Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille: Ek hou nie van groen eiers en ham nie

'n Regter se mymeringe kan nie deurgaan as ernstige juridiese besinning nie, skryf Helen Zille.

Soedan, 1885: Die Britse mag trek terug in die Anglo-Soedannese oorlog. Foto: Getty Images

Enigeen wat grootgeword het met Dr. Seuss se kinderboeke sou geamuseerd gewees het om te hoor hoe ’n regskenner ’n uitspraak van ’n regter van die hooggeregshof in Pretoria met die boek Green Eggs and Ham vergelyk.

Dié boek – met ’n totale woordeskat van net 50 woorde vir beginnerlesers (ook in Afrikaans vertaal as Groen ham en eiers) – volg die vertroude Dr. Seuss-resep om uit nonsens en ’n gebrabbel ’n genotvolle slaaptydstorie te weef.

Baie soortgelyk aan wat regter Malebo Habedi doen in die uitspraak waarin hy my aansoek van die hand wys om die openbare beskermer (OB) se bevinding oor my kolonialisme-twiet tersyde te stel.

Behalwe dat die gevolge van Habedi se uitspraak, sou dit nie in ’n appèl uitgedaag word nie, glad nie amusant is nie.

My oorspronklike twiet wat ek op 16 Maart 2017 geskryf het, lees: “For those claiming the legacy of colonialism was ONLY negative, think of our independent judiciary, transport infrastructure, piped water, etc.”

Sedertdien het die OB bevind dat die twiet haatspraak is omdat dit die “aanstigting van dreigende geweld” soos vervat in art. 16 (2) in die hand werk.

Nadat ek self die regter se uitspraak van 28 bladsye gelees het, het ek aanvanklik bietjie kopgekrap oor die vergelyking met Dr. Seuss, maar vinnig besef hoe gepas dit eintlik is. Die kruks van die uitspraak is te vinde in ’n paragraaf van net 49 woorde.

“The Premier is no longer the Premier of the Western Cape and it means the Provincial Legislature cannot sanction her as such. The issues in this application have thereby been rendered moot. Judi­cial review does not lie against moot matters, and the Constitutional Court has confirmed this principle repeatedly.”

Die maklikste uitweg was om tot geen gevolgtrekking te kom nie.

As ’n saak in regsterme as “moot”, betwisbaar, beskryf word – soos die regter hier doen – beteken dit dat enige verdere regsargumente oor die saak geen punt meer het nie. Daarom is dit nie nodig om verdere uitspraak te lewer of enige regsmiddel voor te skryf nie.

Die kritieke punt is daarom dat die uitspraak nie die OB se bevinding – dat my twiet haatspraak was – bevestig het nie.

Deur te sê dat ek nie meer premier is nie vermy hy dit om enige bevinding te maak.

Die gevolg is dat die OB se verslag steeds nie hersien is nie.

Dit is ’n kritieke punt wat misgekyk word deur al die kommentaar oor die saak wat ek die afgelope week gelees het.

’n Mens kan net tot die gevolgtrekking kom dat die regter dié opsie as die veiliger een gekies het, omdat dit vir hom redelik moeilik sou wees om my twiet as haat­spraak te verklaar op die grondslag van enige rasionele interpretasie van die gewone betekenis van woorde.

Die maklikste uitweg was dus om tot geen gevolgtrekking te kom nie op die grondslag dat ek nie meer premier is nie.

Dit is, om dit ligweg te stel, ’n twyfelagtige argument om twee hoofredes.

Die kwessie oor die strydvraag (of “moot point”) en of die saak steeds enige punt het omdat ek nie meer die premier is nie, is nooit deur my regspan of dié van die OB óf die regter geopper nie. Dit is ’n goed gevestigde beginsel dat ’n regter nie ’n bevinding kan maak op ’n kwessie wat nie voor die hof was nie.

Tweedens kan hierdie saak geensins as “moot” beskryf word nie. Die saak betrek die beperkinge op vryheid van spraak in politieke diskoers. Elke politikus in die land het ’n belang daarin om te verstaan waar die limiet van spraakvryheid lê.

As die woorde wat ek gebruik het die Grondwet en die Wet op Uitvoerende Etiek verbreek, sou dit die beperkinge op spraakvryheid oornag drasties inkort.

As die OB se bevinding dat my twiet inderdaad haatspraak is so bly staan (omdat ’n regter sy bes gedoen het om geen bevinding te maak nie) sou dit teenstrydig wees met baie ander sake waar die howe spraakvryheid (van ’n veel meer ekstreme aard) verdedig eerder as beperk het.

Wat meer is: As ek skuldig is aan haat­spraak vanweë hierdie twiet, bevind ek my in goeie geselskap, want ’n hele rits prominente mense – van oudpres. Nelson Madela tot Moeletsi Mbeki en Julius Malema – het presies hierdie punt gemaak, net meer uitdruklik.

Wat meer is, dit sal ook nodig wees om ’n skoolhandboek te onttrek wat die vraag aan leerlinge stel of kolonisasie enige positiewe gevolge gehad het voordat dit die vraag op die volgende wyse beantwoord:

“Ten spyte daarvan dat die meeste geskiedkundiges die negatiewe gevolge beklemtoon wat kolonisasie op Afrika gehad het, wys party ook daarop dat daar sommige positiewe gevolge was. So byvoorbeeld het kolonisasie in Oos-Afrika ’n einde gemaak aan slawehandel wat hier voortgesit is lank nadat dit reeds in Wes-Afrika gestaak is.

“Kolonisasie het ook Westerse opvoeding gebring, medisyne en tegnologie asook taal-, kultuur- en sportbande wat wisselwerking met die res van die wêreld moontlik gemaak het. Deel van die nalatenskap van kolonisasie was die ontwikkeling van Afrika in ’n netwerk van moderne, onafhanklike state.” (Die aanhaling is op bl. 182 van die handboek In Search of History).

Gegewe die feit dat die OB se besluit nou bindend is, propageer dié handboek dus haatspraak in ons skole en sal onmiddellik onttrek moet word.

En wat meer is, die meeste gerespekteerde historici maak hulle aan dieselfde misdryf skuldig.

Wat die uitspraak egter veral interessant maak, is dat die regter – nadat hy in net 49 woorde met die kruks van die saak afgereken het – vir nog 24 bladsye voortborduur met persoonlike mymeringe. Sy gedagtegang strek ver en wyd.

In paragrawe waarin hy verwys na die Bengaalse hongersnood van 1943 skryf die regter dat Winston Churchill soos ’n “tipiese koloniale meester op die hoogmoedigste hoogtepunt van sy dwaasheid” gesê het dat die Indiërs vir hul eie dood te blameer is, omdat hulle soos “hase aanteel”.

Vir die leser wat dalk wonder oor die relevansie van dié paragraaf verskaf die regter ook ’n verduidelikende voetnota: “My own spicing up of the words about Churchill: apt!”

Met verwysing na ’n foto, wat klaarblyklik in die Kongo geneem is, van ’n wit man wat deur ’n swart man gedra word, merk die regter op: “ ’n Mens kan dit van koloniale meesters verwag, en ons het altyd geweet dat koloniale meesters nie ’n vinger sal lig as gekoloniseerdes in die nabyheid is nie.”

Met verwysing na nóg ’n foto (daar word nie gesê waar dit geneem is nie) merk die regter op: “Met die eerste oogopslag het dit gelyk asof ek na dooie diere kyk, maar met nadere beskouing het ek besef dat dit dooie mense was wie se liggame, omdat daar aasvoëls op die mure was, reeds erg ontbind moes gewees het. Ek het in my lewe al grusame foto’s gesien, veral dié uit Rwanda en Burundi gedurende die volksmoord; Beiroet in Libanon gedurende die oorlog daar, asook die hongersnood in Ethiopië. Maar hierdie foto was iets anders. Ek weet nie baie van geskiedenis af nie, omdat ek tydens my vormende opvoeding te besig was om te stoei met wiskunde en wetenskap, maar daar is baie internasionale tragedies en volksmoorde waaroor daar gepraat word, tog vind ’n mens eers nou daarvan uit. Nie dat ek nie nie kan weet nie (sic), maar eerder dat, as gevolg van die skaal daarvan, mense van dié geskiedenis moet weet. ’n Goed beplande volksmoord inderdaad.

“God Almagtig, verlos die aarde, veral die Pan-Afrikaanse nasie van Afrika en sy diaspora van hierdie boosheid genaamd kolonialisme!”

Behalwe vir hierdie (en vele ander) persoonlike opmerkings, aanvaar die regter op sigwaarde die Twitter-bohaai wat op my twiet gevolg het, ten spyte van die ontleding wat my regspan verskaf het en wat dui op die omvattende betrokkenheid van vals Twitter-rekeninge en Twitter-robotte wat doelbewus probeer het om ’n tsoenami van aanstootneming en verontwaardiging op te sweep.

Dit was enkele maande voordat hierdie vorm van misbruik van sosiale media onthul is in ’n paar skandale – van die Mueller-beskuldigings in die VSA tot ons eie Bell Pottinger-skandaal.

Destyds het ons nie besef wat aangaan nie. Nou weet ons. Sekerlik moet dit die bohaai van destyds in ’n ander konteks plaas? Maar dit was alles irrelevant in dié juridiese mymeringe.

Die regter skets onverstoord sy eie konteks, omdat – so sê hy – “dit vir ander regters van belang sal wees”.

De-kontekstualisering is inderdaad ’n kwessie waarvan alle regters en joernaliste kennis behoort te dra. Dit is presies die gereedskap wat sosiale media en die smouse van verontwaardiging gebruik.

As mense se woorde beknoei word om ’n sekere politieke agenda te dien en dit lei op sy beurt tot ’n bevinding van haatspraak, is vryheid van spraak inderdaad in gevaar.

Hierdie vraagstukke is fundamentele kwessies wat ordentlike juridiese besinning verg.

  • Helen Zille is die voorsitter van die DA se federale raad.
Meer oor:  Helen Zille  |  Da  |  Twitter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.