Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Henry Jeffreys: As die nuus net te goed klink

Daar is ’n nuwe bedreiging vir mediavryheid – en dit is nie die regering of politici met ondemokratiese instinkte nie. Dit is die verskynsel wat fopnuus genoem word.

In sy stryd teen mediaorganisasies soos die TV-nuusnetwerk CNN en hoofstroomkoerante soos The Washington Post en The New York Timesetiketteer pres. Donald Trump hulle byvoorbeeld as karweiers van fopnuus.

Die ironie van fopnuus is dat dit glad nie nuus is nie. Dit is gemanipuleerde inligting wat om allerlei duistere redes as joernalistiek gekamoefleer en gepropageer word.

In ’n belangrike politieke jaar soos hierdie in Suid-Afrika is daar meer as genoeg ruimte vir fopnuus om te floreer. Enige van die kandidate betrokke by die ANC se opvolgstryd kan bewustelik of onbewustelik daarby betrek word.

Die media word nie meer oorheers deur gedrukte produkte nie, en koerante is lank nie meer die oorheersende bron van hoe mense inligting bekom nie. Die tegnologiese ontploffing in die laaste klompie jare het aanleiding gegee tot ’n situasie waar enige mens met ’n digitale toestel sy of haar eie joernalis of redakteur kan wees.

Tegnologie is aanvanklik met groot opwinding en verwagtinge begroet, en die spoed waarteen die tegnologiesgedrewe media gevestig geraak het, het die meeste kenners en mediapraktisyns onkant betrap.

Dit het egter vinnig in ’n bedreiging vir die gedrukte media ontaard. Nou word allerweë aanvaar dat ons op ’n tydstip is waar gesê word: “In met die nuwe, uit met die oue.”

Wat min mense egter voorsien het, is dat dié tegnologie vir duistere doeleindes aangewend sou word.

Dit is veral in die politiek die geval, maar toenemend is daar tekens dat fop­nuus ook gebruik word vir persoonlike aanvalle om mense te belaster of swart te smeer.

Nog ’n ironie van fopnuus is dat dit so goed gedoen word dat gevestigde nuusorganisasies dit opvolg en sodoende geloofwaardigheid daaraan verleen.

Die probleem met fopnuus is dat dit die publiek met voorbedagte rade mislei.

Dit is dus nodig vir redakteurs en joernaliste en die mense in die enjinkamers van koerante en tydskrifte om ekstra waaksaam en op die uitkyk vir fop­nuus te wees.

Die probleem met fopnuus is dat dit die publiek met voorbedagte rade mislei. Dink maar net wat die impak van fopnuus op kiesers in verkiesings sal kan hê. CNN het byvoorbeeld Maandag berig oor fopnuus in Kenia wat daarop gemik was om vandeesweek se plofbare verkiesings in dié land onregmatig te beïnvloed.

Die publiek moet dus bedag wees op alles wat hulle tussen nou en Desember van die kandidate in die ANC se opvolgstryd hoor.

Daar is ook ’n saak uit te maak vir publikasies om gebruik te maak van toegewyde personeel om die feitelikheid van berigte na te gaan, ’n klassieke kenmerk van goeie joernalistiek.

Behoorlike verifikasie of “fact ­checking” is ’n algemene gebruik by Amerikaanse en Britse publikasies, maar dit is nie so sterk in Suid-Afrikaanse redaksies nie. Bekostigbaarheid is ’n groot faktor hier.

Dít is ’n geveg wat redakteurs in die raadsaal moet veg. Daar is ’n behoefte om innoverend te dink oor hoe om die vernietigende verskynsel van fopnuus uit redaksiekantore en publikasies te hou. En die boontjietellers sal eenvoudig moet luister.

Intussen is daar stappe wat gewone mense kan doen om fopnuus te troef. Een manier is om die inligting wat ons via sosiale media ontvang met oordeelkundigheid te deel.

Wees veral op die uitkyk vir sappige stories wat net te goed klink om waar te wees. In alle waarskynlikheid is dit.

Meer oor:  Donald Trump  |  Nuus  |  Fopnuus  |  Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.