Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herbekyk nou die kiesstelsel

Een van pres. Cyril Ramaphosa se beloftes onder sy visie van ’n nuwe daeraad is ’n regering wat meer verantwoordbaar aan die mense van Suid-Afrika is.

In die kap en steek van die ANC se interne vergeldingsoorlog wat sedert Ramaphosa se aanstelling geëskaleer het, het dié belofte tot dusver maar min aandag gekry.

Maar met die toename in openbare geweldpleging (of dit nou is weens xenofobie of verset teen hopelose dienslewering) word die dringendheid van die saak opnuut beklemtoon.

Dawie

As werklik erns gemaak gaan word om te sorg dat die regering in die eerste plek verantwoordbaar is aan die mense van Suid-Afrika, en nie aan Luthuli-huis nie, gaan die funksionering van die parlement grondliggend versterk moet word. Dit is immers een van die grondwetlike steunpilare vir toesig oor die uitvoerende gesag.

Dié parlement funksioneer egter lank­al nie na wense nie weens ’n proses van stelselmatige aftakeling wat sedert die laat negentigs ingetree het. Ter sprake was ’n stelselmatige wegkwyn van intellektuele kapasiteit (veral in die regerende party), ’n afskaling van vraetyd en die bereidwilligheid van veral Baleka Mbete om vir presidente en ministers skuilplek agter die speaker se rokspante te bied. Dan is daar ook die gebrekkige administratiewe en navorsingskapasiteit vir parlementêre portefeuljekomitees.

Maar benewens hierdie faktore, raak die herbesoek van die proporsionele kiesstelsel van kritieke belang as daar enige hoop is om die regering aan die mense van Suid-Afrika verantwoordbaar te hou.

Die proporsionele kiesstelsel beteken dat LP’s in die eerste plek aan hul party moet verantwoording doen, en nie aan ’n kiesafdeling nie. Die gevolg is dat die partybase se woord wet is, selfs al verskil individuele LP’s met die koers wat hul party inslaan. En dís terloops hoekom Jacob Zuma soveel mosies van wantroue oorleef het.

Meer as 15 jaar gelede het ’n meerderheidsverslag van die verkiesingstaakspan onder leiding van wyle dr. Frederik van Zyl Slabbert aanbeveel dat die kiesstelsel verander word.

Die taakspan se voorstel het onder meer behels dat LP’s nie net proporsioneel vanaf partylyste verkies word nie, maar dat voorsiening gemaak word vir ’n bykomende kiesafdelingselement waar kandidate uit spesifieke wyke verkiesbaar is.

’n Kiesafdelingselement word beskou as een van die maatreëls wat kan sorg dat LP’s nouer kontak hou met hul kieserskorps. Waarop dit neerkom, is dat ’n LP die belange en wense van die mense in sy of haar kiesafdeling op die hart moet dra eerder as om ’n dienskneg van die party sy hoofsweep te wees.

Só ’n element moes luidens die voorstel behels dat 300 LP’s uit kiesafdelings verkies word, en ’n verdere 100 LP’s vanaf proporsionele partylyste. Hande is gewring, debatte is gevoer, maar vandag lê Van Zyl Slabbert se verslag steeds en stof vergader, in hoofsaak oor die ANC se drang om Luthuli-huis bo die belange van die mense van Suid-Afrika te stel.

Maar dit is nie net die ANC wat ter sprake is nie. Navorsing wys dat Suid-Afrikaners se ontnugtering met die politiek op ’n hoogtepunt is.

Dít het vanjaar gewys in die laagste stempersentasie sedert die koms van demokrasie in Suid-Afrika.

Nasionale politiek sonder diep, plaaslike wortels ontmoedig politieke deel­name omdat kiesers ontmagtig voel as hulle nie politieke verteenwoordigers het wat hulle in die oë kan kyk nie.

Stof dus die Slabbert-verslag af, en laat ons nou begin bou aan ware inklusiwiteit.

Meer oor:  Dawie  |  Uit My Politieke Pen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.