Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
'Help Pauw en ons om die ligte te laat brand'

Wanneer jy vir nuus betaal, sorg jy dat die ligte van die demokrasie aanhou brand, skryf Carla Lewis.

Carla Lewis

“Hoekom moet ek betaal vir nuus? Ek kan dit dan elders gratis lees.”

Dis die vraag wat ek elke dag op Beeld se Facebook-blad teëkom wanneer ek dit modereer.

Dis ook die vraag wat deur my kop geflits het, saam met die Washington Post se klinkreël “Democracy dies in darkness,” toe die ligte Woensdagaand by die ondersoekende joernalis Jacques Pauw se boekbekendstelling van The President’s Keepers in die Hyde Park-winkelsentrum in Johannesburg afgegaan het.

Dit was ’n gepaste metafoor vir ’n korrupte regering wat ons landsburgers in die donker probeer hou oor hul misdadige gekonkel.

Goeie joernalistiek van gehalte, die soort wat Pauw en my kollegas pleeg, kos geld.

Pauw moes Rusland toe gereis het en die lengte en breedte van Suid-Afrika deurkruis om met bronne te praat. Hy moes selfoonrekeninge en internetrekeninge betaal en nog spook om die regte papiere vir ’n Russiese visum te kry. Die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) het ook Donderdag klagte teen hom by die polisie ingedien. Alles kos geld, vir petrol, reiskoste en soos dinge nou lyk, ’n baie duur hofsaak wat voorlê.

Die eerste eksemplaar van sy boek het binne dae uitverkoop en ek het Woensdagaand hoendervleis by sy boekbekendstelling gekry toe ek die skares mense sien.

Die Exclusive Books-winkel was te klein en die bekendstelling is na die onderste verdieping van Hyde Park verskuif.

Dit het meer gelyk soos ’n rockkonsert as ’n boekbekendstelling. Mense het oor balkonne geleun om ’n beter blik van die skrywer te kry, onder het skares elmboog-tot-elmboog gestaan en gesit om na hom te luister.

Wanneer jy vir nuus betaal, sorg jy dat die ligte van demokrasie aanhou brand.

Ek is bly vir Pauw dat sy harde werk nie net vir hom lof by kritici en landsburgers oplewer nie, maar dat hy darem ’n paar randjies uit die boek kan maak. Die hemel weet, hy gaan dit nodig kry met die Inkomstediens en die SVA wat dreig met regsaksie.

Ek was die afgelope paar dae ná die #SwartMaandag-mistasting so ’n bietjie swartgallig oor die joernalistiek nadat ’n paar medejoernaliste onverantwoordelike en onakkurate twiets uitgestuur het. Woensdagaand is ek egter weer herinner aan hoe belangrik ons werk is.

Hier is die publiek wat ’n joernalis soos ’n held en ’n rockster behandel en bereid is om R300 vir ’n uitstekend nagevorste boek te betaal. Beeld se lesers SMS elke dag; hulle wil net vir Pauw ’n Bells koop (Ek verneem hy verkies eerder Klippies.)

Joernaliste soos hy waag hul veiligheid en soms ook dié van hul naastes om die waarheid aan ons lesers te onthul. Hulle boet met hul geestelike gesondheid, stoei in die nagte met stories van verminkte lyke, kinders wat mishandel en vermoor word, soos Poppie van der Merwe en Anene Booysens, psigiatriese pasiënte wat in hul eie bloed verdrink het soos met die Life Esidimeni-tragedie.

Ek dink aan City Press se Abram Mashego, wie vanjaar aangewys is as Media24 se Koerantjoernalis van die Jaar vir sy verslaggewing oor die teistering van die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan.

Suzanne Venter van Rapport het gesorg dat geregtigheid geskiet met haar bekroonde verslaggewing van die Life Esidimeni-tragedie.

Dan kyk ek na die ander joernaliste, redakteurs en produksiepersoneel wat saam met my werk. Die redakteurs in ons nuuskantore toor met minimale begrotings en beperkte hulpbronne. Net soos Pauw verdien hulle ook om as rocksterre en helde vereer word.

As jy ’n koerant koop, of inteken op ’n nuuswebwerf, dra jy by tot die poel van geld wat die kombuislig laat aanhou brand.

En ek moet bieg, wanneer ek lees van iemand wat Netwerk24 uitkryt as ’n “geldmaakbesigheid” wil ek ween.

Ons moet geld maak, want as daar nie betaal word vir nuus nie, hoe moet daar betaal word vir joernaliste se salarisse? Hoe gaan ons die rekeninge vir die telefoonoproepe na betroubare bronne betaal, en geld hê om joernaliste Dubai toe stuur om Jacob Zuma en die Guptas se gekonkel uit te snuffel? Wie gaan die joernaliste se petrolgeld betaal na plase waar hulle in grafiese detail moet luister na die vertellings van misdaadslagoffers?

Dié tipe stories verg enorme ekonomiese hulpbronne en plaas ongelooflike druk op joernaliste. Dit word nie deur oempa-loempas afgeskryf van ander nuuswebwerwe in ’n nuusfabriek nie.

Wanneer jy vir nuus betaal, sorg jy dat die ligte van demokrasie aanhou brand. Ek praat hier nie net van ’n aanlyn intekening nie. Dis ’n intekening op ’n koerant, of ’n tydskrif wat as ’n bederf gekoop word.

Om vir P.J. O’Rourke, een van my gunstelingskrywers en ’n joernalis, aan te haal: “Ons werk as joernaliste is nie om op die kokkerotte te trap nie. Ons moet net die kombuislig aanskakel en kyk hoe die vuilgoed rondskarrel.”

As jy ’n koerant koop, of inteken op ’n nuuswebwerf, dra jy by tot die poel van geld wat die kombuislig laat aanhou brand.

Anders mag jy nie kla oor die kokkerotte wat by die drein uitpeul, rotte wat stukke van jou brood wegknibbel en oor ’n vuil kombuis nie.

Dís hoe demokrasie ’n stadige dood sterf.

* Lewis is ’n redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Jacques Pauw  |  Carla Lewis  |  Demokrasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.