Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helde van fotoverhale bring heimwee

Die onlangse dood van Beau Brummell het Willem Fransman jr. met heimwee laat terugdink aan die invloed wat fotoverhaalhelde soos hy op kinders in die 1970’s gehad het.

“Hartaanval eis Kaalbaskoning Beau Brummell”, lui die kop van ’n berig  in Die Burger van Vrydag 12 Junie.

Dis met ’n hartseer hart dat ek elke woord van die berig met spoed gelees het.

Beau Brummell (77) voel amper soos familie. As jong seun, in die 1970’s, het ons baie plesier geput uit die fotoverhaalboekies waarin hy verskyn het.

Hy was die aksieheld Beau die Ontembare, wat ook in Engels as Beau the Untamable uitgegee is.

Nou is Beau in ’n hospitaal in Pretoria dood.

Beau Brummell die Ontembare, die hartebreker van die 1970’s, is deur ’n hartaanval in die vroeë oggendure van 11 Junie van ons weggeneem, lees ek met groot ontsteltenis.

Brummell, wie se doopnaam Michael Bush was, was nogal in daardie tyd van hoë Christelike waardes ’n baie omstrede figuur – en ’n handvol. Die Ontembare was beslis ’n goeie “handelsnaam” of kapstok. (Sal ons vandag eerder van ’n “hutswoord” kan praat?)

Vir diegene met ’n lang geheue, was Brummell nie net bekend as ’n fotoverhaalakteur nie. Hy is ook gesien as die Kaalbaskoning. Hy het in 1978 Beau Valley (Suid-Afrika se eerste nudiste-oord) buite die destydse Warmbad (nou Bela-Bela) tot stand gebring – tot groot ontsteltenis van baie van ons land se sedebewakers.

Vir jare was dit ’n baie gewilde “uithangplek” vir nudiste. Brummell en sy vrou, Cecilia (72), het onwrikbaar in hul idee geglo. Hy is self nie minder nie as nege keer in hegtenis geneem omdat hy sonder ’n draad klere in die openbaar verskyn het.

Maar terug na die fotoboekies. Dit was in die 1970’s nogal baie gewild onder jong mense. Selfs ouer mense het dit ook maar heimlik geniet.

Maar ouers het dit gesien as iets wat jou reguit hel toe gaan stuur. Dit is nie gesien as iets wat bevorderlik vir die leeskultuur is nie.

Maar tussen die lees van Die Uile-reeks, Jasper-hulle, Saartjie- en die Trompie-reekse, het ons tog ook baie plesier uit daardie boekies geput.

Boekies soos Ruiter in Swart, Saal 10 Ongevalle en Beau die Ontembare is wyd gelees – en geniet. Vir jong mense was dit soos om vrugte by die kwaai omie om die hoek te gaan steel. Verbode vrugte as jy gevang word, maar tog . . . lees moet jy dit lees.

Die fotoverhale was eers net in swart-en-wit en in A5-grootte uitgegee. En toe, omtrent net voor televisie se koms, het dit in A4-formaat verskyn.

’n Vriend van my, Pieter Miller, is ’n kranige versamelaar en het bykans 3 000 van dié soort boekies. Hy het by die 2015 Woordfees in Stellenbosch oor hierdie “verbode boekies” uit vergange se tyd gesels.

Van die boekies in Miller se versameling is nog in ’n puik toestand en hy behandel hulle met dieselfde waardigheid as wat versamelaars van strokiesprente met hul kosbaarhede doen. Elke boek is byvoorbeeld in ’n plastieksak verseël.

Ek was op ’n keer by die Woordfees op ’n paneel van vier skrywers wat moes gesels oor boeke wat ons as kinders gelees het en ’n blywende indruk op ons gemaak het.

Ek het N.P. van Wyk Louw se drama, Dias, in my hand gehad as een van my vier boeke.

Johan Bakkes, een van ons grootste reisverhaalskrywers en seun van die skrywer Margaret Bakkes, daag daar op met drie boeke in sy een hand vasgeklem en, tipies Johan, met ’n glas wyn in die ander.

Toe dit sy beurt is, praat hy in sy sterk bariton-stem entoesiasties oor elkeen van sy boeke. Sy derde boek was Die Bybel. Toe maak hy Die Bybel oop en daar gly sowaar ’n Kaptein Duiwel-fotoverhaalboekie uit!

Willem Fransman jr.

Hy vertel toe dat dit maar ’n stryd was om dié gewilde fotoverhale in hul huis gelees te kry. Sy ouers kon nie verstaan waarom hy altyd so lief was om selfs met Die Bybel toilet toe te gaan nie.

Miller sê dat hulle ’n tyd gelede gesprekke met Danie van Rensburg gehad het om weer die Ruiter in Swart in die saal te laat klim sodat die skurke in die Laeveld weer kan les opsê.

Van Rensburg besit steeds die kopiereg op die Ruiter in Swart-handelsnaam. In samewerking met Naledi is Die galg is jou loon, ’n fotoverhaal nes dié van destyds, met Van Rensburg in die rol as Ben uitgegee. Miller het self ook ’n rolletjie daarin vertolk. Later is ’n DVD oor die Ruiter in Swart ook uitgereik.

Nou, met die dood van Beau Brummell, raak die sirkel van fotoboekhelde uit daardie era al hoe kleiner.

Tydens die era van die fotoboekies, in 1979, het The Buggles ’n liedjie uitgereik wat hulle “Video Killed the Radio Star” genoem het.

’n Mens kan dit seker ook op die fotoboekies van toepassing maak, want baie glo dat televisie uiteindelik die einde van die fotoboekies beteken het.

* Fransman is ’n skrywer en vryskutjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.