Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herbou nou ook die parlement

Wanneer gaan Suid-Afrikaners die parlement kry wat hulle verdien?

Groot gewag word gemaak van pres. Cyril Ramaphosa se taak om staats­kapasiteit ná die verwoestende sloopwerk van Nommer Een te herbou.

Dít is reg en nodig, maar dit val Dawie op dat te min aandag gegee word aan een van die sleutelinstellings van ons demokrasie wat oor meer as ’n dekade in puin gelê is – die parlement.

Verlede week was dit weer duidelik toe die EFF parlementêre reëls misbruik het om die staatsrede te ontwrig.

Op dié punt moet Dawie die speaker Thandi Modise eers ter ere na gee dat sy deur haar persoonlike en politieke gravitas uiteindelik daarin geslaag het om gebeure te laat vlot sonder die gebruik van geweld.

Tog was dit duidelik dat nóg Modise nóg haar adjunkspeaker parlementêre reëls na behore onder die knie het. Baie van die punte wat die EFF uiteindelik gestuit het, het van LP’s gekom.

Hierbenewens sal die parlement moet begin dink aan watter maatreëls gebruik kan word teen LP’s wat ’n bevinding van die speaker verontagsaam, soos wat Malema en kie verlede week gedoen het. Strawwe boetes dalk?

Want sonder ’n goed funksionerende parlement is die kans skraal dat jy ’n goed funksionerende regering sal hê.

Die parlement is immers die waghond wat moet sorg dat die regering sy werk na behore doen.

Die parlement is die verteenwoordiger van die kiesers – die vrug van my en jou moeite om elke vyf jaar ons kruisies te gaan trek – en as Malema soos ’n stout kind sake ontwrig, dwarsboom hy die wil van die meerderheid kiesers.

Maar die probleem lê wyer as die EFF. Jy moet versigtig wees om te veralgemeen, want daar is baie lede van die parlement wat hard werk om die belange van kiesers te verteenwoordig.

Maar Dawie wil hom tog verstout om te sê dat die meeste LP’s in die parlement nie weet wat hul taak is nie, óf die taak nie ernstig genoeg opneem nie.

Dis te sien in die “groot goed” soos wanneer LP’s volledig onvoorbereid na portefeuljekomitees kom en geen be­tekenisvolle inset in die wetgewende of oorsigrol van die komitee kan gee nie.

En dis te sien in die kleiner besonderhede. Neem byvoorbeeld die gevalle waar LP’s in die agterbanke sit en gesels en lag wanneer die president, ministers en LP’s aan die woord is. Dié soort verskynsel is geensins verrassend nie, want die ANC het oor sowat twee dekades die toesighoudende rol van die parlement doelbewus verswak.

En ofskoon dié proses nie onder Jacob Zuma begin het nie, het dit bepaald onder hom ’n laagtepunt bereik toe die konstitusionele hof op 31 Maart 2016 bevind het dat sowel Zuma as die parlement hul grondwetlike plig versaak het in die hantering van die openbare beskermer se Nkandla-verslag.

Die rol van Baleka Mbete in die af­takeling van die parlement was ook enorm, want dit was sy wat telkens haar rokspante wyd moes span sodat Zuma, sy vroue en sewe Nkandlas daaragter kon skuil wanneer hy met vrae van die opposisie getakel is. En dit was sy wat die gewelddadige withemde op die rooi oorpakke losgelaat het.

Daar is ligpunte wat wys dat die toesigrol van die parlement wel herbou kan word. Neem byvoorbeeld Pravin Gordhan se genadelose ondervraging van Eskom-amptenare. Dit moet egter nou uitgebou word tot die norm eerder as die uitsondering.

En belangrik – want dít gaan die groot toets wees – sal LP’s ewe ywerig wees om Ramaphosa as president verantwoordbaar te hou as wat hulle nou is om die apparatsjiks van Zuma, ’n nou voormalige president, verantwoordbaar te hou?

Dawie hou styf duim vas.

Meer oor:  Dawie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.