Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille: Dít was my fout

Ek het baie om voor  rekenskap te gee. Maar nie vir die redes wat die meeste kommentators dink nie.

Helen Zille en Mmusi Maimane praat met die media ná Zille se destydse twiets oor kolonialisme.

In die hitte van die politiek, veral in die aanloop tot ’n verkiesing, praat politici voortdurend oor hul suksesse van die verlede en hul planne vir die toekoms.

Maar jare reeds wil ek graag ’n reeks artikels oor my foute en mislukkings skryf. Nou is ek uiteindelik vry om dit te doen. Dit was ’n interessante oefening om deur my dokumente van byna 15 jaar in ’n uitvoerende pos te werk om te besluit watter van my baie mislukkings om te ontleed.

Vandag begin ek dié reeks deur te ontleed wat ek beskou as my grootste mislukking as DA-leier, want dit is die een wat die meeste angs by my veroorsaak. Dit is moeilik om dit eerlik te analiseer, want ek moet die selfgeïnisieerde verraad in die gesig staar van my lewenslange toewyding aan konstitusionalisme, nierassigheid en ’n kultuur van persoonlike verantwoording.

Om dinge vir my makliker te maak, laat ek eers die storie oor die “positiewe” van my tyd as partyleier opsom: Die DA het sy steun oor tien jaar verdubbel tot meer as 4 miljoen. Ons het die belangrike oorgang gemaak van ’n party in opposisie na ’n regerende party. Ons het getoon dat ons goed kan regeer. En waar ons dit bereik het, het ons ’n blywende verskuiwing in stempatrone bewerkstellig.

Daar is teruggekeer na die ‘vernietig Zille’-strategie.

Verreweg my grootste mislukking is egter dat ek nie hard genoeg geveg het nie om te verhoed dat die DA by die ANC en EFF se rasse-narratief aansluit. Wat meer is, is dat ek soms ons aansluiting by dié narratief gefasiliteer en (erger nog) die spel self voortgesit het.

Dit was ’n spel waaraan ons nooit moes deelgeneem het nie omdat dit onmoontlik is om mee te ding. Boonop is dit een wat ongewens is om te wen. Die reëls van hierdie spel beteken dat ’n oorwinning ons sou stroop van een van die primêre redes vir ons bestaan – om werklike en inklusiewe nierassigheid te bevorder.

Dit was nog nooit die ANC se doelwit nie, en niemand moet mislei word om te glo dat dit is (of ooit was) nie – buiten die simboliek wat oudpres. Nelson Mandela geprojekteer het. Dit was reeds vir my duidelik met my politieke betrokkenheid 30 jaar gelede. Selde in die geskiedenis was daar so ’n teenstelling tussen die persoonlikheid van ’n president en die realiteit van die organisasie waarvan hy die leier was.

Ek is bewus hoe riskant dit is om te skryf oor hierdie spesifieke mislukking van my in die huidige klimaat, want my woorde is byna gewaarborg om opsetlik verkeerd vertolk en gemanipuleer te word. Een van die redes hiervoor is dat die ANC daarin geslaag het om ’n groot deel van die openbare mening (veral dié onder politieke kommentators) suksesvol te konsolideer agter die idee dat die strewe na rasseverteenwoordiging as ’n doel opsigself edel is.

Dit beteken onvermydelik dat ’n persoon se onveranderlike biologiese eienskappe voorrang moet verkry bó ander eienskappe wat nodig is vir waarde en prestasie. Een van die morbiede gevolge van die benadering is dat dit onvermydelik ontaard in ’n rookskerm vir baantjies vir boeties, korrupsie en die misdadige, gekaapte staat.

So, hoe het ek op die verraderlike pad beland om ons ANC-teenstanders oor die kwessie van ras te bevredig?

Dit het begin met die bewuste strewe na diversiteit, wat ek steeds sterk glo ’n edele doel opsigself is.

Diversiteit verskil baie van verteenwoordigendheid omdat dit nie die presiese demografiese samestelling van die samelewing in ’n organisasie probeer weerspieël nie. Dit vereis werklike geleenthede en werklike ondersteuning vir mense van alle agtergronde met die talent, toewyding en werketiek wat nodig is om in die lewe te vorder.

Verteenwoordigendheid, aan die ander kant, gee min aandag aan die uitbreiding van geleenthede. Dit fokus hoofsaaklik op die manipulering van uitkomste om die samelewing se rassedemografie te weerspieël. Dit vereis onvermydelik kwotas wat genetiese biologiese eienskappe ’n onoorkomelike versperring (vir sommige) of ’n lanseerblad vir ander maak, ongeag hul talent, toewyding of werksetiek. Dit is ’n benadering wat die DA altyd geheel en al verwerp het (en ek glo steeds doen).

Maar die kritieke nuanses van hierdie debat gaan verlore as jy teen ’n dominante span speel wie se doel totale rassehegemonie is en wie se rassenarratief as die morele maatstaf in die samelewing in sy geheel gevestig word.

Laat ek dit duidelik maak: Toe ek partyleier geword het, was dit noodsaaklik om die DA te diversifiseer en sy styl te verander. Ons moes grense in ons ingewikkelde, verdeelde samelewing oorsteek en Suid-Afrikaners oortuig dat die DA se beleid en beginsels die beste grondslag is vir die suksesvolle bestuur van die land in die belang van almal, veral die armes.

Maar ek het een belangrike onbedoelde gevolg nie voorsien nie: Hoe meer ek gewerk het om die DA te diversifiseer, hoe meer het ons teenstanders ons beskuldig dat die DA ’n “wit party” is (met die ondersteuning van die gewone mediakoor).

Uiteindelik het ek tot die gevolgtrekking gekom dat, indien die party deur ’n swart persoon gelei word, gerugsteun deur ’n beduidende meerderheid van verkose swart provinsiale leiers, ons onsself van hierdie albatros kan bevry. En dat dit dan baie makliker sal wees om die oorblywende struikelblokke oor te steek na nuwe stemgemeenskappe terwyl ons ook getrou bly aan ons beginsels.

Ek was verkeerd. Hoe meer divers ons geword het, hoe krasser het ons teenstanders die rassekaart gespeel, want hulle het niks anders gehad nie.

Om te probeer om die argument te wen was, soos Tony Leon eenkeer opgemerk het, om tjops vir ’n krokodil te voer in die hoop dat hy ’n vegetariër sal word.

Teen die tyd dat ek as partyleier uitgetree het, was ons pens en pootjies deel van die spel. Ek kan net myself daarvoor blameer (selfs al was daar belangrike en geldige redes daarvoor).

Laat ek beklemtoon dat hierdie selfkritiek nie bedoel word as ’n negatiewe refleksie op enige van die DA se swart leiers nie. Die ANC sou voortgaan om die rasseretoriek te verskerp, selfs al sou ons leiers op water kon loop.

So, toe die ANC en hul medereisigers die DA se swart leiers as “Zille se marionette” beskryf het, het die strategiese logika wat ek in die DA begin het, beweeg na die volgende logiese stap, aangemoedig deur die advies van ’n Amerikaanse “deskundige” (reguit vanuit die wêreldhoofstad van identiteitspolitiek).

Diegene verantwoordelik vir die DA se verkiesingstrategie (ironies genoeg, die meeste van hulle wit) het tot die gevolgtrekking gekom dat as hulle my in die openbaar sou verpletter, die DA uiteindelik sy beeld as ’n “wit party” sou verloor. Dit is nie ’n samesweringsteorie nie. Ek het ’n dokument wat na die party se federale uitvoerende raad versprei is, wat dit verduidelik.

Die onmiddellike casus belli was ’n reeks twiets wat ek gestuur het oor die lesse geleer uit ’n besoek aan Singapoer – waarnemings dat die erflating van kolonialisme nie net negatief is nie.

Dit is opmerkings wat al verskeie kere deur swart Suid-Afrikaanse leiers gemaak is, insluitend Nelson Mandela, en ook verskyn in baie post-apartheid-geskiedenishandboeke wat deur swart geskiedkundiges geskryf is. Dit is ’n feit wat gerugsteun word deur byna elke gerespekteerde historikus ter wêreld.

Maar omdat ons politieke teenstanders dit aanstootlik gevind het (die meeste van hulle elite, gegradueerde aanhangers van identiteitspolitiek wat in elk geval nooit vir ons sal stem nie), het die DA die geleentheid aangegryp om die party verder te “suiwer”.

Ek is tydelik geskors, en toe dit nog nie werk nie, het hulle my probeer aanmoedig om Suid-Afrika te verlaat. Die DA het selfs ’n skenker gevind om hul strategie te finansier. As ek verdwyn, so het hulle gereken, sal die party uiteindelik as “getransformeer” beskou word. Toe ek beleef weier om as premier van die Wes-Kaap te bedank en die land te verlaat, is ek verbied uit alle party-aktiwiteite.

Gedurende die verkiesingsveldtog, toe meningsopnames dit duidelik maak dat die DA probleme het, het die party my egter deur ’n tussenganger om hulp genader. Ek het dadelik ingestem, en is daarna energiek na talle vergaderings, geleenthede en onderhoude oor drie provinsies heen aangery.

Dit was egter geen verrassing nie dat, net nadat die laaste stembrief getel is, die party vinnig teruggekeer het na hul “vernietig Zille”-strategie.

Ek sê dit nie om die slagoffer te speel nie. Ek het net myself om hiervoor die skuld te gee. Ek was die een wat die wilde tier opgesaal het. Ek het gedink ons ??kan hom veilig ry. Maar toe ek afklim, het hy my gebyt. Wat het ek verwag?

Ek kan al die koor van kritici hoor skreeu dat dit net my eie skuld is weens my twiets. Weer stem ek nie saam nie: My mees onlangse twiets was presies daarop gemik om die misleidende aard van rasseveralgemenings en die dubbele standaarde agter die dominante verhaal van identiteitspolitiek (wat minderhede blameer vir al die land se probleme) bloot te lê.

Ek sou gedink het dat my aanval op huigelary en dubbele standaarde gemaklik by die DA se waardes sou aansluit. Dis tog Liberalisme 101. Maar ek het weer die grootste sonde gepleeg om ons teenstanders te beledig (wat ons eerste plig is om te behaag).

  • Ek het beslis baie om voor rekenskap te gee. Maar nie vir die redes wat die meeste kommentators dink nie. En ek is van plan om die res van my loopbaan in die politieke domein te gebruik om daarvoor te probeer vergoed en getrou te wees aan my geloof in ’n inklusiewe vorm van nierassigheid. Helen Zille is ’n voormalige premier van die Wes-Kaap.
Meer oor:  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.