaat het.

Hierdie soort onkunde of ontkenning of straks ook skynheiligheid vind ons nou weer in van die reaksie op die voorgestelde nuwe seksvoorligting-kurrikulum.

Preutsheid is nog altyd as ’n teken van reinheid beskou.

O, gaats, nee, roep ons in verontwaardiging uit. Hoekom moet kinders van vroeg die vieslikheid van vaginas en masturbasie en anale seks geleer word?

En dis te verstane. Preutsheid is nog altyd as ’n teken van reinheid beskou. Hoe minder jy weet (én doen), hoe beter is jy. Die ander is van die duiwel af.

Jy is immers nie veronderstel om té vroeg te weet dat jy gebore is nadat jou ouers met mekaar seks gehad het nie; op jóú jonge ouderdom is dit voldoende om jou weetgierigheid te sus met die aandoenlike verhaal dat kinders ooievaar-“geskenke van Jesus” is. En as jy te slimbek of astrant is daarvoor dan is dit, soos wat mamma of pappa of ouma of oupa jou mos gesê het, ’n bewys daarvan dat jy eens ’n bobbejaantjie op die berg was wat ons mak gemaak het om tussen mense in te pas, of sulke belaglikhede.

Dít in ’n land waar kinders elke dag deur skoolvriende, nabye familielede, kerkleiers, misdadigers – én opvoeders – seksueel mishandel word; en waar tienerswangerskappe mode raak.

Wil jy dan steeds liewer hê die kind se onskuld moet beskerm word sodat ouer kinders of volwassenes dit kan uitbuit? Hoe laat dit jou voel wanneer ’n meisietjie – uit onkunde – vra waarom die seun op haar “gepiepie” het of wanneer ’n seun – ewe onkundig – sê die oom het met sy “tollie” gevroetel?

Dis juis as ons reguit met kinders oor hierdie ongemaklike kwessies begin, praat dat ons ’n beter kans het om hulle te beskerm en te bemagtig om hulself te beskerm.

Soos die kinders sê “kom net by”.

En wanneer ons by is, sal ons dalk met verontwaardiging begin reageer daarop dat daar nog putlatrines by arm skole is; dat arm skole se rekenaarkamers herhaaldelik geplunder word omdat die skool nie bykomende veiligheidsmaatreëls kan bekostig nie; en dat soveel arm skoolkinders daagliks kilometers te voet moet aflê om hul reg op opvoeding te kan uitoefen.

Wanneer die struikelblokke die dag oorkom word, sal ál ons kinders weet wat ’n kondoom én ’n patio is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.