Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Henry Jeffreys: Dis tyd om die kinders te hóór

In Suid-Afrika is dit deel van die politieke kultuur en tradisie dat die land se jeug kwessies waaroor volwassenes swyg, oopvlek en aan die groot klok hang.

In 1976 was dit die afdwing van Afrikaans as onderrigtaal in swart skole wat tot die Soweto-onluste aanleiding gegee het. Dié epog word deur baie beskou as die een wat die begin van die einde van apartheid ingelui het.

Verlede jaar het studente op kampusse oral in die land figure uit die koloniale en apartheidsera op die nasionale agenda geplaas. Die uiteinde was die #RhodesMustFall-veldtog. Jong Suid-Afrikaners het dit duidelik gestel hulle is sat daarvan om geïgnoreer te word oor kwessies wat volwassenes as van mindere belang ag.

Die #RhodesMustFall-veldtog is gou opgevolg deur die #FeesMustFall-veldtog, ’n landwye protes wat studiegelde aan universiteite dramaties gaan verander. In hierdie stadium het die studente meer punte aangeteken en sit die regering duidelik met sy hande in die hare oor hoe om blywende oplossings vir hoë studiegelde te vind.

Die jongste voorval waar jeugdiges hul stem dik gemaak het oor ’n kwessie wat op die oog af nie na ’n nasionale brandpunt gelyk het nie, maar tog in een ontwikkel het, is die sogenaamde hare-sage. Dié veldtog handel oor wat kinders met hul hare mag of nie mag doen nie en hoe by skole teen meestal swart leerders gediskrimineer word.

Dit het aanvanklik na ’n onbenullige kwessie gelyk, maar gou ontaard in wedersydse beskuldigings van rassisme en die stand van transformasie in skole.

Wie se waardes moet geld in veral ou model C-skole? Dié van die destydse wit skolegemeenskappe of dié van deesdae se swart meerderhede in die skole? In baie gevalle is die skoolowerhede nog oorwegend wit, al is die leerders oorwegend swart.

Soos in 1976 is ek oortuig dat die studente agter die #RhodesMustFall- en die #FeesMustFall-veldtog nie heeltemal besef wat dit was wat hulle op die land losgelaat het nie. Die punt is: Suid-Afrika sal na dié veldtogte nie weer dieselfde wees nie. Uit al hierdie protesveldtogte blyk een ding duidelik te wees: Die land se volwasse elites sê graag hulle luister na die jeug, maar duidelik hóór hulle eintlik niks nie.

Ons het ’n Nasionale Jeugagentskap, wat berug is vir die roekelose besteding van belastingbetalers se geld op niksseggende en duur projekte, maar klaaglik misluk om die situasie van die jeug te verbeter.

Dit is egter nie net die regering en politieke groepe wat sê hulle luister na die jeug nie. Waar was die ouers in die geval van die hare-sage? Te besig om hulle oor ’n mik te werk om in hul kinders se ander behoeftes te voorsien? Of dalk selfs werkloos en sukkelend om die pot tuis aan die kook te hou?

Hoe ook al, ons moet klaarblyklik beter doen om ons kinders te hóór. Ons is lankal verby die era van “kinders moet gesien word, maar liefs nie gehoor word nie”.

Die ANC-jeugliga is ten gunste daarvan dat die regerende party sy nasionale konferensie wat vir volgende jaar beplan word, moet vervroeg. Die party se vroueliga het reeds te kenne gegee dat hy nie ten gunste daarvan is nie. Die jeugliga meen dat die probleme binne die party, waaronder die leierskap van pres. Jacob Zuma, vroeër eerder as later bespreek moet word.

Die dwingende behoefte om oor die toekomstige leierskap van die party te besin, kan nie betwyfel word nie. Dalk moet die volwasse elites van die ANC hierdie keer luister na wat uit die mond van hul “suigelinge” kom.

  • Henry Jeffreys is ’n onafhanklike kommentator. Hy kan by @bokj op Twitter gevolg word.

Meer oor:  Kinders  |  Kultuur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.