Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hemelvaart is ’n belangrike Christus-fees
Nico Koopman

Vandeesweek vier die Christelike tradisie Hemelvaart. Ons geliefdes in die Islamitiese tradisie vier Eid al-Fitr, die fees van die breek van die vas.

Dit geskied te midde van bedreiginge soos Covid-19, korrupsie, ongelykheid, armoede, werkloosheid en die viering van middelmatigheid.

Vir Christene beteken Hemelvaartsgeloof Jesus het opgevaar om plek vir almal voor te berei. Johannes 14 sê daar is baie woonplek in die huis van ons Hemelse Ouer – dis ’n woonplek vir almal, ’n ruimte waar lewe geborge is en waar lewe blom. Niemand leef daar uiteindelik, en reeds nou, meer onversorg, ongeborge of dakloos nie.

Hemelvaartsgeloof bely ook dat die gekruisigde Here en die opgestane Here die magtigste posisie denkbaar beklee, naamlik plek op die hemelse troon. Vanaf die troon regeer ’n weerlose, gekruisigde en opgestane Een.

Te midde van apartheid, toe dit gelyk het asof die apartheidsheersers onoorwinlik is, het die destydse NG Sendingkerk, deesdae die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Belydenis van Belhar in 1986 opgestel.

Daardie belydenis bereik sy hoogtepunt in die formulering dat Jesus Christus die Here is. Jesus regeer, en nie die apartheidsmagte nie. Die Belydenis van Belhar verwoord Hemelvaartsgeloof.

Hemelvaartsgeloof laat ons ja sê vir ware getrouheid aan die aarde, aan mens en planeet, aan plant, dier en natuur.

Hemelvaartsgeloof, Belhar-geloof, beteken geen reus kan ons oorwin nie. Seerkry, swaarkry en sukkel, sonde en skuld, skaamte en smet, lyding en leed, siekte en sterfte, droefheid en duisternis, verlies en verwerping het nie die laaste sê nie. Omdat Jesus regeer, stuur die heelal en elke mens se verhaal uiteindelik af op ’n lewe waar alle trane afgedroog word; waar gekerm en gekreun bedaar; donkerte plek maak vir lig; ’n leedlied ’n loflied word en lyding verander in lag. Die Here wat regeer, is tegelyk die Herder wat versorg, soos Psalm 23 dit helder verwoord.

Hemelvaartsgeloof laat ons ja sê vir ware getrouheid aan die aarde, aan mens en planeet, aan plant, dier en natuur. Hemelvaartsgeloof laat ons alles in die stryd werp om iets van die hemel op aarde te vergestalt – ’n lewe van geregtigheid, vrede en vreugde vir almal en alles.

Ons fokus op meer as die voor die hand liggende; ons sien meer as die sigbare. Ons sien die hemelse; ons word geken in hoë plekke, op die hoogste plek in die heelal, op die troon in die hemel, sodat ons omvormende diens op aarde kan lewer.

En Hemelvaartsgeloof beteken die Een wat vertrek het, die skynbaar Afwesige, is nou deur Gods Gees meer as ooit die Teenwoordige, Immanuel – God by ons teenwoordig; God met ons onderweg; God in ons; God nooit teen ons nie, maar altyd God vír ons.

Hemelvaart word straks tot ons nadeel die aspoestertjie onder die Christelike feesdae genoem.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Nico Koopman  |  Godsdiens  |  Geloof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.