Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hendrik Hancke: Sak Sarel: ’n liefdesverhaal

In die motorhuis maak oom Sarel al jare sy somme op ’n selfoon met ’n gekraakte skerm.

Tannie Petro vermy hom en sy somme meestal soos die pes (hoe kraakvars en werklik het hierdie stowwerige idioom nie geword nie).

Oom Sarel steur hom nie daaraan nie en deel gereeld sy bulderende wyshede deur die oop kombuisdeur.

Tannie Petro se “sak Sarels” klink gereeld op.

“Geen wit babas mag meer aangeneem word nie,” bulder oom Sarel.

Dan sug tannie Petro:

“Sak Sarel, jy gaan net nie meer die kleur van jou aanneem-baba kan kies nie, anders staan jy agter in die ry,” paai tannie Petro.

Ook moorde is gereeld aan die ander kant van oom Sarel se gelykaanteken.

“Tot die laaste een van ons dood is. Ek sê jou dit word op regeringsvlak georganiseer.”

Tannie Petro kyk later nie eens meer op nie en mompel maar haar eie wiskunde haar naaldwerk in: “58 moorde per dag in Suid-Afrika en net twee van daardie slagoffers is wit. Die omgekeerde is dalk eerder ’n volksmoord. Sak Sarel.”

“Sak ou Sarel,” prewel sy amper biddend as haar selfoon eensklaps biep, skielik te bang om die boodskap te lees.

Toe die nuus van die komende 5G-netwerk breek, was oom Sarel amper ekstaties van agterdog, en toe sy beste “Facebook-bron” boonop met ’n paar memes vir hom die “verband” uitlig tussen dié netwerk en die nuwe koronavirus, het die ligte snags tot laat in die motorhuis geskyn.

Gepraat van die pes wat tannie Petro so probeer vermy. Virologie is deesdae oom Sarel se nuwe stokperdjie.

Sy kennis van die nuwe koronavirus is ongeëwenaard op al sy Facebook-blaaie.

“Ek doen my navorsing. Nie nét op Facebook nie. Die goeie goed is alles na YouTube verban. Jy maak jouself net siek as jy ’n masker dra. Die hele land het die Kool-Aid gedrink.”

Tannie Petro later, waar sy handewringend wag op ’n boodskap van ’n dokter. So ’n jongetjie met oumensoë en donker ringe daaronder.

“Sak ou Sarel,” prewel sy amper biddend as haar selfoon eensklaps biep, skielik te bang om die boodskap te lees.

“Sak Sarel,” fluister tannie Petro.

Hul kusvakansie het oom Sarel al ’n jaar gelede bespreek. Toe die Voortrekkerhoogte-son, histories ontsmettend, die 16 Desember-senotaaf beskyn, petrolvoet oom Sarel dit al verby Graaff-Reinet.

“Hartenbos se see sal goed wees vir ons. Mens kry nie die ding in die gesonde soutwater nie. Die dokters en die politicians is kop in een masker.”

Tannie Petro het net een keer, iewers tussen Willowmore en Uniondale, sonder veel entoesiasme “sak Sarel” gesê.

“Hierdie ou griepie keer ek maklik met Ivermectin en as hy deurglip, verdubbel ek net die dosis,” het oom Sarel naby George voortborduur.

“Sak Sarel,” het sy ’n laaste keer geantwoord.

In Hartenbos het die eerste kuggie skaars ’n week ná hulle aankoms gedief-in-die-nag.

Niemand weet of dit by ’n vulstasie, ’n supermark of die vriendelike maskerlose eienaar van die seewoonstel was nie, maar oom Sarel het die “ou griepie” gekry.

Toe sy longe, ten spyte van berge ivermektien, eindelik vleis word, het hy sy trots gesluk en asem by ’n inrigting gaan soek.

Die eerste twee hospitale het hulle weens ’n gebrek aan beddens weggewys, maar in Caledon is oom Sarel uiteindelik opgeneem.

Nou staan tannie Petro hier. Dis nog ’n week later, terug in Pretoria. Die ander 49 toegelate geliefdes wasig deur haar Sarel-trane.

Sy sien weer die dokter se boodskap en sekondes later haar selfoon, in stadige aksie – tollend na die teëls.

Die selfoonskerm, ’n spieël wat tussen haar en oom Sarel breek.

Nou snak tannie Petro na haar asem as ’n hidrouliese stelsel skielik inskop. As kabels oor blink hout en somber fluweel span, en die kis stadig maar seker afwaarts begin beweeg.

Nou sak oom Sarel.

*Oom Sarel en tannie Petro is fiktief.

Meer oor:  Hendrik Hancke  |  Draadwerk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.