Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
‘Helen Zille, jy is nou op jou eie’
Helen Zille. Foto: Nardus Engelbrecht, Gallo Images

Helen Zille is seker een van die skranderste en hardwerkendste politici wat hierdie land opgelewer het. Boonop het sy die laaste paar jaar skouspelagtig bewys dat sy selfs die moeilikste opdragte in die politieke teksboek kan en sal uitvoer.

Die werklikheid is egter dat die DA Zille nie meer nodig het nie en sy nie vir hulle nie.

Weliswaar is Zille nog net deur Mmusi Maimane veroordeel, maar die DA-huis, die bloedfamilie waar alle
leiers in hoëspanningstye neswarmte en koestering gaan soek, was nie daar vir Zille nie. Nêrens in die ganse DA het iemand van statuur opgestaan om Zille uitdagend en onvoorwaardelik te verdedig nie.

Die meeste wat enige DA-leier die afgelope week bereid was om vir Zille te doen, was om beroepe om eenheid en beleefde versoeke aan die ondersteuners te mompel om die leierskorps nie te verdeel nie.

Die subteks van die gesprekke in boodskappe en die lyftaal van DA-mense was ondubbelsinnig: Helen, dié ronde kan ons niks doen om jou te verdedig nie.

Zille is eintlik magteloos voor die vuurspuwende drake in én buite die DA.

Zille se fiksasie met ras en haar omstrede twiet oor kolonialisme is teenproduktief vir die DA.

Die ANC, wat self besig is om te steier, kon hul geluk nie glo oor die politieke meevaller wat hulle gekry het van hul nemesis nie.

Dit is asof die ANC skielik weer ’n vars wind in sy voos politieke blaaie het. En wie moet hulle bedank? Vir Helen Zille.

Haar twiet oor kolonialisme gaan ’n permanente vlek op haar politieke nalatenskap wees. Dit was ’n gruwelike fout. Die wonde wat sy aan haarself én haar party toegedien het, kan nie toegeskroei word nie. Dit het tot ’n ontstigtelike spektakel gelei en iets waarvoor Maimane sy oë nie kan sluit nie.

Die grootbek-swape soos die ANC-jeugliga het ook gekwetter dat Maimane nou moet wys wie rêrig baas van die DA is. Zille of Maimane?

Die voorgenome verhoor moet soos ’n hellevuur voor Zille lê. As dit verby is, moet sy aangaan met haar lewe, maar wat duidelik is, is dat sy nie ongeskonde uit dié episode gaan kom nie. As ’n mens tussen die reëls lees, gaan niemand haar twiet vindikeer nie.

Die DA kan nie inkonsekwentheid duld nie. Dianne Kohler Barnard is vir ’n soortgelyke oortreding gereduseer tot ’n agterbanker en gestroop van haar senioriteit in die party.

As die DA ’n ander boodskap oor Zille oordra, gaan hulle kniediep in die moeilikheid wees, want dan is dit ’n storie van die een vlees maak en van die ander vis.

Die DA kan dit nooit bekostig dat hulle op dieselfde glybaan as die ANC beland nie.

Die ANC het toegelaat dat Zuma hom as gyselaar aanhou omdat hy die ANC in ballingskap goed gedien het en daarom het hulle ’n toleransie vir sy sotlikheid. Die DA kan nie in dieselfde strik trap nie.

Onder Zille het die DA ongekende hoogtes bereik en sy het die DA van ’n byspeler tot een van die hoofakteurs in die Suid-Afrikaanse politiek gemaak.

Maar Zille se dowwe kolle is dat sy as te baasspelerig bestempel word. Dit het oor die jare erge wrewel onder gewone DA-lede veroorsaak.

Die DA en bepaald Maimane het geen ander keuse as om haar te repu­dieer nie. Dis die regte ding om te doen – maak nie saak met hoeveel pyn dit gepaardgaan nie.

Dus: Soos Steve Biko sou gesê het: Helen Zille, jy is nou op jou eie.

*Maarman is adjunkredakteur van Die Burger.

Meer oor:  Hellen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.