Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herfsbrief aan hartsvriendinne voor verkiesing
Annemarie van der Walt
Annemarie van der Walt

Allervriendin, ek verlang na jou geselskap. Die bottel wyn is byna leeg. Ek’t die ding uitgesmokkel by die verjaardagviering waar ek steeds veronderstel is om te wees.

Die dogters sou sê: “Ma, dis regtig lame om ’n bottel wyn ín te smokkel, nêwwermaaind úit.”

Maar hulle is nie hier nie. Die huis is tjoepstil behalwe vir Margot Luyt se voordraende stem oor RSG. Ek het lanklaas op ’n Dinsdagaand na dié program geluister. Al weer vergeet dit is so goed om gedigte te hóór pleks van slegs te lees.

“Uit hierdie ligte en wye herfstyd straal / ’n nuwe, namelose vreug in my / dat ek verwilderd deur ’n wêreld dwaal . . .” Ja, en daar is die ewige N.P. van Wyk Louw toe ook weer.

Net toe ek daarvan herstel, is daar ’n voorlesing van twee van Chris Barnard se kortverhale in die daaropvolgende program Kortom, een daarvan “Om te bad as dit reën”: “Terwyl die water nog om die huis se hoeke stroom, skyn die Laeveldse son al weer.” Vanmiddag, en Vrydag-verby, was presies so hier in die Laeveld.

Vertroue. Hoe het ons nie vir die kinders, joune en myne, daaroor gepreek nie?

Van die paaie was ’n klein rivier, sowaar. As ’n mens dit in die fratsvloed by Riverside sou waag om so slap links te kyk wanneer jy die verkeersirkel vat noorde toe voor Makro in Nelspruit, dan sien jy nog die knoetsie bome van Boschrand, waar Chris-storieskrywer grootgeword het. Dit maak my weemoedig dat daar nou klingelende kasregisters is waar sy pa eens vrugteboorde geplant het.

Vooruitgang. En die belewing van daardie verwilderde ironiese huwelik van tradisie en tegnologie, van wat-was-en-word, wanneer die jongste uit Kaapstad ’n WhatsApp-kiekie stuur van ’n bak vol deeg: “Is Ma se resep reg? Gaan hierdie slapspul regtig malvapoeding word?!”

Vertroue. Hoe het ons nie vir die kinders, joune en myne, daaroor gepreek nie? In al sy vorme en gedaantes, en nou sit ons met ’n bek vol tande voor die verkiesing. Wel ék sit, want allervriendin is in Zimbabwe, Kanada, Namibië, Nieu-Seeland, Duitsland, Engeland en Australië.

Ek wens so jy het ’n adres gaan soek in Suid-Amerika.

Ek wens so jy het ’n adres gaan soek in Suid-Amerika. Daar is die delicious monster-plante inheems en wild in die oerwoud, anders as hier waar dit by uitstek in voorstedelike tuine floreer. Veral wanneer ’n mens dit die minste verwag, in die diepste nanag wanneer die beams weens Eskom of iets nie werk nie.

Die partytjie vanaand, byvoorbeeld, het nie gewerk nie. Almal praat verkiesing en staatskaping en Steinhoff en toe wonder ek maar wat sal ek ooit kan oorvertel aan jou, elkeen, daar ver?

Dit het pas weer begin reën en donder. Liewers maar die modem afskakel.

NS: Oudste het ’n verlenging nodig van haar visum. Is jy bereid om ’n adres te wees? Ek vra maar net.

NNS: Onthou jy ooit nog hierdie land se mooiste verwilderde herfs, waar jy wil bad as dit reën, en waar alles so ongelooflik monsteragtig mooi kan wees?

Van der Walt is ’n oudredaksielid van Beeld en vryskutskrywer van Kaapsche Hoop.

Meer oor:  Annemarie Van Der Walt  |  Dogters  |  Ontnugtering  |  Verkiesing  |  Herfsbrief  |  Trek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.