Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hendrik Hancke gesels met Elana Barkhuizen

Elana Barkhuizen, die ge­skorste onderwyseres in die kern van die rasdrama op Schweizer-Reneke, het nêrens heen “gevlug” nie, selfs al is sy op sosiale media ’n rassis – en erger – genoem.

Elana Barkhuizen (36), die geskorste onnie midde-in die Schweizer-Reneke-rassestorm, is steeds geskok oor die herrie wat om haar losgebars het nadat sy foto’s van ’n kollega, Elsabé Olivier, se gr. R-klas op ’n WhatsApp-groep vir ouers gedeel het. Foto: Deon Raath

Sowat tien dae nadat sy daardie foto geneem het van ’n kollega se gr. R-klas waarin wit en swart kinders apart sit, het Barkhuizen Vrydag in ’n eksklusiewe onderhoud met Rapport gesê sy verkwalik haarself daarvoor dat sy die foto aan ouers gestuur het, dat die skool agter haar staan, en dat sy van die politiek niks weet of wil weet nie.

“Daar was wolwe oral om my. By tye het ek nie geweet wie wolf en wie skaap was nie. Ek moes versigtig wees,” sê Barkhuizen (36).

Dit was sy wat op Woensdag 9 Januarie die gewraakte foto op ’n WhatsApp-groep vir ouers geplaas het nadat dié ouers by haar wou weet hoe dit met hul kinders gaan.

Die beeld – van glimlaggies oral, maar vier swart kinders eenkant by die deur – is die “apartheid-foto” gedoop. En skielik was die Laerskool Schweizer-Reneke voorbladnuus.

Barkhuizen is twee dae later uit haar pos geskors.

Ek is ’n juffrou, nie ’n politikus nie. Vra my oor die wêreld waarin ék beweeg.

“Ek het verlede Woensdagoggend ’n hele paar boodskappe van gr. R-ouers ontvang waarin hulle gevra het hoe dit met die kleintjies gaan. Toe neem ek vier foto’s van die twee klasse en deel dit op die ouer-WhatsApp-groep,” sê Barkhuizen.

Die foto’s is om 08:59 die oggend geplaas. Sewe minute later het ’n ma van een van die swart kinders reageer deur dankie te sê, gevolg deur ’n lag-gesiggie met hartjies in die oë.

“Ek het nie vir ’n oomblik gedink hierdie foto’s sal so ’n storm veroorsaak nie. Die ma wat eerste gereageer het duidelik ook nie.”

Baie Suid-Afrikaners het egter swaar gesluk aan die skool se verduideliking dat die kinders weens hul wisselende taalvaardigheid tydelik van mekaar geskei was. Veral die feit dat naambordjies by elke kind se tafel opgeplak was, is voorgehou as bewyse dat die skeiding eintlik permanent was.

“In my klas is dié naambordjies met wondergom vasgeplak. As ek ’n kind skuif, gaan die naambordjie saam,” sê Barkhuizen.

Oor die naambordjies in die klas van Elsabé Olivier, haar kollega waar sy die foto geneem het, sê Barkhuizen sy kan op regsadvies nie kommentaar lewer nie.

Sy vertel hoe sy daardie Woensdag voortgegaan het met haar dagtake al het die wolke van ’n rassestorm reeds begin opbou.

“ ’n Uur nadat ek die foto’s geplaas het, het mense my begin kontak en skermgrepe begin aanstuur. Ek was verstom,” sê Barkhuizen.

Net voor 12:00 het Olivier nog foto’s op die WhatsApp-groep geplaas.

“Omtrent 12:30 het die hoof my laat weet dat ek en Elsabé in sy kantoor moet aanmeld. Toe ek by sy kantoor kom, hoor ek Pandora se boks is oop.”

Sy word stil.

“Ek is stukkend. Ek het daardie foto’s geplaas. Alles wat daarop volg is direk daardeur veroorsaak. Ek kon daardie Woensdagaand nie slaap nie. Ek het die implikasies begin besef en vir my man gesê hier is groot moeilikheid, ek weet net nie hoe groot nie.”

Die trane wel op.

“Ek het die hele tyd net gedink ek het my skool verwoes. Wat as my hoof ’n hartaanval kry? En dit oor foto’s van gelukkige kinders!”

Teen verlede Donderdag was die vet in die vuur.

Oproeriges in die kleure van politieke partye en ander omstanders het voor die skool saamgedrom en gedreig om die skool af te brand.

Ouers het kinders – wit en swart – verwyder deur ’n stuk van die palissade-heining om die skoolterrein af te breek.

“Ons het die oggend in die personeelkamer bymekaar gekom. Elsabé het vir ons gebid. Terwyl sy gebid het, was my hoof se hand die hele tyd op my skouer. Ek sê my hoof, want dit is wat hy vandag nog is. My hoof.”

Sy word stil.

“Alwyn Henning, my hoof, Elsabé en die ander onnies staan almal agter my. Ons gaan deur hierdie ding kom,” sê Barkhuizen.

“Ek het daardie oggend my kinders, wit en swart, soos altyd by my klas se deur op my knieë met drukkies gegroet en vir hulle gesê wat ek altyd vir hulle sê: Onthou, ek is soos ’n blommetjie. ’n Blommetjie het water nodig en julle drukkies is my water. As julle my nie drukkies gee nie gaan my koppie die hele dag hang,” sê Barkhuizen.

Haar oë skiet weer vol trane.

“Tussen al die chaos deur moes ek my kinders gerusstel. Hulle ouers ook. Een mamma het vroeg al opgedaag om haar seuntjie te verwyder, toe sê ek vir haar sy kan by ons in die klas bly en sien haar kind is veilig.”

Barkhuizen, wat self twee kinders in die Laerskool Schweizer-Reneke het – in gr. 1 en gr. 4 – verstaan dié ma se vrees. “Sy het daar by ons gebly tot die ontruiming begin het. Later die middag het sy vir my ’n WhatsApp-boodskap gestuur,” sê Barkhuizen.

“Wil jou net dankie sê. Jy het ons kinders vandag so deurgedra . . . harder laat ‘raas’ as die ander harder geword het. Waardeer jou. Dink ook moeilik vir jou as ouer wat self een nuwe skool toe het, maar jy’t klomp onder jou. Jy’s ’n yster. . . Baie vrae,” het die ma geskryf.

Hendrik Hancke

Hierdie vrae het Barkhuizen warm om die kraag.

“Ek is ’n juffrou, nie ’n politikus nie. Vra my oor die wêreld waarin ék beweeg. Ek weet wat op ons skool se terrein gebeur.”

Haar grys-blou oë flits.

“Mense het my kom waarsku die betogers wil die skool afbrand en spesifiek dat hulle na my en my klaskamer soek. Ons moes vlug, maar ons het geweier.”

Barkhuizen en Olivier het by ’n al hoe kleiner wordende groepie kinders gewaak totdat elke kind veilig by sy of haar ouers was.

“Politici en hooggeplaastes het hiervan ’n speelbal gemaak. Nou ly die kinders.

“Ons skool kan nie funksioneer nie, en 300-plus kinders kry nie die onderrig wat hulle verdien nie. Wat is ons prioriteit dan nou eintlik?”

Sy skud haar kop.

“Kom ons gaan weer terug na klasgee en fokus op ons kinders.

“Hou politiek uit skole en gee ons kinders ’n basis waarop hulle hul drome kan bou.

“Want wat is ’n onderwyser dan eintlik? ’n Fasiliteerder van kinderdrome.”

Meer oor:  Elana Barkhuizen  |  Schweizer-Reneke  |  Kinders  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.