Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Heindrich Wyngaard: Wanneer Tutu ook al gaan, laat ons lesse onthou

Emeritusaartsbiskop Desmond Tutu sterk tuis aan nadat hy pas weer in die hospitaal opgeneem is vir ’n hardnekkige infeksie. En elke keer dat hy ongesteld is, word op sosiale media versoeke geplaas vir gebede vir hom – én word voortydig oor sy dood bespiegel.

Dit was laas ook so met oudpres. Nelson Mandela se siekte: Gereeld was daar onbevestigde verslae dat hy reeds afgesterf het. In Tutu se geval moes hy byvoorbeeld in April verlede jaar vure doodslaan toe daar oor sy “dood” berig is op ’n valse The New York Times-webwerf en in 2016 moes sy dogter Mpho dieselfde doen.

Die belangrikste raakpunt met Madiba se laaste dae op aarde is dat ons skynbaar ook sukkel om te aanvaar dat Tutu reeds ’n hoë ouderdom (88) bereik het en dat die onvermydelike ook op hom wag.

Ons moet dus nou reeds vir lief neem daarmee dat ons ook oor Tutu, soos oor Madiba met sy afsterwe in 2013, eendag – dalk selfs eersdaags – sal moet sê, in die woorde van Maya Angelou in haar gedig oor Madiba: “His day is done”.

Ongetwyfeld sal die nuus ook dan, wéér uit die gedig, “expected and still unwel­come” wees.

Maar Madiba én Tutu het ons geleer, herinner Maya Angelou ons: “We will not withhold forgiveness / Even from those who do not ask”.

Maar wanneer dit wel gebeur, sal ons ons kan troos daaraan dat hy, nogmaals soos Madiba, sy lewe daaraan gewy het om eers vryheid vir die land se verdruktes te bereik en daarna ’n nuwe stryd vir versoening tussen Suid-Afrikaners te lei.

Die werk van die Waarheids-en-versoeningskommissie, wat deur Tutu gelei is, word vandag steeds deur sommige – aan oortrederskant, nogal – as onvoldoende gekritiseer. Omgekeerd is die slagoffers van menseregtevergrype in die verlede die mening toegedaan dat hulle nooit voldoende vergoeding vir hul lyding ontvang het nie. En dit is deels waarom Suid-Afrika, ná ’n kwarteeu sedert apartheid deur ’n demokratiese bestel vervang is, steeds ’n mynveld vir rassekonflik bly.

Maar Madiba én Tutu het ons geleer, herinner Maya Angelou ons: “We will not withhold forgiveness / Even from those who do not ask”.

Die dood die afgelope week van prof. Ben Turok, oud-vryheidsvegter en -ANC-LP, saam met dié vroeër van onder andere regter Arthur Chaskalson, Ahmed Kathrada, prof. Jakes Gerwel én Madiba, het ons ontneem van die kern van die generasie van redelikes. Húlle was toegewyd aan ’n samelewing waarin alle landsburgers hul volle potensiaal kan bereik en in vrede, liefde en met begrip vir en aanvaarding van ons verskille of diversiteit moet kan saamleef.

Nou is daar net enkeles oor, onder wie oudregter Albie Sachs, die geestelike dr. Lionel Louw en adv. Thuli Madonsela – let wel, nie een van hulle is politici nie.

Dit is terselfdertyd jammer én welkom dat ons nie op politieke leiers kan staatmaak vir redelikheid nie en dat dit vandag dikwels juis politici is wat ons verdeel, sy dit Julius Malema of Helen Zille is, maar aan die ander kant bied dit leiers in ander samelewingsfere die geleentheid om die voortou in die onvoltooide versoeningsproses te neem.

Tutu het gedoen wat hy kon; sy “day is done”. Ons behoort hom môre op Versoeningsdag te eer deur ag te slaan op die lesse wat hy ons geleer het, soos hierdie aanhaling uit Antjie Krog se Country of my Skull: “If you live with hatred and revenge in your heart, you dehumanize not only yourself, but your (entire) community.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.