Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hendrik Hancke: Dié kind is nie dood nie, Ingrid: Dié kind rus nie . . .

Dié kind is nie dood nie Ingrid, al suig en biep die hospitaalmasjiene al lankal onrusbarend die einde nader.

Al huil-sing die betaalde rouklaers sy naam reeds langs ’n oop graf terwyl die omgedolfde rooibruin van Afrika namens hom skreeu.

Onvervuld, ongevul en ongevoelig skreeu hierdie grond woordeloos sy naam. Want grond kan nie voel nie, Ingrid. Grond kan nie onthou óf vergeet nie. Maak nie saak wat ons daarop doen nie. Grond kan en gaan ons almal in hierdie land nog insluk, Ingrid.

Dié swaar gewonde kind lig sy vuiste teen sy moeder, sy moedelose moeder wat Afrika fluister, want skreeu kan sy nie meer nie – haar stem is met die koue yster-ring van ’n vuurwapen teen haar slaap gekaap en weg.

Haar hande is afgekap, haar knieë rou gebid.

Haar Sassa-asem al wat oor is van alles wat haar in ander tye juig-woedend strate toe laat storm het.

Wat haar dun stem ’n deel van die angswekkende mooi van stofstrate vol dreunsang gemaak het.

Sy fluister soms steeds onwaarhede van vryheid en die gelykheid van heide in die omsingelde lokasies van ’n vergete hart.

’n Ongenaakbare roete wat deur die waansin van ons moderne bestaan kronkel en draai.

Dié kind lig sy vuiste na sy vader, oftewel waar sy vader móés wees, maar sy afwesigheid is ’n merker in hierdie optog van generasies vaderlose kinders wat Afrika skreeu.

Skreeu die gebrek aan vaders en hul ligkolle langs ’n donker, weemoedige en opdraande pad.

’n Ongenaakbare roete wat deur die waansin van ons moderne bestaan kronkel en draai.

Soms belig sy moeder die pad en soms wankel sy self op die gapende afgrond.

Maar dié kind skreeu steeds oor die dekades heen.

Skreeu die argeloosheid van saad wat in liefde geplant is, en tuiniers wat hul pligte vir die alledaagse versaak het.

Skreeu dié kind wat vaderloos deur sy moeder ’n mens gemaak word.

Dié kind Ingrid, hy is nie dood nie.

Al marsjeer ons nie meer met plakkate van hom na die Uniegebou of die parlement toe nie.

Dié kind is nie dood nie, Ingrid. Dié kind rus steeds nie.

Nóg by Coligny nóg by Marikana, ook nie in Penny Sparrow se graf wat ons almal saam met haar gegrawe het nie.

Die graf waar ons nou saam met haar lê met ’n sagte ras-koeël deur ons klipharde koppe.

Dié kind is in die skaduwee van prioriteitsmisdade en soldate in bendegebiede wat eintlik iemand se veilige vandaankomplek moes wees.

Waar ’n enkelsyferouderdom geen genade waarborg nie.

Dié kind loer deur die verdonkerde vensters van verkose leiers se ingevoerde motors en verbeel hom ’n teenwoordige tyd waar hy ook knus in die land van ons se hart kan meedoen.

Dié kind, Ingrid, dié kind wat net wou speel in die son van Kodesa, is orals. Dié kind wat ’n statistiek geword het, trek nou nog deur die ganse Afrika van ons gewete.

Die gewete wat van reuse geweet, maar vergeet het.

Dié kind van jou Ingrid, wat óns reus geword het, reis nou deur die Afrika van my hart.

Meer oor:  Hendrik Hancke  |  Draadwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.