Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hendrik Hancke: Ons luister die stories vir julle

Die opgeklitste oggend het suur geword. In die steeds ontdonkerende uitspansel en twee koue bekers, waarvan die skil-koffie nooit gedrink sal word nie.

’n Plaaswerf vol voertuie. Joernaliste en polisielede groet mekaar by die naam. Iemand mompel, “dis ’n lelike een” en dan die besef – niks sal op hierdie werf ooit weer mooi wees nie.

’n Kwartgerookte sigaret, nou as – gryswurm – ’n stille getuie, op ’n strepie-gebrande kombuistafel.

In die voorkamer skrop ’n geluidloos huilende vrou ’n donker bloedkol uit ’n mat. Sy het ook maar enkele ure gelede haar eie man (hy wou mos waag om te probeer waarsku) aan die paramedici oorhandig.

Toe haar gehaas na haar mense in die groot huis. Net om uit te vind Mevrou is reeds kombers-oor-die-gesig saam met Meneer in ’n ander ambulans weg. Sirenes was nie nodig nie.

Boetie en die twee honde sou nog ’n wyle by die agterdeur lê. Daar net langs die kruietuin wat hy vir haar uitgelê het. Drie somers gelede. Drie stadige Noordwes-somers, voor hy dit vanoggend al vegtende weer tot daar gemaak het.

Doekvoet, clipboard-polisiemanne, sirkel-vlieë om gestorwe vleis. Die vreemde silwer van ’n space blanket het ’n rou snik uit haar hart geruk. Gemompelde Here-vloeke ’n blougeklede vreemdeling se skouer in.

Maar nou is die voorkamer hare, soos die polisieman gesê het. Asof hy geweet het skoonmaak is vandag al wat vir haar oorbly.

Ons ken die doodse stilte in stukkende oë se geluidlose gille. Want ons hoor die stories vir julle.

Skielik sien sy weer Boetie se starende oë, voor die silwer daaroor getrek is en sy skrop harder. Meer kwaad as hartseer (al weet die Here hoe hartseer) terwyl sy die laaste bietjie Boetie uit die mat probeer huil.

Sy doen dít, want Boetie se bloed word swart met tyd.

Dit verbaas jou dalk, maar jy sou dit geweet het as jou aktivisme verder as jou voorstedelike middelklas-rekenaarskerm gestrek het. As jy een keer self in ’n oorlewende se betraande oë gekyk het.

Al daardie stories van pyn en bloed en verslae herinneringe op ’n leë maag moes aanhoor. Om hopelik later ’n stem vir nog ’n stemlose te word.

Om geregtigheid se bloedspoor op te tel. Dié spoor te sny, soms tot laat in die aand, wanneer die onregverdigheid jou wakker hou.

Maar jy hoef nie, jy is oukei. Jy kry jou antwoorde dadelik op die internet. Jy hoef nie self in daardie oë te kyk nie, na daardie stories te luister nie.

Ons ken die doodse stilte in stukkende oë se geluidlose gille. Want ons hoor die stories vir julle.

Wanneer die ou vrou snikkend langs haar donker bloedkol die vorige aand se gebeure herleef, is ons daar. Wanneer ’n ma se oë verbete flits elke keer as sy daardie man se naam gebruik, is ons daar.

Wanneer ’n pa praat van sy dooie kind, ’n kind van sy broer, of ’n broer van sy suster. Wanneer die trane vrylik vloei en die waarheid stotterend gestalte kry, is ons daar.

Na hierdie stories vol bloed, vol pyn en vol gille luister ons vir júlle.

Meer oor:  Draadwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.