Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille se DA: Minder tog beter
Rapule Tabane

Die vorige keer dat ek hier geskryf het, het ek die wens uitgespreek dat die DA steeds as ’n koherente eenheid uit die federale raadsvergadering sou kom omdat Suid-Afrika werklik ’n sterk en dinamiese amptelike opposisieparty nodig het.

Dit was ongelukkig nie die geval nie. Die party is nou een groot gemors. Dit is selfs moeilik om te sê dat ons nog van dieselfde DA praat.

Die enigste persoon wat ná die ineenstorting van die party se leierskap herrys het, is Helen Zille. Haar terugkeer en die ander leiers se uittog kom nadat ’n verslag van ’n hersieningspaneel die vorige leiers oor die vingers getik het oor swak leierskap omdat die party se verkiesingsteun in die 2019-verkiesing getaan het. Die verslag het die verlies van wit Afrikaners se stem geïdentifiseer as ’n sleutelfaktor wat die DA die verkiesing gekos het.

“Die party se onverbiddelike fokus daarop om meer steun van swart kiesers te wen is verstaanbaar gegewe die frustrasies van die party se mislukte pogings oor baie jare. Maar om bestaande kiesers as vanselfsprekend te aanvaar is altyd ’n fout. Dit is opvallend dat die DA vir etlike jare nie op verskeie waarskuwings ag geslaan het dat hy dele van die wit Afrikaanse kieserskorps vervreem nie,” lui ’n gedeelte van die verslag.

Die indruk word geskep dat jy net wonderlik is as jy na haar pype dans. Wanneer jy ’n greintjie onafhanklikheid ontwikkel, kan sy dit nie hanteer nie en jy is uit.

Die paneel beveel aan dat die DA na ontnugterde Afrikaanse kiesers moet uitreik in ’n poging om hul ondersteuning terug te wen.

Ek glo nie dié bevindinge, en dat die voormalige partyleier terselfdertyd gedink het dit is tyd om terug te keer, is toeval nie. Zille het in onderhoude gesê sy was huiwerig om terug te kom, maar het op die ou end onder die druk geswig. Sy is deur verskeie mense genader om ’n nuwe party te begin, maar het nie met dié idee saamgestem nie en het gevoel daar is ’n behoefte om terug te keer om die DA te “stabiliseer”.

Met die onlangse ontwikkelinge wonder ’n mens presies hoeveel stabiliteit sy na die party gebring het. Dinge het eerder uitmekaar geval. In die oë van baie swart mense het sy die gesig geword van die DA-faksie wat die party suiwer liberaal en wit wil hou. Ons weet ook nie hoeveel van die verlore stemme sy na die DA sal kan terugbring nie. Zille is duidelik oortuig dat sy die DA se visie beter as baie mense verstaan en verwoord en dat dit is wat sy in die party wil herstel.

Maar haar siening oor kolonialisme en die feit dat sy die gemeenskaplike faktor in die geveg teen Maimane, Lindiwe Mazibuko, Herman Mashaba en selfs Mamphela Ramphele was, skep die indruk dat jy net wonderlik is as jy na haar pype dans. Wanneer jy ’n greintjie onafhanklikheid ontwikkel, kan sy dit nie hanteer nie en jy is uit. En dit is die swaard wat gaan hang oor die kop van wie ook al gekies word om Maimane as die nuwe leier op te volg. Daardie persoon sal na haar pype moet dans of dit gaan ’n baie ongemaklike posisie wees.

So, Zille gaan beheer oor die party hê, maar watter soort party sal dit wees? My raaiskoot is dat dit ’n DA gaan wees wat steeds in die Wes-Kaap aan die bewind sal wees, maar wie se groei in die res van die land beperk sal wees. Dit sal waarskynlik die ware party van Helen Suzman wees, klein, maar baie luidrugtig. Dit sal nie noodwendig ’n ware liberale party wees nie, maar ’n party wat homself voorhou as ’n klein Dawid wat teen ’n magtige Goliat opstaan. Dit sal ’n DA wees wat die regerende ANC sal irriteer en nie met rus sal laat nie. Maar hy sal nie die ANC oormatig kwel nie. Dit sal die ou DA van Tony Leon en Zille wees wat al die regte goed sê, maar nie ’n bedreiging is vir die ANC om aan die bewind te bly nie.

Miskien is dit wat Zille en haar span wil hê: Minder, maar beter.

Meer oor:  Helen Zille  |  Rapule Tabane  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.