Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herbekyk van Kieswet welkom

Die vernuwende krag van die Grondwet is vandeesweek nogmaals onderstreep.

dawie, rubriek
dawie, rubriek

Ter sprake is die historiese uitspraak van die konstitusionele hof waarluidens die Kieswet gewysig moet word sodat onafhanklike kandidate in algemene verkiesings mag staan.

Die werk wat onder meer deur die New Nation Movement gedoen is om die aansoek te bring, wys weer dat die Grondwet se krag nie in ’n lugleegte bestaan nie, maar vloei uit die mate waartoe landsburgers hulle beroep op die beginsels en regte wat daarin vervat is.

Die hof het die parlement nou 24 maande gegee om die Kieswet te herskryf, en dit maak die deur nou oop om minstens ’n kiesafdelingselement in die kiesstelsel in te voer. In verskeie opsigte is dit hoog tyd dat dit gebeur.

Eerstens is dit jammer dat die voorstelle wat die taakspan onder wyle dr. Frederik Van Zyl Slabbert in 2003 gemaak het deur die ANC-regering in die kiem gesmoor is.

Die Slabbert-taakspan het in 2003 reeds ’n kombinasie van proporsionele verteenwoordiging en ’n kiesafdelingstelsel voorgestel. Dít sou groter klem op die verantwoordbaarheid van verkose verteenwoordigers aan die kieserspubliek laat val. Onder die suiwer proporsionele stelsel is verkose verteenwoordigers geneig om die partybase na te praat, omdat hulle kan bepaal of jy terugkeer parlement toe of nie.

Dít is goed geïllustreer met die wapenskandaal toe verantwoordbaarheid tweede viool gespeel het en lojaliteit teenoor die party die sweep geklap het. ANC-LP’s wat wel hul stemme verhef het, is blitsig deur die party uitgewerk.

Onder die suiwer proporsionele stelsel is verkose verteenwoordigers geneig om die partybase na te praat.

Sedertdien is daar talle soortgelyke voorbeelde waar die ANC diegene met ’n gewete wat wou opstaan vir die belange van die kiesers, eenvoudig geboelie het. Dink aan die skreiende wyse waarop oudpres. Jacob Zuma se Nkan­dla-skandaal onder die mat ingevee is.

Benewens die Slabbert-taakspan se aanbevelings het ’n onafhanklike komitee bestaande uit voormalige LP’s, akademici en kenners tot soortgelyke gevolgtrekkings gekom. In 2009 het dié komitee, onder die voorsitterskap van die gerespekteerde oud-ANC-LP dr. Pregs Govender, in ’n parlementêre oorsigverslag aanbeveel dat die kiesstelsel hersien word om vir ’n kiesafdelingselement voorsiening te maak.

Daarvan het dadels gekom, net soos met die aanbevelings van die paneel onder oudpres. Kgalema Motlanthe wat in 2017 gevra het vir die versterking van verantwoordbaarheid, onder meer deur die hersiening van die kiesstelsel.

Die tyd vir die hersiening van die kiesstelsel is oorryp, maar die saak moet wel nou omsigtig benader word.

Waak eerstens teen die wanopvatting dat ’n kiesafdelingselement ’n kitskuur vir politieke verantwoordbaarheid is.

Laasgenoemde is ook gesetel in die energieke leierskap van die voorsittende beamptes om die parlement ten beste te gebruik om die regering verantwoordbaar te hou. Wat dít betref was Baleka Mbete in die speakerstoel – en haar gebrekkige respek vir die parlement se oorsigrol – ’n voorbeeld van hoe om dit nie te doen nie.

Tweedens is dit wis en seker dat die ANC, veral te midde van sy groeiende vrees dat hy ontsetel kan word, sal poog om die proses waardeur kiesafdelings afgebaken word, tot eie voordeel te manipuleer. Waak dus jaloers oor die skryf van ’n nuwe Kieswet en die prosesse waarvoor dit voorsiening maak.

Laastens sorg ’n kiesafdelingselement ook nie outomaties vir verhoogde interaksie tussen die kiesafdeling en die verkose verteenwoordiger nie. Dit vra ook dat die kiesers deurlopend en aktief hul verkose verteenwoordiger roep om verantwoording te doen. Binne ’n kultuur van politieke apatie kan verantwoordbaarheid ook nie gedy nie.

Meer oor:  Dawie  |  Grondwet  |  Meningsberig
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.