Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille: Om beter te kan hoor, my kind

Nadat ek uit die politiek getree het, het ek besluit om weer op die hoogte te kom van ’n wêreld wat my (in baie opsigte) verbygegaan het gedurende 15 jaar van dagboek-slawerny.

Max du Preez en Helen Zille in gesprek op haar potgooi.

My topprioriteit was om die potensiaal van nuwe kommunikasietegnologie vir die uitbreiding en verkondiging van idees beter te verstaan.

Ek het baie ondervinding van die negatiewe potensiaal daarvan gehad. Die waarskuwing van Winston Churchill dat “ ’n leuen halfpad om die wêreld sal trek in die tyd wat dit die waarheid sal neem om sy broek aan te trek”, is net soveel geldiger in ’n tegnologiese era.

Soos die spreekwoord sê, oorwin die slegte as goeie mense sit en niks doen nie, en die tyd het aangebreek om die volle potensiaal van nuwe tegnologieë te benut om die idees te bevorder wat ons demokrasie sal laat slaag.

Dit is die rol wat ek hoop om as beleidsgenoot by die Instituut vir Rasseverhoudinge te speel, waar my posbeskrywing net vyf woorde lank is: “Veg die stryd van idees.”

Ek is van plan om die volle mag van kommunikasietegnologie hiervoor te benut en die beginsels van klassieke liberalisme te posisioneer waar dit hoort: in die rasionele, pragmatiese sentrum van die Suid-Afrikaanse politiek.

Daar is baie om te leer. Soos baie mense op my ouderdom, kry ek steeds die meeste van my nuus en ontleding uit koerante, radio en televisie. Ja, ek het in die sosialemedia-dam geswem, maar om ’n Facebook- en Twitter-rekening te hê, krap jy net op die oppervlak rond. Dit is soos om eiers kook te beskryf as kosmaak.

‘As jy nie saamstem nie, laat ons tee drink.’

My volgende horison is dus potgooie. Ek is verleë om te sê dat ek tot Mei vanjaar (toe my termyn as Wes-Kaapse premier geëindig het) nie sou kon verduidelik wat die woord beteken nie. Ek het beslis nog nooit aktief probeer om ’n potgooi op te spoor nie – buiten om op ’n skakel op Twitter of Facebook te klik.

Noudat ek weet wat ’n potgooi is en hoe om na hulle te soek, het ’n nuwe wêreld vir my oopgegaan. Ek het ingeteken op my gunsteling-potgooiers en op spesifieke mense of temas wat my interesseer. Wat meer is, ek het ook self begin om vlogs (video-uitsendings) op YouTube, Spotify, iTunes en my webwerf helenzille.com te plaas.

So, vir diegene wat – soos ek – tegnologies bietjie “agter” is, wat is ’n podcast of potgooi?

Die woord podcast is ’n sametrekking van die woorde “iPod” en broadcast.

Die oorspronklike iPod is gebruik om musiek af te laai en dit het die manier waarop jong mense toegang tot hul gunstelingmusiek verkry het, verander. In my dae het ’n mens na jou gunstelingdeuntjie geluister deur ’n muntstuk in ’n blêrkas by jou plaaslike kafee te gooi. Die alternatief was om ’n versoek aan die aanbieder van jou plaaslike radiostasie te pos en ’n week later na dieselfde program te luister in die hoop dat jou versoek uitgesaai sal word. Of jy kon ’n solus-sewe-plaat (of later ’n CD) gaan koop.

Vandag speel jy al jou musiek – van iets stemmigs vir aandete tot opruiender dansmusiek – van jou selfoon af.

Die tegnologie strek ook veel verder as musiek na enige soort uitsending, vandaar die podcast of potgooi.

Die gevolg is dat die potgooi deesdae ’n alternatiewe radio in huise en motors wêreldwyd geword het. Pleks daarvan om op jou gunsteling­radiostasie in te skakel in die hoop dat iets interessants kan opduik, gaan jy deesdae bloot na jou gunsteling-potgooi-webwerf en luister na die nuutste aanbieding oor ’n onderwerp wat jou regtig interesseer.

Daar is honderde duisende sulke potgooie en vlogs (’n videoweergawe van ’n potgooi) wat op enige slimfoon of rekenaar gespeel kan word.

Dit beteken dat enigiemand nou ’n verspreider van idees deur klank of video kan word. As hul idees aftrek kry, kan hulle ’n reusegehoor op YouTube, Spotify of iTunes opbou.

My nuwe belangstelling het my na baie potgooiers geneem – soos PewDiePie, ’n 29-jarige Sweed (sy regte naam is Felix Arvid Ulf Kjellberg) met meer as 100 miljoen intekenare op YouTube. Ek het ’n paar van sy video’s probeer kyk om te verstaan ??wat sy sukses dryf, maar gou besef dat ek nie sy teikengehoor is nie!

Maar ek het wel (gratis) ingeteken op ’n reeks video- en klank-potgooie van The Rubin Report tot Quillette oor onderwerpe wat meer tot my spreek.

En meer nog, ek het nou ook my eie potgooie begin om die groot Suid-Afrikaanse kwessies in ’n wêreldwye konteks aan te pak.

Ek noem my potgooie Tea With Helen – na aanleiding van die groot reaksie op my uitnodiging aan adv. Thuli Madonsela, die voormalige openbare beskermer, om saam tee te drink nadat ons oor Twitter ’n meningsverskil oor “wit bevoorregting” gehad het.

Omdat ek dit geniet om omstrede kwessies te bespreek met mense wat nie met my saamstem nie, gebruik ek die motto: “As jy nie saamstem nie, laat ons tee drink.”

Tot dusver het ek ’n paar interessante gesprekke gehad: Die eerste met die rubriekskrywer en voormalige Business Day-redakteur Peter Bruce (oor Ramaphosa se “New Dawn”); met die skrywer en voormalige City Press-redakteur Ferial Haffajee (oor vryheid van spraak) en met die Vrye Weekblad-redakteur Max du Preez. Ons bespreking het uiteindelik so warm geword dat ons nie eens kon saamstem waaroor ons praat nie.

Nie al my gesprekke sal so konfronterend wees nie. Sommige sal ondersoekend wees, in ander sal ek my mening lug en in ander sal ek bloot idees ondersoek. Binnekort wil ek ook verder gaan as video’s. Ek stel regtig daarin belang om ook klank-potgooie te doen. Die moontlikhede is eindeloos.

In 1979 het Bruce Woolley & The Camera Club die treffersparade gehaal met die liedjie “Video Killed the Radio Star”. Dit het destyds die kommer weerspieël oor nuwe mediategnologieë – wat wissel van musiek-video’s tot die “gruwelike” vooruitsigte van ’n rekenaar wat ’n simfonie komponeer!

Die lied eindig met die profetiese woorde: “We can’t rewind, we’ve gone too far.”

Dit is waar. En hoewel tegnologie gebruik kan word om leuens te versterk en outoritarisme te bevorder, kan dit ook gebruik word om daardie waardes te bevorder wat noodsaaklik is vir ’n inklusiewe demokrasie.

En dit is wat ek die volgende jaar wil probeer doen. Sluit aan, asseblief. ) Helen Zille is die voormalige premier van die Wes-Kaap.

Meer oor:  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.