Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: 'Verbied die ou vlag' – en wat is volgende?

April is ’n belangrike maand in ons land se geskiedenis: In April 1652 het Jan van Riebeeck aan die Kaap geland, wat uiteindelik gelei het tot die verontmensliking van die inheemse groeperinge; in April 1994 is die eerste nie-rassige, demokratiese verkiesing gehou en is Nelson Mandela as eerste swart president ingehuldig.

Vanjaar vier ons 25 jaar ná daardie verkiesing en dit bied ons ’n geleentheid om bestek op te neem oor hoe ver ons in hierdie land gekom het – wég van Van Riebeeck-wees en náder aan Madiba-word.

As die oorhoofse nalatenskap van die Van Riebeeck-era verdeeldheid en die verbrokkeling van menseverhoudings is, dan is Mandela s’n nasiebou en versoening. Het hy dan nie ná 27 jaar in die tronk sy eertydse politieke vyande vergewe en saam met tannie Betsie Verwoerd gaan tee drink nie?

Maar jammerlik is Madiba se versoeningsprojek nie altyd – of deurlopend – deur die begunstigdes daarvan ondersteun nie. Om die waarheid te sê, dit is soms in sy gesig teruggegooi, soos deur die vertoning van die ou landsvlag by geleenthede van nasionale belang. Die 1995-Wêreldbeker-rugbytoernooi was een so ’n geval . . . en steeds is dit het einde niet.

Nou skyn dit asof die vlag kan maak dat April 2019 vir nóg ’n historiese oomblik kan sorg. Die Nelson Mandela-stigting het ’n aansoek by die gelykheidshof ingedien dat die “kwaadwillige” vertoon van die ou vlag as “haatspraak, onregverdige diskriminasie en teistering gegrond op ras” verklaar moet word.

Hoe regverdig jy dit, terwyl daar oorgenoeg (te veel, eintlik) ander kwessies van nasionale bekommernis is – almal probleme wat Mandela se drome vernietig.

Dit is ’n ander saak as die vlag in ’n historiese konteks vertoon word, soos in museums, voer die stigting aan, “maar die tyd het aangebreek dat erken word die vlag is ’n simbool van ’n misdaad teen die mensdom en vernederend vir almal wat daarteen geveg het, veral swart Suid-Afrikaners”.

Einde April, op die 29ste en die 30ste, sal die gelykheidshof ’n sitting oor die kwessie hou en daarna sy bevinding bekend maak.

Maar selfs al het jy alle begrip vir dié standpunt van die Mandela-stigting, kom die vraag tog op waarom die vertoon van die vlag ’n saak van prioriteit vir hulle is.

Hoe regverdig jy dit, terwyl daar oorgenoeg (te veel, eintlik) ander kwessies van nasionale bekommernis is – almal probleme wat Mandela se drome vernietig.

En vergewe my as dit onsensitief klink, maar presies hóé getraumatiseerd (of fyngevoelig) moet jy wees om aanstoot te neem wanneer ’n waarskynlik moedswillige vlagswaaier in jou midde of op jou televisieskerm verskyn?

Gaan jy beter slaap, uit armoede verlig word, veiliger op straat en in jou huis voel of van beurtkrag verlos word as die oranje-blanje-blou stof in donker kamers vergaar?

Of moet die vraag eintlik wees: As dit vandag die vlag is, wat is dit môre?

Dalk “Die Stem”-gedeelte van die volkslied?

En hier moet ek bieg: Telkens wanneer ek sien hoe ons wat Afrikaans is daai deel uit volle bors sing en die res van die lied in ons mond rondrol, neem ek aanstoot.

Maar ek is steeds nie oortuig dat Mandela self om bogenoemde redes die vlag óf die volkslied verbied sou wou sien nie.

* Heindrich Wyngaard is ’n kommentator oor aktuele sake en ’n TV-aanbieder.

Meer oor:  Die Ander Kant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.