Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Helen Zille: Suid-Afrika se ontwerpfout

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs baie gepraat oor Suid-Afrika se voorbereiding vir die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie.

Helen Zille

Dit is dus gepas om te suggereer dat hy een van dié revolusies se mantras ter harte neem: “Misluk vinnig”.

Om “vinnig te misluk” verwys na ’n benadering waar die programmeerders van toepassings of sagteware hoop dat hulle so gou as moontlik bewus word van enige ontwerpfoute. Dit stel hulle in staat om foute gou reg te stel, ’n dodelike fout te erken en aan te beweeg tot ’n volgende projek met die minimum vermorsing van tyd en geld.

In my tyd in die Wes-Kaapse regering het ek probeer om dieselfde benadering tot beleidsimplementering toe te pas, en dit uiters uitdagend gevind.

Watter vroeë aanwysers sal dui op mislukking? Wanneer probleme ontstaan, hoe weet ’n mens watter onderdeel van ’n groot stelsel misluk het? Hoe weet ’n mens of dit bloot die gevolg is van tandekryprobleme, onbevoegdheid, onbetroubare data of net swak beleid? Kan die probleem opgelos word? En hoe lank moet ’n mens aanhou probeer voordat jy mislukking erken en aanbeweeg?

Daar is egter ’n paar beleidsidees wat al so dikwels en so konsekwent oor kultuur- en geografiese grense heen misluk het, dat ons nie meer hierdie vrae daaroor hoef te vra nie. Ons weet dit werk nie.

Ons bly ’n land wat langsamerhand misluk.

Een van hulle is die beleidsraamwerk waaraan die ANC se driepartyalliansie so verknog is: die Sowjet-geïnspireerde Nasionaal-Demokratiese Revolusie of NDR wat vir die eerste keer in die 1960’s breedvoerig deur die SAKP beskryf is en sedertdien in beton gegiet is as die hoeksteen van die regerende alliansie.

Dit is vandag steeds so.

Die NDR beskryf ’n “twee-stadium-revolusie” tot ’n sosialistiese staat waarin ’n ideologies-suiwer “voorhoede” die party beheer, die party die staat beheer, en die staat die ekonomie beheer.

Hierdie formule is al probeer van Oos-Duitsland tot Zimbabwe, van Venezuela tot Noord-Korea, en die resultate was altyd ewe rampspoedig – vanuit sowel ’n ekonomiese as menseregte-perspektief.

Tog het een van ons slimste politici, Pravin Gordhan, die man wat (saam met Ramaphosa) geskilder word as die een wat die land moet red van die magte van die duisternis, so onlangs soos verlede week nog sy verbintenis tot die ondersteuning, konsolidering en selfs die uitbreiding van staatsbeheerde ondernemings bevestig – om in die proses die “tweede fase van radikale sosio-ekonomiese transformasie” te bevorder.

Dit is ’n duidelike onderskrywing van die doelwitte van die NDR.

Solank as wat mense glo dat ons die toekoms van Suid-Afrika sal verseker indien die “goeie ouens” (soos Ramaphosa en Gordhan) die stryd om die siel van die ANC wen, so lank sal ons ’n land bly wat langsaam misluk.

Die “goeie ouens” is ongetwyfeld minder korrup as die res, maar dit maak nie die ANC se beleidsraamwerk voordelig of implementeerbaar nie. Daar is selfs ’n kans dat die president dit diep binne hom besef, maar niks daaraan kan doen sonder om sy magsbasis te vernietig nie.

As dit so is, is hy verdoem om langsamerhand te leer dat hy óf die driepartyalliansie kan red óf Suid-Afrika op die pad van ekonomiese groei en werkskepping kan plaas – maar hy kan nie albei doen nie.

Ek bepleit al baie jare lank ’n heeltemal nuwe alliansie wat ’n verreikende herskikking van die politieke toneel veronderstel om ’n nuwe sentristiese meerderheid te bou wat verbind is tot konstitusionalisme, nierassigheid en ’n inklusiewe markekonomie.

’n Voorwaarde vir hierdie ontwikkeling is egter die ontbondeling van die driepartyalliansie. Totdat dit gebeur sit ons met die NDR, maak nie saak watter ANC-faksie in beheer is nie.

Staatskaping oor die afgelope 20 jaar was nie ’n Zuma-afwyking, soos wat baie mense graag dink nie. Dit was, en bly, ’n noodsaaklike bestanddeel van die NDR, in enige formaat. Die ANC was nog altyd baie eerlik hieroor.

Hul strategie is die beste omskryf tydens die vroeë jare van demokrasie in ’n oorsig van die ANC se vordering ná vier jaar in regering. Die hoofskrywer van die oorsig, dr. Joel Netshitenzhe (wat konsekwent as een van die ANC se “goeie ouens” voorgehou word), het tot die gevolgtrekking gekom dat die ANC slegs vordering sal maak om die land te transformeer as die party alle staatsinstellings beheer.

Die NDR, het hy aangevoer, het ten doel dat die nasionale bevrydingsbeweging mag oor alle staatshefbome uitoefen: die weermag, die polisie, die burokrasie, intelligensiestrukture, die regbank, semistaatsinstellings en agentskappe soos regulerende liggame, die openbare uitsaaier en die sentrale bank.

Dit, in ’n neutedop, is staatskaping.

Dit is ontwerp om mag te sentraliseer en kaders in ’n polities beskermde netwerk te ontplooi wat onvermydelik tot selfverryking gelei het en alle staatsinstellings gekriminaliseer het.

Die oomblik toe dit gebeur het, hoef die Guptas en die Watsons en hul meelopers net die “groot man” self in hul tentakels te verstrengel om die hele kabaal te kan beheer.

Dit is daarom futiel om nou die arme drommel te probeer identifiseer wat toegelaat het dat die Guptas se trou-vliegtuig op die Waterkloof-lugmagbasis mag land. Die hele stelsel is gekompromitteer.

Dit sal meer sin maak om daardie dapper individue te identifiseer en te bevorder wat bereid was om rug styf te maak en in die proses hul eie loopbane op die spel geplaas het.

Al die ondersoeke en kommissies sal uiteindelik ’n mors van tyd en geld wees as hulle nie die fundamentele ontwerpfout, wat aan die kern van al ons probleme lê, uitwys nie: die NDR.

Dit is egter onwaarskynlik dat dit ooit sal gebeur en daarom sal ons aanhou om langsamerhand te misluk.

Te veel Suid-Afrikaners is verblind deur die oortuiging dat die goeie ouens die wa deur die drif kan sleep – gegrond op ’n beleidsraamwerk wat dit onmoontlik maak. Dit is soos om te glo dat ’n bevoegde vlieënier ’n Boeing 737 Max in vryval kan red. Selfs die wêreld se beste vlieëniers kan nie ’n vliegtuig met ’n fundamentele ontwerpfout in die lug hou nie.

Dit is ’n grafiese en tragiese illustrasie van waarom digitale ontwerpers reg het as hulle sê hoe vinniger jy die risiko van ’n noodlottige fout kan uitwys, hoe beter.

En sekerlik voordat daar massiewe koste-implikasies is wat menselewens betref.

Dit is tyd om hierdie benadering doelbewus en ontledend op die Suid-Afrikaanse politiek toe te pas.

Dit sal ’n goeie manier wees om die vierde nywerheidsrevolusie af te skop – en ’n beduidende verbetering op die Nasionaal-Demokratiese Revolusie.

* Helen Zille is voormalige premier van die Wes-Kaap. Haar rubriek verskyn elke tweede Sondag van die maand in Rapport.

Meer oor:  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.