Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hendrina wag vir my by Springfontein

Ons het by Springfonteinstasie van die trein geklim. Jy en ’n klompie burgers het jul geliefdes by die konsentrasiekamp kom haal. As ongetroude het ek buite gewag.

Die oorlog was verby. Dit was vrede. Ons het oor die water gekom, huis toe.

Ek was jou geselskap op St. Helena. Ek herinner my jou gesprekke oor hoe jy vir Hendrina mis. Maar ná die oorlog sal julle opmaak daarvoor.

Almaardeur het jy my opgesoek waar ek sit en lees. “Jannie, wanneer kom die vrede?” of “Jannie, wanneer gaan ons huis toe?”, was jou voortdurende versugtinge.

Prof. Fransjohan Pretorius

Jy het ’n vierkantige fotoraam uit hout gekerf en jou kosbaarste besitting – jul troufoto van ’n maand voor die oorlog – daarin gesit as jou tuiskomsgeskenk vir haar, die raam met sy rose en hartjies liefdevol daarop uitgekerf. Daarmee het jy die trofee gewen vir die beste inskrywing op die Engelse goewerneur se tentoonstelling van Boerekrygsgevangenekuns.

Ek onthou so goed. Toe ons Longwood besoek waar Napo­leon sy laaste jare moes slyt, het jy opgemerk hoeveel lyding hy nie alleen voor sy afsterwe moes deurgemaak het nie.

Springfonteinkamp. Sommige burgers het uitgekom, vrou aan die hand, kinders wat agter hulle aan troep. Ander het met bedremmelde gesigte te voorskyn gekom, met net een of twee kinders wat agterna drentel.

Na ’n lang ruk het jy deur die hek gekom, jou gesig in skadu, nie die beleefde groet van ’n Engelse wag gehoor nie. Jy het met ’n smous onderhandel. Ek kon sien jy leen by hom ’n ryperd.

Jy het by my verbygejaag sonder om links of regs te kyk. Jou ruie baard het gewapper in die wind, jou stukkende baadjieflappe in flarde na agter.

Vinnig het ek ook ’n ryperd bekom. Toe moes ek jaag om by te hou. Gelukkig het jy nie omgekyk nie. Maar ek dink nie jy sou my gesien het nie.

Oor die verskroeide aarde het jy ’n entjie voor my gegalop, dan ’n drafstap, om weer te galop. Nie ’n doringdraad of lewende dier of ongeskonde woning in sig nie. Alles gestroop en verwoes. In ’n klipkraal het honderde verbrande skaapkarkasse gelê.

Toe jy op die hoogtetjie bokant jou opstal kom, het jy die hings ingetrek. En gekyk. Maar daar was niks om te sien nie.

Stadig het jy afgedaal na die bouvalle van ’n eens trotse woning. Daar was geen dak nie. Geen vensterrame nie. Geen voordeur nie. Die witgekalkte huis met sy vensterlose gate weerskante van ’n leë voordeur en die stoeptrap met sy gebreekte blompotte het soos ’n grimmige skedel gelyk.

Jy het stadig van die perd afgeklim, en na die oorblyfsels van ’n peperboom gestap. Die veld was kaal, wit, daar was niks. Die lug was blou. Hoog bo het ’n enkele voël stadig op die lugstrome gedraai.

Onder die boom het jy jou hoed afgehaal en dit teen jou bors vasgeklem. Ek het gekyk en ’n graf in die gras gesien. Toe ruk jou skouers.

  • Pretorius is emeritus professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria.
Meer oor:  Fransjohan Pretorius  |  Geskiedenis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.