Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille: Staan sélf pa vir jou dade

Suid-Afrika se grootste probleem is dat niemand enige verantwoordelikheid wil aanvaar nie

Gedurende my tyd as premier was die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama se ontleding waarom sommige lande suksesvol is en ander nie altyd die een ding wat my denke gerig het.

Welwetend dat ek die gevaar loop om Fukuyama se idees te oorvereenvoudig, kan ’n mens sy denke soos volg opsom:

Fukuyama sê ’n demokratiese samelewing moet drie belangrike dinge regkry om te slaag: Die oppergesag van die reg moet gehandhaaf word; ’n bekwame staat moet sy funksies betroubaar en doeltreffend uitvoer; en daar moet ’n diepgewortelde kultuur van persoonlike aanspreeklikheid wees.

Dit is ’n misleidend eenvoudige formule, maar ek het agtergekom hoe deksels moeilik dit is om dit reg te kry.

Ons herken almal hierdie eienskappe in lande wat dit regkry. Hul misdaadsyfer is baie laag, korrupsie feitlik onbekend, die openbare instellings slaag, leiers aanvaar aanspreeklikheid en gewone mense aanvaar verantwoordelikheid vir die verbetering van hul eie lewens terwyl hulle hul gesinne bemagtig om dieselfde te doen.

Dit is ’n formule wat mense uit verskillende agtergronde in staat stel om vreedsaam met mekaar saam te leef. Sulke samelewings bevorder vertroue, sosiale samehorigheid en vertroue in die toekoms. Dit dryf op sy beurt persoonlike dryfkrag en innovering, dit lok beleggings, bevorder groei en skep werk in ’n deugdelike siklus van vooruitgang.

Daar is geen stigma om van die staat afhanklik te wees nie.

In die dekade wat ek as premier van ’n provinsiale regering probeer het om hierdie drie “pilare van sukses” staan te maak, het ek begin verstaan waarom so min samelewings dit regkry.

Die voormalige Britse premier Gordon Brown was heeltemal reg toe hy gesê het vir lande wat probeer om die oppergesag van die reg te vestig, die eerste 500 jaar altyd die moeilikste is.

Dit is ’n nuttige realiteitstoets om ons te herinner dat ons nog net 25 jaar van demokrasie agter die rug het. In teorie is almal gelyk voor die reg, maar in praktyk het ons nog ’n baie lang pad om te loop.

En vooruitgang kan nie gebeur sonder ’n kultuur van aanspreeklikheid wat deur die breë samelewing aanvaar word nie – iets wat die grondslag van die oppergesag van die reg vorm.

Ek omskryf verantwoordbaarheid as “verantwoordelikheid met gevolge”. Verantwoordbaarheid bestaan as mense verstaan dat die versuim om hul verpligtinge na te kom negatiewe gevolge vir hulle persoonlik sal hê.

Om so ’n kultuur op enige plek te vestig, is ’n geweldige uitdaging. Maar dit is om verskeie redes veral moeilik in Suid-Afrika.

Eerstens is ons belas met die gewig van die geskiedenis. Vandag, ’n kwarteeu ná die ondergang van formele apartheid, word ras nog steeds algemeen aanvaar as ’n merker van slagofferskap.

As dit dus kom by aanspreeklikheid, hanteer die samelewing steeds die “onderdrukkers” anders as die “onderdruktes”.

Onvermydelik is daar dus dubbele standaarde as dit by kodes vir sosiale gedrag en die gevolge daarvan kom – wat dit uiters moeilik maak om ’n gemeenskaplike begrip te kry van wat “aanspreeklikheid” beteken en wat dit van die individu vereis.

As voorbeeld hiervan, neem die volgende angswekkende statistieke: Ses uit tien geboortes wat in Suid-Afrika geregistreer word, dui die vader as “onbekend” op die geboortesertifikaat aan.

Ek vra myself gereeld af of hierdie pa’s regtig “onbekend” is en of die ma’s nie dalk die identiteit van hul kinders se pa bewustelik weerhou in ’n poging om binne die minimum inkomste te bly wat nodig is om ’n staatstoelaag te ontvang nie.

Wat ook al die motivering, die resultaat is dat meer as die helfte van alle pa’s in Suid-Afrika aanspreeklikheid ontduik vir hul mees fundamentele verantwoordelikheid: om vir die kinders wat jy in die wêreld bring om te gee. Ek is seker ’n groot deel van die wanfunksionaliteit in ons samelewing kan hierheen teruggevoer word.

Kom ons kyk na die MIV-vigs-pandemie. Byna almal weet dat die MI-virus versprei word deur onbeskermde seks, veral as individue met die virus gelyktydig veelvuldige seksmaats het. En as ouer MIV-positiewe mans met jonger vroue seks het, versprei die virus soos ’n veldbrand omdat dit generasie-grense oorsteek.

Vigs kos ons samelewing miljarde rande, maar byna ons hele beleid is daarop gemik om individue te beskerm op ’n manier dat hulle nooit aanspreeklikheid vir hul eie lewenskeuses oor hul seksuele gedrag hoef te aanvaar nie. (Natuurlik is baie mense, veral vroue, dikwels magteloos om sulke keuses uit te oefen of die verspreiding van vigs te voorkom, wat dit des te belangriker maak dat seksuele roofdiere – meestal mans – aanspreeklik gehou word vir húl optrede.)

Elke keer as ek hierdie kwessie opper, is daar ’n voorspelbare teenreaksie. Maar ek sal aanhou om dit te doen, want hierdie dinge moet gesê word.

En so gaan dit ook met ons behuisingsbeleid. Jy kan slegs in aanmerking kom vir ’n gratis huis van die staat as jy ouer as 18 jaar is met afhanklikes en as die hele huishouding minder as R3 500 per maand verdien.

Dit ondermyn dus die persoonlike motivering om op skool te bly, ouerskap uit te stel, vaardighede aan te leer, werk te kry, ’n ordentlike salaris te verdien en aanspreeklikheid te aanvaar vir die gehalte van jou eie lewe. Want jy gooi die kanse om gratis ’n huis van die staat te kry weg as jy dit doen.

Daar is ook geen stigma daaraan verbonde om van die staat afhanklik te wees nie. Inteendeel, dit is ’n reg wat jy deur jou slagofferskap verdien het. En enigeen wat die onbedoelde gevolge van hierdie beleid uitwys en kritiseer, loop die risiko om as ’n rassis of iets ergers gebrandmerk te word.

Niemand verstaan die kuns om met sy slagofferskap te knoei en verantwoordbaarheid te ontduik beter as Jacob Zuma nie. Ondanks al die bewyse van korrupsie en wanbestuur teen hom, het ons voormalige president daarin geslaag om homself uit te beeld as die ongelukkige slagoffer van ’n Machiavelliaanse sameswering.

Die stryd van die Zuma-faksie teen pres. Cyril Ramaphosa is niks meer as ’n epiese stryd om aanspreeklikheid vir misdaad te ontduik nie.

Hierdie ontwyking van aanspreeklikheid is reg deur ons samelewing, van bo tot onder, sigbaar. Ons arbeidswette is byvoorbeeld ontwerp om diegene wat gelukkig genoeg is om ’n werk te hê te beskerm en van verantwoordelikhede vry te stel. Gedurende my tien jaar in die regering het ek ervaar hoe moeilik dit is om ’n onbevoegde of lui persoon af te dank.

Ons het net een keer in daardie tien jaar daarin geslaag – en slegs ná ongelooflike inspanning, konflik, koste en departementele ontwrigting, al het ons die wet noukeurig nagekom.

Die proses was so moeilik en taai dat ek heeltemal kan verstaan waarom maatskappye en regerings eerder miljoene aan goue handdrukke aan onbevoegde bestuurders betaal en sodoende swak prestasie beloon en ’n kultuur verskans wat die teenoorgestelde van verantwoording is.

Ja, maar ten minste het ons nou die Zondo-kommissie wat uiteindelik verantwoording afdwing, hoor ek mense sê.

Ek haat dit om dit te sê, maar ek is bevrees dat die Zondo-kommissie ’n baie duur en baie openbare meganisme kan word om juis verantwoordbaarheid te ontduik.

Die enigste manier om aanspreeklikheid ingevolge die wet te verseker, is dat diegene wat van misdade verdink word deur die polisie ondersoek en dan vervolg word en in ’n hof skuldig bevind of vrygespreek word.

Die Zondo-kommissie het geen mag om enige van hierdie funksies te onderneem nie. Dit het ’n platform geword vir sensasionele strafregtelike aantygings wat, indien dit nooit in ’n hof getoets word nie, net aantygings sal bly. Sommige van diegene wat genoem word, verdien moontlik die negatiewe publisiteit. Ander nie. Ander gaan steeds onder die radar bly.

Maar niks hiervan dra by tot ’n kultuur van toerekenbaarheid nie.

Is dit moontlik om dit reg te ruk?

Baie hang daarvan af of dit moontlik is om die gebroke pypleiding van die strafregstelsel te herstel, beginnende by die nasionale vervolgingsgesag.

Adv. Shamila Batohi is ses maande gelede as nasionale direkteur van openbare vervolging aangestel om hierdie groot taak te onderneem. Om billik te wees, is dit te vroeg om nou reeds resultate te verwag, maar die horlosie tik.

Ons kan beslis nie 500 jaar wag nie. Nie eens 50 nie.

Groter verantwoordelikheid rus op haar en haar kollegas se skouers as byna enige ander. Desondanks het ons almal die verantwoordelikheid om ’n kultuur van aanspreeklikheid te help vestig.

Wanneer ons self verantwoordelikheid aanvaar en dit van ander verwag, lê ons die fondament vir verantwoordbaarheid. As ons dit lank genoeg doen, word dit ’n gewoonte. En dan ’n kultuur.

En dit is die manier waarop nasies slaag.

  • Helen Zille is ’n voormalige premier van die Wes-Kaap.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.