Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Hennie van Deventer: Stééds passievol oor koerante

Hennie van Deventer met sy “nuwe baba” in sy omvangryke reeks boeke, Koerant. Die omslagfoto van die boek in Bloemfontein geneem die oggend toe die laaste gedrukte Volksblad verskyn het, op die motoroprit van Andrew Murray, ’n ou vriend van Van Deventer.
Hennie van Deventer, oud-Volksblad-redakteur en veteraan-koerantman, word in Januarie 80. Ter viering het hy nog ’n selfpublikasie, met die naam Koerant, uitgegee. Sarel Venter het aan hom vrae gestel.

Aan die vooraand van sy 80ste verjaardag het nog ’n boek van Hennie van Deventer die lig gesien. Sy 20ste in byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof van koerante van Naspers, nadat hy onder meer 12 jaar redakteur van Die Volksblad was.

Hy het oor ’n verskeidenheid temas geskryf: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere en reiservarings.

Sy koerantverbintenis is vir hom onuitwisbaar. Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ’n gedenkboek, Koerant.

Dit is ’n selfpublikasie met voorlopig ’n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.

In dié boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – sy einde as gedrukte koerant – nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die kapstok vir die boek. Die rou is ’n vlammetjie wat ’n groter vuur aansteek.

In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

Hoekom woel jy nog so op 80?

Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee. Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar.

Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke. Wat anders? Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself. Ek pak nie veel ander dinge aan nie.

My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ’n uitlaatklep. Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saam gesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer . . .

’n Fokus in hierdie boek?

My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette. Ook onvergeetlike karakters agter die skerms. En hope humor. Sonder ’n sin vir humor sal ’n koerantmens moeilik oorleef.

Geliefkoosde nuusonderwerpe?

Alles wat nuus is. Versot op politiek, op sport (buiten skopboks), op menslike stories (human interest) en op elke ander nuusonderwerp.

Jou hebbelikhede?

Ander moet liewer oordeel. Ekself is bewus van ’n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ’n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.

Jou voorliefdes?

Ek het drie groot passies: koerant, die bos en reis (veral vaar). Ek borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van my boeke het koerantonderwerpe.

Die bos? Ek is gek na Sabiepark, waar ek ’n boshuis net langs die Krugerwildtuin het. Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember/Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. My nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.

Reis? ’n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd. In my Nieman-jaar by Harvard het ons Amerika platgery.

In die laaste jare het ek verslaaf geraak aan vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary II na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in sy boek Na verre hawens. Jare gelede het hy ook ’n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles.)

Ek het ’n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie, sokkie, frokkie”).

Tien jaar lank het ek vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ensovoorts. Ek en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Jou afkeure?

Ek haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ’n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis” uit hul duime suig. Moet ook nie dink ek sal afval eet en simpel TV-sepies en -storietjies kyk nie.

Hoogtepunte in jou lewe?

Die redakteurskap van Die Volksblad op 39 in 1980. Dit het ’n ambisie verwesenlik wat ek van my eerste dag by die koerant gehad het.

  • Nieman Fellowship aan Harvard 1976-’77 – ’n plek wat drup van tradisie en karakter.
  • Phil Weber-prys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
  • My bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek The Lost Boys of Bird Island met agt kritiese briewe in koerante.
  • Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Felllowship), die eerste aan ’n Afrikaanse mediamens, in 1998.

Teleurstellings?

Die keldering van Volksblad as gedrukte koerant. In Koerant wei ek uit op die tema. En die besluit om Volksblad se Kunsmark nek-om te draai.

Vrugbare lewe en loopbaan

Ten slotte ’n paar dinge waarvan hy die vader is: Die Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies, die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (wat vanjaar toegeken is aan joernaliste wat oor Covid-19 geskryf het), die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd.

Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer só gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe. He is recognised for his wisdom, his diplomacy and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”

  • Sarel Venter was ’n hoofredaksielid van Die Volksblad tydens Van Deventer se redakteurstermyn.
Meer oor:  Hennie Van Deventer  |  Koerant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.