Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Menings
Herman Lategan: Al pik die rooi haan, jy sê dit nie vir Petrus

lotuseter. S.nw. Hy is te veel van ’n lotuseter om hom in te span. Hy is besonder lui of ’n droomverlore niksdoener. Die lotus is die heilige blom van Boeddhiste. – “Wat praat jy!” (Saamgestel deur Johanna de Wet.)

Hierdie rubriekskrywer was die afgelope tyd by drie leeskringe: Oranjezicht, Kampsbaai, en ook in Johannesburg (by die welbelese Bibliosiele). By elke een was daar die vraag: “Wat het geword van ons lieflike idiome?”

Daar was ook ’n lewendige belangstelling in Kaaps en baie van die ander variëteite wat Afrikaans se hart laat klop.

Tog lyk dit asof vele stedelike Afrikaners ’n tipe steriele Afrikaans praat, gestroop van ou sêgoed wat kleur en lewe aan gesprekke gee. Dit is soos ’n sambalslaai sonder die sambal.

Die een vrou het vertel haar kleinkinders ken skaars enige idiome, omdat die vak so vervelig op skool aangebied word. Asseblief, dit mag eenvoudig nie gebeur nie. Kry tog ’n eksemplaar van Wat praat jy! en speel vasvrakompetisies by die huis met die kinders.

Verras jouself en kyk hoe baie van die uitdrukkings wat jou ouers of grootouers destyds op die platteland gebruik het jy nog onthou. Hou ’n eksemplaar langs die katel en lees een elke aand. Moenie jou gesprekke vaal en vervelig hou deur soos ’n robot te praat nie.

Het jy jig in jou toon? Dan loop jy mos soos ’n hoender wat wintervoete het (ongemaklik).

Nou die dag vertel ’n vriend van my “hy het ’n bors aan hom”. Dit is nou ’n hoes, die bors pla. Jy kan dit nie in Engels sê nie. He has a chest on him? Have you ever!

Een vrou van die Oranjezicht-leeskring wat lyk asof botter nie in haar mond kan smelt nie, vertel van ’n sêding uit Namakwaland. Wat sê jy as iemand pas dood is? Sy poep is koud.

Gelukkig het tye verander, want as sy nog op skool was, sou sy bobbejaanboud vir daardie woord gekry het.

Het jy jig in jou toon? Dan loop jy mos soos ’n hoender wat wintervoete het (ongemaklik). Hulle vermoed jig word vererger deur rooiwyn. Was jy weer hoog met die boud (besope) gewees?

Gepraat van boude. As jy latjieboud is, het jy maer boudjies.

Nog op die onderwerp van hoenders. Daar is dié spreekwoord: As Petrus by is, praat ’n mens nie van ’n haan nie. Met ander woorde, dit sal nie sensitief wees om daardie onderwerp aan te roer as jy daardeur onaangename gedagtes by iemand anders wakker maak nie. Die haan se gekraai het die Bybelse Petrus aan Jesus se woorde herinner.

In Anton F. Prinsloo se woordeboek, Annerlike Afrikaans (ook ’n belangrike toevoeging tot enige huisbiblioteek), word daar gepraat van jy is met die rooi haan gepik. Jy is dronk, en dit is glo in Wynberg van alle plekke opgeteken.

Sommer vir die lekkerte, nog een uit dieselfde boek. In hierdie dae van duur kospryse is daar dalk ’n paar van ons wat net ’n bos hoendervere in die bank het. Dis wat die mense van Ladismith sê as jy niks besit nie.

Toe nou, laat ons ons idiome herontdek, ander sit ons net met ’n skamele bos hoendervere in Afrikaans.

Meer oor:  Woorde Wat Wip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.