Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helde, idole, ikone en FW se toespraak van 2 Februarie

Suid-Afrika is nie nou op ’n goeie plek nie, maar plaas dit ’n vraagteken oor oudpres. FW de Klerk se opspraakwekkende toespraak op 2 Februarie 1990? vra Francois Bekker.

FW de Klerk, destydse staatspresident, en Nelson Mandela, leier van die ANC, by die ondertekening van die Groote Schuur Minuut in Mei 1990. Foto: Gallo Images

Met die 30-jarige viering van FW de Klerk se epogmakende toespraak op 2 Februarie 1990 op loer, kan lesers velerlei besinnings oor daardie historiese oomblik in die volgende weke verwag.

Tereg ook, want op daardie dag is die verloop van ons geskiedenis ingrypend verlê. Suid-Afrika sou daarna nooit weer dieselfde wees nie.

In die onmiddellike maande en jare daarna het dagblaaie meer as ooit soos ’n konsepgeskrif vir geskiedenisboeke gelees.

Die verbod op organisasies is opgehef. Uitgewekenes het van alle uithoeke van die wêreld teruggekeer na hul geboorteland. Nelson Mandela het op 11 Februarie, ook ’n dertigjarige herdenking, as ’n vry man uit die Victor Verster-gevangenis gestap. Gesprekke oor gesprekke het plaasgevind. Onderhandelinge het in alle erns begin.

Daar was politieke elektrisiteit in die lug soos nog nooit vantevore nie. Opwindend. Aardskuddend. Angswekkend, selfs. Die verskuiwing van die tektoniese plate van die politieke landskap hier te lande het onder ons voete getril. Die toespraak van 2 Februarie was die sneller wat vriend en vyand verras het.

FW de Klerk en Nelson Mandela in April 1990. Foto: Argief

’n Semantiese oorweging van die uitruilbare begrippe held, ikoon en idool is nodig. Alhoewel uitruilbaar, kan dit verkeerd gebruik word. FW de klerk en Nelson Mandela is uitstekende voorbeelde oor daardie drie woorde se gebruikswaarde.

Nie alle helde is noodwendig ikone of idole nie. En nie alle ikone is helde nie. Adolf Hitler het om al die verkeerde redes die status van ikoon verwerf – ’n tydlose simbool van boosheid.

Die onbekende brandweerman byvoorbeeld wat sy lewe in ’n brandende gebou waag om lewens te red is ’n held. Sy heldedaad sal paslik vereer word. Wat nie beteken dat hy die status idool of ikoon sal verwerf nie.

Daarby het hy ook vir my as Afrikaner op 2 Februarie bevry om daarna weer die wêreld vierkant in die oë te kyk sonder skuldgevoel of skaamte.

FW de Klerk én Nelson Mandela is my politieke helde. Mandela omdat hy ter wille van sy beginsels en ten behoewe van die vryheid van sy mense bereid was om vir 27 jaar in ’n tronk deur te bring.

FW de Klerk omdat hy die waagmoed gehad het om ingrypende besluite te neem om só die Suid-Afrikaanse samelewing te normaliseer.

Daarby het hy ook vir my as Afrikaner op 2 Februarie bevry om daarna weer die wêreld vierkant in die oë te kyk sonder skuldgevoel of skaamte.

Hulle kan ook as my idole beskryf word. Hul nalatenskap sal vir altyd met bewondering gevier word. Mandela vir sy vergewensgesindheid en omdat hy bo vriend en vyand kon uitstyg om ’n bloedbad te voorkom. As dit nie vir Mandela was nie, kon ’n burgeroorlog byvoorbeeld uitgebreek het met die sluipmoord op wyle Chris Hani. Mandela sowel as De Klerk se visie van ’n vredevolle toekoms het die rigting deurgaans aangedui.

’n Vraagteken oor 2 Februarie?

Francois Bekker

Nog ’n rede waarom ek in de Klerk ’n idool vind, is vanweë sy innemende en dinamiese persoonlikheid wat ’n minderheid met talle verdienstelike onsekerhede kon oortuig het dat ons geen ander keuse het as om ’n onderhandelende skikking met die meerderheid Suid-Afrikaners aan te gaan om so ’n bestendige toekoms te verseker nie.

Nelson Mandela is veel meer ’n ikoon as FW de Klerk. Mandela se bekendheid oor die wêreld heen is al vergelyk met die Coca-Cola-handelsnaam. Op plekke waarvan ek en jy nog nie eens gehoor het nie, sal mense waarskynlik sy gesig of naam herken.

Sy ikoniese status is ingegee deur ’n staatsmanskap wat baie hoog bo kleinlike politiek kon uitstyg. Sy verhaal van stryd, aanhouding en uiteindelike oorwinning het die verbeelding van mense wêreldwyd aangegryp.

My held en idool de Klerk het wel saam met Mandela die Nobelprys vir vrede ontvang. Hy sou egter veel makliker as Mandela incognito by ’n vlooimark op ’n Europese dorpie kon rondsnuffel.

Ek staal myself vir verdwaalde politieke ontledings wat FW de Klerk se toespraak 30 jaar gelede met venyn sal takseer. Sulke ontledings word gewoonlik onderlê deur misplaaste nostalgie wat betref ’n ou Suid-Afrika waar bevoorregting van ’n minderheid aanvaarbaar was.

Toegegee, Suid-Afrika bevind homself tans op ’n slegte plek. Dink rommelstatus en toenemende werkloosheid. Dink aan die ANC wat kwalik meer is as ’n kleptokrasie wat elke poging van sy president teenwerk om van die moeras van korrupsie en swak regering weg te breek. Dink oor die maatskaplike kohesie wat besig is om uit te rafel.

Plaas hierdie toedrag van sake ’n vraagteken agter die toespraak van 2 Februarie 1990?

Allermins.

Dit is nie de Klerk of Mandela se skuld dat sekere ANC-leiers vandag die vryheidstryd en ons toekoms verraai nie. Hopelik sal ’n nuwe leier eersdaags na vore tree om te put uit die voorbeeld wat de Klerk en Mandela gestel het om weer ’n Rubicon oor te steek na ’n beter toekoms vir alle Suid-Afrikaners.

* Francois Bekker is ’n DA-raadslid in Pretoria en skryf veral boekresensies om sy “sanity” te behou. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anc  |  Fw De Klerk  |  Chris Hani  |  Adolf Hitler  |  Nelson Mandela  |  Francois Bekker  |  Victor Verster-Gevangenis  |  Ikone  |  Helde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.