Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herinneringe aan ’n somervakansie

Vakansies sal waarskynlik vir nog baie lank vreemd en anders wees as waaraan ons gewoond was. Murray La Vita deel sy herinneringe aan ’n vakansie uit ’n era voor die pandemie.

“Die volgende middag sit ek op die stoep van ’n ou huis langs die Langebaan-lagune by Churchhaven.” Foto: Murray La Vita

Daardie somervakansie het begin op die Vrydagoggend toe ek twee vroue sien rokke aanpas het. Dit was in die hoek van ’n restaurant aan die soom van ’n park waar kinders gewoonlik speel.

Die vroue wat na dié intieme klein rokverkoping gekom het, het mekaar klaarblyklik geken, want hulle het gelag en gesels terwyl hulle een geblomde linne-uitrusting ná die ander van die reling afhaal, teen hul lywe hou en in die lang spieël kyk. Hulle het ook uit die hoek van hul oë, en nie sonder deernis nie, vir mekaar gekyk.

Nou en dan het een van die twee vroue, ek skat hulle in hul laat veertigs, na die restaurant se toilet gegaan om ’n rok te gaan aanpas.

’n Derde, jonger vrou, was die een wat die rokke gemaak het en nou besig was om dit hier te verkoop. By ’n tafel ’n ent van haar af het haar man (skraal en met lang swart hare) rustig gesit en eet. Langs hom, in ’n stootwaentjie, het hul seun sit en slaap.

Wanneer die man opstaan, is die aantreklike snit van sy roesbruin linnebroek sigbaar. Die groot sakke op die sitvlak is in rooi garing aan die broek geheg.

’n Tienermeisie lê teen ’n graswal.

Voordat die man die ruim restaurant met die groot vensters verlaat waardeur lig die vertrek instraal en ’n uitsig op die stad en Tafelbaai gebied word, draai hy om en mik met ’n klein kamera na die vroue. Dan leuen hy effens vooroor en neem twee of drie foto’s van sy seun, Kabir, wie se groen oë intussen oopgegaan het.

Die seun kyk na sy pa. Sy handjies (aan elke pols is ’n string swart-en-wit krale) lê teen die bors van sy swart T-hemp en verberg deels die AC/DC-embleem daarop.

Haar bene is bruingebrand

Ek verlaat die restaurant en stap verby ’n hoërskool. Dit is die laaste dag van die skooljaar. ’n Tienermeisie lê teen ’n graswal. Haar bene is bruingebrand en glad. Sy lag en neem met haar selfoon foto’s van die groot wit wolke wat van Tafelberg aftuimel.

Die volgende middag sit ek op die stoep van ’n ou huis langs die Langebaan-lagune by Churchhaven. ’n Vrou, ’n kunstenaar met kort blonde hare en ligblou oë waaruit wantroue straal, het begin praat oor kuns.

Sy is besonder skrander en druk haarself goed uit. Mettertyd vertel sy in welke mate haar ma haar lewe verwoes het. Sy beskryf die vrou – wat nog leef, maar hoogs bejaard is en in ’n tehuis versorg word – as iemand wie se beheersugtigheid haas patologiese afmetings aangeneem het.

Sy het lank langs haar pa se liggaam gesit en gevoel hoe hy koud word.

Nie net sy en haar suster nie, maar ook haar pa, het onder die vrou deurgeloop. Toe haar pa, ’n saggeaarde ingenieur vir wie sy en haar suster baie lief was, op sy sterfbed lê, het hul ma hulle letterlik in die hospitaalgang afgemarsjeer (links! regs! links! regs! het sy geskreeu) tot by die kamer waar hy besig was om te sterf.

Sy het lank langs haar pa se liggaam gesit en gevoel hoe hy koud word. En verkleur. Sy velkleur het na Napels-geel verander. Dít is die kleur van die kadawer in Rembrandt se skildery “Die Anatomieles van Dr. Tulp”, sê sy.

Die kunstenaar kyk uit oor die lagune wat akwamaryn en turkoois is en wys na die heuwels aan die oorkantste oewer. Dáár tussen die groene, die swart en die grys, is stukkies landskap wat amper Napels-geel is.

“Die kunstenaar kyk uit oor die lagune wat akwamaryn en turkoois is en wys na die heuwels aan die oorkantste oewer.” Foto: Murray La Vita

Haar pa het ’n waspop geword. Sy hande . . . Sy bly stil en kyk af na haar eie klein handjies waarvan die naels tot in die lewe afgekou is. Sy het sy hande goed geken omdat sy hom as kind dikwels gehelp het wanneer hy houtwerk doen, sê sy.

Maar daardie dag in die hospitaal het haar pa se hande voor haar oë verander. Hulle het vreemd geword soos wat die lewe hulle verlaat het. Hulle was nie meer sý hande nie.

Stemme buite die badkamer

Die aand toe die koelte begin neerdaal ná ’n warm somerdag waartydens die son skerp geskyn het op pofadders tussen klippe, ’n skilpad wat oor ’n teerpad loop, en op meisies met groot laphoede op hul kop wat op die strand speel, hoor ek buite die badkamervenster stemme.

“Hierdie is die boegspriet; hy kom só op,” sê ’n man. ’n Ouer man mompel iets wat onhoorbaar is waarop die ander man (sy seun?) sê: “Dis swaar; ek kan nie alleen . . .” Ook die laaste deel van sý sin is onhoorbaar.

Murray La Vita

Groot gekleurde pluime

Die volgende dag het ek na die stad teruggekeer. Dit was die laaste dag van die jaar. Daardie Oujaarsaand het ek by ’n vriendin gaan eet. Vanaf die balkon van haar woonstel kon ons die stad (wat ook bekend staan as die Moederstad) en ’n deel van Tafelbaai sien. Toe dit twaalfuur word, het vuurwerk teen die naghemel verskyn. Veral sierlik was die groot gekleurde pluime wat met tussenposes van ’n paar sekondes bo die Waterfront die lug ingeskiet het.

My vriendin het na die oorkant van die baai gewys waar skepe rooi fakkels die lug ingestuur het. Ons kon ook die skeepshorings hoor opklink toe die nuwe jaar oor die see aanbreek.

Ons het na Pink Floyd se “Time” geluister.

And you run and you run to catch up with the sun but it’s sinking

Racing around to come up behind you again

The sun is the same in a relative way, but you’re older

Shorter of breath and one day closer to death

’n Treurwilg

Op Nuwejaarsoggend het ek my hoogs bejaarde ouma gebel waar sy in ’n ouetehuis in die Noorde versorg word. Ek het haar ’n voorspoedige Nuwejaar toegewens. Sy het gesê sy is bly om my stem te hoor en dat sy juis aan my lê en dink het.

Later die dag, teen skemer, het ek teen Tafelberg gaan stap. In die gruispad wat horisontaal teen die voet van die berg langs kronkel, het ek drie skerfies blou-en-wit porselein opgetel.

Op een skerf was die tak van ’n treurwilg sigbaar.

*Murray La Vita is 'n redaksielid van Netwerk24. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Pandemie  |  Churchhaven  |  Vakansie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.