Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helde blink van gebrokenheid
Adv. Jean Meiring. Foto: Verskaf

Dit blyk ’n oerdrang te wees om helde te wil hê. Om siele op verhogies staan te maak sodat jy jou ken moet lig en bietjies son in die oog moet vang as jy hulle wil gadeslaan.

Maar as die son se gloor uitdoof en die aand neerdaal, sien mens onvermydelik – en verkwikkend – al die skeurtjies en barsplekkies raak.

Die antieke Grieke en Romeine veral het ’n baie ewewigtige en volwasse benadering tot heldeverering gehad.

In die blou swerk bo hulle was daar immers ’n leërskare gode wie se gedrag dikwels allesbehalwe mooi was. Die gode, groot en klein, het mekaar die harnas én die kooi ingejaag, rojaal stoute blare verorber en gedrink asof daar ’n Kaapse waterverbod in plek was.

Michael Rank se wonderlike boek Greek Gods and Goddesses Gone Wild (2013) vat dit netjies vas. Die ondertitel bied ’n evokatiewe opsomming: Bad Behavior and Divine Excess from Zeus’s Philandering to Dionysus’s Benders.

Maar as dié togadraers van ouds so toeskietlik was – so ferm onder die indruk van hul gode se menslikheid was – waarom verwag ons vandag volslae goddelikheid van ons mensehelde, ons teen-wil-en-dank opgehewenes?

In die wêreld van die Griekse en Romeinse gode egter sou Clegg stellig met moeite ingepas het.

Dat Suid-Afrikaners die afgelope anderhalf week ruimskoots oor hierdie kwessies gepieker het, is te wyte aan die snoeiwerk wat in ons eie panteon van gode gedoen is. Die gevalle seders lê tans die wêreld vol.

In die geval van Johnny Clegg was daar een deel skok – sy siekte was immers jare lank al wyd rugbaar – en baie dele verslaenheid. Sy stem, sy grensoorbruggendheid en sy groot hart was vir etlike dekades ’n agterdoek vir soveel Suid-Afrikaanse ervarings.

Baie se geheueboek het die stem van Clegg en sy meewerkers as klankbaan.

In die wêreld van die Griekse en Romeinse gode egter sou Clegg stellig met moeite ingepas het. In ’n stoflose hoekie sou hy onder kwispelende vlerkies ’n luit bespeel het. ’n Appel sou blink en onaangeraak langs hom gelê het.

En dít terwyl die ander gode raserig mekaar die loef probeer afsteek en hul luste ongebreideld laat botvier het.

Voor in dáárdie koor sou die rugbyheld James Small gewees het, wat enkele dae voor Clegg die ondermaanse met die ewige verwissel het. Met moeite kan mens immers aan iemand dink wat meer uitgeknip was as ’n antieke god.

In sy fleur het hy soos ’n stiervegter die arena betree. Met die hele wêreld se oë op hom gerig – dié van die Zeus van toe, Nelson Mandela, inkluis – het hy, soos Dawid vir Goliat, Jonah Lomu met ’n dodelike klein klippie gevel.

Maar sodra die singende skare vort was, het hy vinniger as abrakadabra sy lendedoek afgewerp en die een nimfie ná die ander benader.

Weerbarstigheid en drif het hy nie makeer nie. In strenge navolging van Paul Kruger se credo, het hy als wat die lewe aan hom gebied het op die proef gestel.

Reëls en grense, ook van betaamlikheid, was daar om verbreek te word.

Dit bly ’n misterie waarom die leespubliek hulle kwaad tot hul sleutelborde gewend het toe Rapport berig het oor die omstandighede van Small se dood.

Daar is oor respek vir die dooies gepraat en vir die agtergelatenes.

Hoe betoon mens egter aan iemand se nagedagtenis respek deur oneerlik en verdoeselend oor sy dood verslag te doen – veral as sy dood volkome in pas was met hoe hy gelewe het?

Natuurlik is daar iets treurig omtrent ’n man van Small se heldhaftigheid en faam wat alleen in ’n bordeel heengaan.

Maar as ons antieke voorouers oor die verfyndheid beskik het om te besef dat alle helde – ook hul gode – van gebrokenheid blink, waarom kan ons nie ook nie?

 * Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde.

Meer oor:  Johnny Clegg  |  Jean Meiring  |  Griekse Gode  |  Helde  |  Heldverering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.